Hebreërs 4:1-11
Was jy al ooit moeg gewerk, rêrag pê-moeg? Ek was die afgelope ruk al dikwels by daardie punt waar ek net voel dat ek ‘n vakansie met baie rus baie dringend nodig het! Maar vir arme ekke is daar géén rus nie want die werk lê in hope en wag en daar is net eenvoudig nie tyd vir ‘n vakansie nie! Ai tóggie......
Waterval Boven was in die sestigerjare ‘n baie groot spoorwegsentrum en alles en almal was verbonde aan die Spoorweë. Daardie jare was spoorwegpersoneel verplig om op 55 af te tree. Die jare se sweet op die stoomtreine het gemaak dat ‘n man teen 55 fisies uitgeput was. En almal het met groot verlange uitgesien na daardie rus. Maar die manne se rus was gewoonlik maar van korte duur, want binne enkele jare van stoepsit en niksdoen was hulle op nog ‘n redelik jeugdige ouderdom al ses voet onder die grond! Waarom? Die skielike niksdoen na ‘n leeftyd van harde arbeid was só ‘n skok op hulle gestel, dat hulle net weggekwyn het…...
Maar dalk moet ons ‘n slag gaan kyk wat die ware betekenis is van die woordjie “rus”. Dit word so maklik misverstaan. Vir die meeste van ons is dit om te ontspan en absoluut niks, of dan ten minste so min as moontlik te doen. Vir ander beteken rus iets heeltemal anders: dit is om op te hou doen wat jou heeldag besig hou, en iets totaal anders in die plek daarvan te doen. As jy dus heeldag voor die rekenaar sit en werk, sal rus dalk beteken dat jy dit gaan uitsweet in ‘n gimnasium of die tuin omspit, of dalk net ‘n entjie gaan stap of draf.
Die lekkerste rus wat jy my kan gee, is om my ‘n week of twee iewers in die ongerepte bos te laat bly, weg van al die moderne geriewe. Om 'n tentjie op te slaan en hout te gaan soek in die veld vir die aand se braaivuurtjie, is gladnie moeite nie. En om kilometers te stap en my pad oop te baklei deur onbegaanbare doringbosse om die een of ander voëltjie te gaan soek, is pure lekkerte. En om dan stokflou op my kampstoeltjie neer te val aan die einde van die dag …... dis nou lékker rus!
Ons lees in Genesis 2:2 dat God gerus het op die sewende dag nadat Hy klaar was met die skepping. Hoe het God gerus? Deur op te hou skep en die skepping te onderhou! God se rus was dus nie ‘n niksdoen-rus nie, maar ‘n iets-anders-doen-rus. Sondag is ons weeklikse rusdag. Hoe bring ‘jy dit deur? Deur te sit en niksdoen? Nee, jy gaan kerk toe; neem aktief deel aan die erediens; gee sondagskool; doen dalk hospitaalbesoek; nooi iemand (dalk ‘n eensame persoon) uit vir ete; kuier saam met jou gesin of vriende; spandeer tyd aan Bybelstudie of geestelike werk waarvoor jy andersins nie tyd het nie. Met ander woorde, dit behels dat jy God dien en goed doen aan ander mense.
Daar is egter ‘n ander soort rus waarvan hier ter sprake is: die ewige rus wat op gelowiges wag - die rus saam met God in die hemel. Die vraag is of elke gelowige daardie rus gaan smaak. Volgens Hebreërs 4:1 is dit dalk nie ‘n uitgemaakte saak nie - jy kan jou “paspoort” verbeur! Judas is ‘n klassieke voorbeeld: hy het Jesus intiem geken, maar op ‘n dag besluit dat hy nie meer glo nie. Die gevolge was tragies. In ’n vorige oordenking het ons gesien hoe leraars wat gelowig die Woord van God verkondig het, totaal die spoor byster geraak het en nou Godslasterlike dinge verkondig. Kan hulle God se ewige rus ingaan? Ek wonder maar net. Die ewige rus is nie outomaties aan Christenskap gekoppel nie - daar is dalk sommige wat kan agterbly! Oor hierdie vraag is al baie debatte gevoer, en daar is nie eenstemmigheid daaroor nie. As jy my sou vra of ek glo dat ‘n gelowige sy kans om die ewige lewe te kry kan verbeur, dan moet ek antwoord: “Ek is nie seker nie, maar ek gaan beslis nie kanse waag nie!”
Wat beteken dit? Ja, natuurlik is dit slegs geloof in Jesus wat my kan red. Maar dit vra van my om daaraan te werk, en hierdie geloof in stand te hou en gedurigdeur te versterk. Om te dink dat so af en toe se Bybel lees, bid en per geleentheid kerktoe gaan, genoeg is, maak jy ‘n groot fout. Dit kos harde werk om jou geloof sterk en lewendig te hou. Terselfdertyd is daar die kwessie van die wet van God. Nee, ek verwerf beslis nie saligheid deur die wet te onderhou nie - alleen Jesus se versoening gee saligheid. Maar as ek die wet by die venster uitgooi, maak ek ’n bespotting van God se heiligheid. Natuurlik is dit ook nie daardie harde werk in die Koninkryk wat jou die ewige rus gee nie, maar as jy dit nie doen nie, glip jy so rus-rus al hoe verder van jou geloof af weg, totdat jy dit uiteindelik dalk totaal kan verloor.
Ja, ek ken hulle - mense wat eens aktiewe gelowiges was, en wat so rus-rus weggedryf het, sodat jy hom vandag gladnie eers meer as ’n gelowige herken nie. As jy dalk een van hulle is, wil ek vandag baie dringend vir jou vra of jou geloof in Jesus ooit nog stewig staan. Indien wel, vir hoe lank dink jy dat jy nog kan uithou voordat jy vir ewig wegdommel die ewige verderf in? Word wakker! Doen vandág iets aan die saak voordat dit dalk vir ewig te laat is!
Gebed:
Here, skud my asseblief wakker uit my rus - lei my om die tyd uit te koop en te werk in U Koninkryk.