Om Kind van God te Wees

1 August, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Om Kind van God te Wees

Romeine 8:14-17

VIDEO | OUDIO

Wat beteken dit om iemand se kind te wees? Vanoggend wil Paulus hierdie vraag beantwoord uit sy brief aan die Romeine.

Ek onthou nog soos gister, daardie tye saam met my Pa toe ek 'n klein seuntjie was. Hy was iemand na wie ek met groot trots opgesien het! Hy was ‘n lang man en omdat ek nog maar ‘n klein seuntjie was, het hy vir my nog soveel groter en sterker voorgekom. Dikwels het ek saam met hom in die veld gaan stap op ons plaas, natuurlik altyd kaalvoet. En soms het ons deur ‘n lap duwweltjies gestap, dan het hy vir my gesê dat ek net moet sorg dat ek in sy voetspore trap, want daar het hy klaar getoets vir dié geniepsige dorings. Hy het sélf ook kaalvoet geloop. Ek onthou nog hoe moeilik dit was om in sy voetspore te volg, want sy treë was lank en my ou beentjies maar bitter kort. Maar dit was ‘n uitdaging en ek wóú dit doen.

Ek sou enigiets vir my pa doen, want ek was lief vir hom en hy het my soveel liefde gegee. Hy het my lewensvaardighede geleer en vir my ‘n geloof in die lewe gegee. Ek het my lewe met kinderlike geloof aan hom toevertrou. Hy was immers my pa!

Onthou jy nog daardie spesiale tye met jou pa?

Ons het die afgelope paar oordenkinge telkens gesien wat die lot van slawe was en vandag nog steeds is. As jy egter uit die slaaf se oogpunt na die lewe kyk, sien jy dat hy met onvergenoegdheid, haat en wraak in sy hart loop. Vir sy baas doen hy net die absolute minimum wat voorgeskryf word, want wat voel hy in elkgeval vir die ou tiran?! Van persoonlike liefde vir daardie man is daar géén sprake nie! Agteraf sal hy nie skroom om sy baas sleg te sê of selfs uit te vloek nie, solank die baas dit net nie te hore kom en hom dalk straf nie! Hy kyk met hoeveel hy kan wegkom solank hy asseblieftog net nie uitgevang word nie, want dan is die vet in die vuur! Hy vermy gesprekke met sy baas, praat net met hom as dit rêrag moet of as hy iets nodig het. As hy die dag hard werk, is dit om één enkele rede alleen, sodat hy daarvoor beloon sal word. En dan leef hy gedurig in vrees vir daardie straf wat enige oomblik kan kom!

Verskriklik, is dit nie! Maar weet jy, sommige gelowiges leef dikwels met daardie selfde slawementaliteit teenoor God! Gaan dink maar ‘n bietjie mooi daaroor na. Is dit nie só dat ons baiemaal net die absolute minimum doen om God te probeer gelukkig hou nie? Ek hou so ‘n tou-innie-bek stiltetydjie en prewel ‘n gebed omdat dit van my verwag word. Ek gaan kerktoe want dit sus my gewete, dan het ek mos darem my weeklikse plig gedoen!

Is daar werklik ‘n persoonlike liefdesverhouding tussen my en God? Het ek werklik daardie ontsaglike respek vir Hom, soos wat ek vir my pa gehad het? Ek kry diep seer as iemand praat van “Die Oukêrel daar bo.” Nie eers gepraat van om God se heilige Naam as ‘n vloekwoord of uitroepteken te gebruik nie! Ja, en dan kyk ons soms met hoeveel ons kan wegkom, hoeveel sonde ek kan doen sonder dat God dit agterkom. Maar ek is darem versigtig, want as God my uitvang gaan ek braai (letterlik en figuurlik!). Dikwels vermy gelowiges persoonlike gesprekke met God. Bid net die nodigste, veral as ons iets kortkom. En is dit nie só dat sommige gelowiges nog steeds goeie werke doen slegs om ‘n beloning van God te kry nie? En dan is daar die straf van God waarvoor ‘n mens altyd uitkyk en om elke draai verwag......

Ons moet onthou dat gelowiges kinders van God is, nie slawe nie. ‘n Kind leef in ‘n verhouding van persoonlike liefde en blydskap teenoor sy aardse pa. Sal ek dan nie presies dieselfde gesindheid en nog báie meer openbaar teenoor my Hemelse Vader nie?

Weet verséker dat jy met groot vrymoedigheid in Sy dierbare arms kan spring en uitroep “Pappa, Vader!” Hy het my só innig lief en daarom sal ek enigiets vir Hom doen, nie maar net om Hom gelukkig te hou nie! Of om die een of ander beloning te kry, of dalk straf vry te spring nie. Ook nie net omdat dit van my verwag word nie. Ek doen dinge vir die Here omdat ek lief is vir Hom!

En ek sal enigiets doen om Hom te plesier. ‘n Spontane, persoonlike gesprek met Hom is mos net ‘n natuurlike uitvloeisel van die liefdesverhouding met Hom. Agter Sy rug sal ek natuurlik ook net die mooiste dinge van Hom sê en sy goeie Naam met hand en tand verdedig, want Hy is immers my Pa! As iemand iets slegs van my pa gesê het, sou hy beslis met my te doene gekry het! Niemand sou my pa beledig nie! Hoeveel te meer nie my Vader in die Hemel wat nog soveel meer vir my beteken!

Hy gee vir my Sy wonderlike vrede en daarom sal ek selfs in swaarkry steeds met blydskap aan Sy hand vashou. Jesus het immers ook swaarkry geken en dit is net die voorloper van ‘n onbeskryflike heerlikheid wat nog wag.

Gebed:

Here, my Here, ek jubel en juig want ek is U kind! Dankie dat ek my in U wonderbare arms kan toevou!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026