2 Johannes
Met die koms van internet het ons die kuns (en die heerlike lekkerte!) van briefskryf byna totaal verloor. Ek sê “byna”, want so af en toe ontvang ek nog ‘n heerlike lekkerleesbrief oor die internet. Ongelukkig is die meeste “briewe” wat ek kry maar net ‘n ou notatjie wat baie haastig geskryf is. Die lewe het gans te gejaag geword, en daar is net eenvoudig nie meer tyd om te sit en skryf nie.
Ai, ek onthou nog as kind die briewe wat ons elke dag ontvang het. Oupa het elke oggend van die plaas af gery poskantoor toe, en dan die stapel briewe uitgehaal. Terwyl hy daar langs die posbus gestaan het, het hy hulle al een-vir-een oopgemaak en vinnig gelees. Hy kon nie nog sy nuuskierigheid hou en wag om by die huis te kom nie! Natuurlik het die briewe dan by die huis van die een na die ander gegaan totdat almal hulle ’n paar keer oor en oor gelees het. En dan is die inhoud van die briewe tot vervelens toe bespreek!
Daardie briewe was die verlengstuk van die skrywer se persoonlikheid. Omdat hy nie persoonlik, mens-tot-mens met jou kon gesels nie, het hy sy hart en siel uitgestort op die stukkie papier.
Ja, ek onthou nog so goed soos gister, toe ek in die weermag in ‘n tent op Potchefstroom se stowwerige vlaktes gesit het, dolverlief. My Mosbolletjie was bitter ver van my af, en die verlange was baie groot. Saans het ek in die tent gesit en my liefde op 'n stukkie papier uitgestort. As daardie Jeep soggens in ‘n lang stofstreep van die dorp af kom, staan ek al klaar en op en af spring van ongeduld en opgewondenheid: sal daar vanoggend vir my ‘n brief wees van my geliefde? Die heerlike parfuum-geur van die brief is ingedrink, en dan met bewende hande het ek dit oopgemaak, vinnig deurgelees, en dan onder ‘n boom gaan sit en elke woord ingedrink, oor en oor en oor. Ai.....! O, die nostalgie!
Dit was êrens in Klein Asië. Iemand kom die oggend by die gemeenteleier aangestap met ‘n papirusrolletjie, netjies opgerol en verseël met ‘n druppel was. As die ontvanger die seël versigtig breek, bewe sy hande, want hy voel sommer aan dat hierdie brief groot betekenis het. “Van die oudste”, lees hy. “Dis van die Apostel Johannes af”, verduidelik hy onnodiglik vir die briefdraer wat beteuterd eenkant staan. “Vrou! Vrou! Ons het ‘n brief gekry van Johannes!” Hy is so opgewonde dat hy sy lag nie kan hou nie. “Aan die uitverkore vrou en haar kinders,” lees hy verder. “Ek moet sommer dadelik reël dat die gemeente bymekaarkom,” dink hy hardop. Dis nie juis ‘n baie lang brief nie. Die hele brief pas net mooi in op een standaard papirusvelletjie. Vinnig lees hy die brief deur, en dan hardloop hy so vinnig as wat sy voete hom kan dra na ‘n ander gemeentelid. “Kyk net wat het ons gekry!” beduie hy opgewonde. Die nuus versprei soos ‘n veldbrand, en daardie selfde dag nog is die hele gemeente bymekaar om te kom luister wat Johannes skryf. Baie dramaties lees die gemeenteleier die brief voor tewyl jy ‘n speld kan hoor val. Elke woord word ingedrink. Die brief word weer en weer gelees, totdat elke stukkie simboliek uitgepluis is.
“Ja, hier het julle dit gehoor: ons moet mekaar liefhê! Apostel Johannes skryf sélf so!” lewer een kêrel kommentaar op die brief.
“Ja, maar is dit nodig dat dit so oor en oor gesê word?” wil iemand anders weet.
“Natuurlik! Hy sê dit so baie omdat dit so verskriklik belangrik is. As daar nie liefde is nie, beteken ons geloof net mooi niks! En boonop beteken daardie liefhê ook dat ons volgens God se gebooie leef. Hier staan dit in die Apostel se brief.” Daar is ‘n onderlangse gebrom soos almal saamstem dat onderlinge liefde beslis ‘n baie belangrike ding is.
“Ek verstaan nog nie mooi van die antichris nie”, kerm een ou daar uit die agterbanke uit.
“Maar het jy dan nie geluister wat Johannes skryf nie? Dis die mense wat so knaend probeer om die dinge wat ons geleer is omver te werp. Dan wil hulle hulle eie teorieë oor die Evangelie op ons afdwing. Jy moenie eers jou ore aan hulle uitleen nie! Vermy hulle, want net miskien kan hulle jou ook beïnvloed. Bly liewer heeltemal weg van hulle af.”
“Ja,” beaam een van die wyse ou manne, “die dinge wat Johannes ons geleer het oor Christus - dit is die wáre leer van God! As jy daaraan verander, misken jy God. Maar as jy bly vashou aan hierdie geloof en dit uitleef, dan erken jy eintlik vir God vir Wie Hy wáárlik is.”
Daardie aand word daar baie laat kerk gehou, en die kort briefie met sy skamele 245 woorde word oor en oor bespreek tot in die kleinste detail. Wat Johannes op daardie papirusrolletjie geskryf het is vandag nog nét so vars, relevant en belangrik vir my en jou, byna ‘n volle tweeduisend jaar later. Die boodskap, dat ons mekaar moet liefhê, en dat ons moet wegbly van die “antichris,” staan steeds vas.
Gebed:
Vader, ek dank U vir daardie briefie van Johannes. Skryf asseblief die liefde op die papirus van my hart sodat ek dit kan uitleef met alles binne in my.