Ons Soek Vleis!

23 July, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ons Soek Vleis!

Numeri 1, 9 en 11:4-23

???? VIDEO | ???? OUDIO

‘n Volle jaar het soos ‘n oogwink verbygevlieg sedert Moses daardie heuglike dag die volk Israel met groot gejuig uit Egipte uitgelei het. Die volk kry opdrag om gereed te maak vir Paasfees. Moses laat sy gedagtes terugdwaal oor die afgelope jaar. Watter asemrowende dinge het daar nie al in hierdie jaar gebeur nie. Dit voel soos gister wat hulle triomfantlik uit Egipte gestap het. Hy glimlag as hy terugdink hoe die Here hulle deur die Rietsee laat gaan het, en hoe hulle agtervolgers deur die watermassa verswelg is. Met groot ontsag dink hy aan die gebeure daar by die berg, en dan vervies hy hom opnuut vir sy broer, Aäron, wat saamgespeel het om die verfoeilike goue kalf te maak!

Intussen het hy maande lank gewerk om die wetboek saam te stel met al die verskillende voorskrifte soos God dit vir hom gegee het - voorskrifte vir die priesters, oor reinheid, offerandes en hoe om op te tree teenoor iemand wat die een of ander velsiekte het. Daar is voorskrifte oor seksuele verhoudings, feeste en weereens offerandes en nóg offerandes!

En toe kom die bevel van God dat hy ‘n sensus moet hou om al die weerbare manne in afdelings in te deel. Moses was stomgeslaan toe hy hoor hoeveel manne daar is wat geskik is vir militêre diens - meer as 600’000 manne. Dit sluit nie die manne uit die stam van Levi in nie want hulle word vrygestel van militêre diens omdat hulle diens moet doen as priesters.

“Dankie Here,” sug Moses, “U het ons so ver gebring. Dankie dat U steeds elke dag saam met ons is en dat ek U kan sien in die wolk wat elke dag die Tent van Ontmoeting omgewe asook in die vuurkolom wat elke nag die kamp van Israel verlig!”

Paasfees het gekom en Paasfees het gegaan. Dit was ‘n heuglike dag! Die Israeliete het kamp afgebreek en verder getrek tot waar God hulle gewys het waar om te stop. “Wonderlik,” dink Moses, “hoe die Here elke keer wanneer ons moet trek, die wolkkolom van die tent af laat lig. En daar waar Hy wil hê dat ons moet uitspan, daar het Hy die wolk laat sak.”

“Ek kan dit nou nie meer vat nie!” hoor Moses een mooi oggend iemand kerm. Hy spits sy ore om te hoor waaroor die kabaal gaan.

“Ek wurg nou al aan hierdie manna” hoor hy ‘n tweede persoon kla.

“Ja,” mor ‘n derde kêrel. “In Egipte het ons minstens darem vleis gekry om te eet, én vis in oorvloed.”

“Oeeee - komkommers en waatlemoene, preie, uie en knoffel - ek sal my voortande gee vir heerlike kraakvars groente!” droom nog een. “En wat kry ons? Manna, manna en nogmaals manna. Dit peul al by my ore uit! Ek kan dit nie meer vat nie!”

Dit neem nie lank nie, voordat die volksleiers vir Moses kom spreek. “Die mense is bitter ongelukkig”, kla hulle. “As ons tog net vleis gehad het.......”

Moses is bitter omgekrap. Die afgelope jaar nou al kan hierdie mense niks anders doen as kerm en kla nie. Hulle is met niks tevrede nie. “En hierdie spul kermkouse is almal my verantwoordelikheid!” sug Moses. “Here,” hef hy sy stem hemelwaarts, “waarom behandel U my so sleg? Waarom moet ek al hierdie verantwoordelikheid alleen dra?” Moses se moed is totaal gebreek: “Here, ek was tog nie swanger nie? Ek het tog nie hierdie volk in die wêreld gebring nie? Ek is tog nie hulle moeder nie?” Moses se hart is stukkend oor die volk: “Here, nou kerm hulle alweer oor vleis ‘Gee vir ons vleis om te eet!’ het hulle vir my gesê. Waar moet ek vleis vandaan kry Here?”

Moses sug mistroostig - die lewe druk verskriklik swaar op sy arme twee skouertjies: “Here, ek sien nie meer kans vir hierdie volk nie. As U wil, kan U my maar liewer om die lewe bring, want ek kan dit rêrag nou nie meer vat nie!” En dan sug Moses weer hartverskeurend swaar…...

Maar dan antwoord die Here vir Moses: “Bring vir my sewentig van Israel se goeie leiers.” kry Moses ‘n opdrag, “Ek sal die Gees wat op jou is ook op hulle laat kom sodat hulle saam met jou die verantwoordelikheid kan dra.” Moses wil opspring en die manne loop haal, maar die Here is nog nie klaar nie: “En gaan sê vir die volk dat hulle hulleself moet reinig, want môreoggend gaan hulle vleis eet. Hulle gaan vir dertig dae lank elke dag vleis kry totdat hulle siek word daarvan en dit hulle walg!”

“Here, waarvandaan gaan al die skape en beeste moet kom om so ‘n groot klomp mense vir ‘n maand lank kos te gee?” kla Moses ongelowig, “As al die vis in die see gevang word, sal daar nie eers genoeg wees vir hierdie volk nie......”

“Moses, dink jy miskien dat Ek nie die mag het nie? Maar toemaar - kyk maar self....”

Tóg snaaks hoe gou ‘n mens vergeet van die wonderlike dinge wat die Here vir jou doen. Sodra dit ‘n bietjie swaar gaan, dan kerm en kla jy. Selfs die gelowige Moses het aan die kerm gegaan. Kom ons vertrou die Here - Hy is immers almagtig!

Gebed:

Here, ek wil U loof vir al U wonderdade. Behoed my asseblief daarvan dat ek nie ook moedeloos raak soos Moses nie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026