Lukas 9:23-27
23 Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën, en elke dag sy kruis opneem en My volg.”
Wat beteken dit om Jesus te volg? Iemand het eenmaal gesê dat om ‘n Christen te wees, beslis nie vir sissies is nie!
Hierdie is beslis ‘n feit – so het ek dit ‘n paar jaar gelede dééglik agtergekom! Ons gemeente het saamgespan met ‘n klein, arm Indiër gemeente in Shakas Kraal om op ‘n sending uitreik in Mosambiek te gaan. En nét daar besluit ek om saam te gaan.
Wat aanvanklik vir my gelyk het na ‘n groot “avontuur”, moes ek baie gou uitvind dat dit gladnie maanskyn en rose was nie. Baie ure se ry op paaie wat byna onbegaanbaar was, was maar net die begin. Die omstandighede was uiters primitief. Ons moes op die grond slaap en die muskiete en vlieë het ons weggedra! Versengende hitte, sand in alles, stof en lang ure se harde werk.
Hierdie was maar slegs ‘n ou klein voorsmakie van wat sendelinge dikwels deurmaak om die evangelie te versprei. Een so ‘n sendeling het my vertel van hulle werk in die oerwoude van Papua New Guinea, waar hulle ‘n paar jaar in haglike omstandighede moes werk voordat die eerste bekeerling daar was. Hullle was totaal afgesny van die buitewêreld en hulle moes ‘n onbekende taal bemeester om te kon kommunikeer met wat jy net kan beskryf as ‘n barbaarse volk.
My wederhelf se neef is ‘n sendeling in die verste uithoeke van Zambië, en hy het al ‘n paar keer malaria opgedoen. Gevaarlike werk!
Jesus het vir Sy volgelinge gesê, dat as hulle Hom waarlik wil volg, gaan dit van hulle ‘n paar baie moeilike dinge vra: Selfverloëning, Kruisdra en Navolging. Maar wat beteken dit in die praktyk?
Selfverloëning beteken dat jy moet afstand doen van die dinge wat normaalweg vir jou ware menswees beteken. Die héél belangrikste persoon in enige mens se lewe is jyself. Daar is by jou ‘n ingebore oorlewingsdrang, wat beteken dat jy jouself tot die dood toe sal verdedig en veg vir oorlewing. Hierdie drang word gewoonlik baie verder gevoer as net oorlewing. Jy raak selfgesentreerd, en die hele wêreld begin later slegs om jóú draai. Hierdie hele gedagte bereik ‘n toppunt wanneer jy nie meer omgee wie in die slag bly nie, solank jy net jou eie doelwitte kan bereik en jouself verhef bo elke ander sterfling. En dit is nie net die “groot” name van Hitler en Nero wat ons hier noem nie. In die alledaagse lewe is daar talle sulke mense waarmee ons elke dag in aanraking kom.
Feitlik alle mense streef in ‘n meerdere of mindere mate na hierdie hoogte waar jy as persoon verhef is. Aan die teenoorgestelde skaal is daar die ongelooflike voorbeeld van ‘n sekere soort spinnekop, waar die wyfie haar eie liggaam prysgee om lewendig opgevreet te word deur haar kleintjies sodat hulle kan lewe en krag kry om die wêreld in die oë te kyk. Dit klink verskriklik! Maar dit is presies wat selfverloëning beteken. In die bosoorlog in Angola was daar die verhaal van ‘n jong man wat op ‘n handgranaat geval het en in die proses homself aan flarde geblaas het om te keer dat sy makkers almal in die ontploffing omkom. Dit is ware selfverloëning.
Selfverloëning beteken dat jy begin ophou om aan jouself alleen te dink, en dat ander mense se nood en behoeftes bo aan jou agenda begin staan. Dit beteken dat jy sekere opofferings in die lewe sal moet maak, want jou eie gemak en wêreldse plesier moet dikwels prysgegee word ter wille van ander mense se nood. Kruisdra en navolging is beide natuurlike uitvloeisels van selfverloëning.
Beteken dit dan dat as jy waarlik jou Christenskap wil uitleef, dat jy noodwendig ‘n lang gesig sal opsit en aan die wêreld wys hoe swaar jy kry? Nee, beslis nie! Iets wat my veral besonder opgeval het van die groep mense wat saam met my op die sendinguitreik was, was die humor en blydskap en vrolikheid wat gestraal het uit elkeen van die mense, selfs te midde van groot swaarkry! Sendelinge wat deur diep waters gegaan het, is stralend van vreugde en liefde.
Jesus sluit af deur die luisteraars te verseker met die belofte dat diegene wat bereid is om Hom op hierdie wyse te volg, beslis nie die dood sal smaak voordat hulle waarlik die Koninkryk van God gesien het nie. Is dit dalk waarom hierdie mense so blom? Beslis! Daar op die sendingveld in Mosambiek het ek die Koninkryk sien kom onder die armste van armes wat kilometers ver geloop het om die boodskap van Jesus te kom hoor!
Gebed:
Here, dankie vir die talle mense wat bereid is om alles op te offer vir U Koninkryk.