O Blye Dag!

8 April, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie O Blye Dag!

Genesis 21:1-21

Video

Audio

Daar heers ongekende vreugde in die Abraham-huishouding. Voor die toegeknoopte tent stap Abraham ongeduldig op en af: “Hoe lank nog?” Maar al wat hy kry is ‘n niksseggende antwoord daar van binne. Hy hoor hoe sy gryse ou vrou kerm van die pyn, maar sy hande is afgekap. Sal sy ooit die geboorte oorleef op haar hoë ouderdom?

En dan hoor hy die mooiste geluid wat hy nog óóit in sy lewe gehoor het: ‘n babatjie wat sy eerste skree gee. Die honderdjarige Abraham gee ‘n wilde bokspring: “Is dit toe ‘n seun? Is dit ‘n seun?”

“Abraham, jy is die pa van ‘n gesonde seun!” Die nuus uit die tent laat die honderdjarige ou man ronddans van pure uitgelatenheid. “En terloops, met Sara gaan dit óók baie goed, dankie!”

Abraham doen ‘n riel voor die tent rond dat die stofwolke so staan: “Isak, my seun,” sing hy “Ek het ‘n seun, en sy naam is Isak, Isak, Isak!” Hy gee ‘n paar stuitige bokspringe soos ‘n wafferse jong mannetjie.

Daardie aand brand die vreugdevure baie hoog, en daar word feesgevier tot dagbreek toe. Skaars agt dae later is daar wéér groot makiti toe klein Isak besny word. Nou dra hy die teken van God se verbond, en nou weet Abraham dat God Sy beloftes altyd gestand doen.

Isak se geboorte was sékerlik die grootste gebeurtenis óóit in Abraham en Sara se lewens. Die aanvanklike belofte wat God aan hulle gemaak het, het nou ‘n werklikheid geword. Dit was egter nie Abraham of Sara se verdienste wat dit bewerkstellig het nie. Inteendeel, hulle het albei menigmaal getwyfel of die belofte óóit kon waar kom. Hulle het selfs so ver gegaan om God te probeer help om die belofte waar te maak. Die boodskap hieruit aan jou en my, is dat ons nie moed moet verloor nie, maar aanhou glo, maak nie saak hoe onmoontlik omstandighede dalk mag lyk nie.

Hiermee val die klem al minder op ons as twyfelende mense, en al meer en meer op die geloofwaardigheid van God. Hierdie verhaal wil dus vir ons sê dat dit God bekend stel as die Een wat aan Sy Woord getrou is. Dit stel ons bekend aan die Een wat ons as mense se swakhede ken, en wat selfs ten spyte van ons twyfel Sy heilige doel bereik. Maar Hy is ook die Een wat ons behoeftes en ons hartsverlangens deur en deur ken en dit dikwels gebruik om iets baie groter te bereik.

God wil hê dat ons iets van onsself in Abraham en Sara moet raaksien. Dit is juis ook daarom dat Hy nie dooie stellings gebruik om gedagtes oor te dra nie, maar lewende verhale wat jou aan die hart gryp. Hy gebruik verhale vol passie en hartseer, twyfel en blydskap. Hy gebruik verhale wat jou hart warm laat klop.

Wanneer ons Abraham en Sara se verhaal lees, kan ons nie anders nie as om maar net te besef dat hierdie gebeurtenis ‘n groot wonderwerk is wat ver bo die mens verhewe is, want dit is tog gans onmoontlik vir ‘n honderdjarige man en ‘n negentigjarige ou vrou om kinders voort te bring!

Drie jaar later is daar alweer gróót fees gevier: Sara het vir klein Isak gespeen, en dit was genoeg rede om groot makitie te hou. Maar alles was nie wel in die Abraham-huishouding nie, want Ismael het vir klein Isak gespot. Hy het Isak uitgelag! Daarvan het Sara net mooi niks gehou nie. Dan kom iets lelik van Sara na vore, en sy eis dat Abraham vir Hagar en haar seun Ismael moet wegjaag. Hulle is immers slawe, en wie weet, dalk wil Ismael nog ‘n deel van die erfporsie vir homself opeis! Hy ís immers Abraham se kind!

Dit is ‘n droewige prentjie wat vir ons geskets word: Abraham se gewete het hom gepla oor die bitsige dinge wat Sara gesê het, maar hy het geen ander keuse gehad as om hulle die woestyn in te stuur nie. Met genoeg kos en water om hulle ‘n week of wat aan die lewe te hou, vaar Hagar en Ismael die Bersebawoestyn in.

Water hou egter nie vir ewig nie, en ‘n paar dae later is dit ‘n moedelose, verontregte Hagar wat haar seun onder ‘n doringboom laat om te sterf van die dors. ‘n Ent daarvandaan gaan sit sy en huil. Hierdie kind was tog nie haar skuld nie! Dit was Sara sélf wat daarop aangedring het dat sy vir Abraham ‘n kind in die wêreld moes bring. Waarom moet sý nou die prys betaal?

Maar weereens gryp God in. Hy hoor die gehuil van die kind, en dan praat die “Engel van die Here” (Jesus) met Hagar uit die hemel. “Moenie bang wees nie,” sê Hy vir haar. En dan verseker die Here haar dat Hy van Ismael ‘n groot nasie sou maak.

Dan skielik, gaan Hagar se oë oop en sy sien die put raak. Sy kan die watersak gaan volmaak en vir haar dors seuntjie gee om te drink. Ismael sou die vader word van ‘n menigte woestynbewoners, geharde mense wat in die Paranwoestyn rondswerf.

Weereens sien ons hoe God Sy beloftes waar maak. Vertrou jy Hom ook?

Gebed:

Here, dankie dat ons net weereens uit hierdie verhaal kan leer van U trou.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026