Lukas 9:51-62
Die tyd het aangebreek vir Jesus se laaste reis, en Hy het Sy dissipels meegedeel dat hulle na Jerusalem moes vertrek, ‘n reis wat hulle sekerlik ‘n goeie tydjie sou neem. Op hierdie stadium was hulle nog doenig in die omgewing van die meer van Galilea, en Jerusalem het reg suid gelê, sowat 150km se stap. In vandag se terme is dit skaars ‘n uur of twee se ry, maar ons moet onthou dat hulle die reis te voet sou aanpak, en dat dit maar harmansdrup-stadig sou gaan, want oral langs die pad was daar hordes mense wat dringend Jesus se aandag nodig gehad het. Boonop sou daar vele konfrontasies op hierdie stukkie pad wees met kerkleiers wat Jesus uit die weg wou ruim. Maar Jesus het ook van hierdie geleentheid gebruik gemaak om vir oulaas die twaalf manne te onderrig. Daar was nog so baie wat hulle moes leer, en die tyd het uitgeloop.
Dit is tóg interessant dat Lukas sê dat die tyd nader gekom het dat Jesus in die hemel opgeneem sou word. Hy verwys gladnie na die kruisdood en lyding wat op hande was nie. Vir Lukas was die hemelvaart die groot hoogtepunt, maar die lyding, kruisiging en opstanding word natuurlik saamgevat in hierdie opmerking.
Hulle eerste bestemming was ‘n dorpie in Samaria. Iemand is vooruit gestuur om die verblyf vir die reisgeselskap te reël, maar dan kom die eerste terugslag wanneer die Samaritane weier om Jesus in hulle dorp te ontvang. Die gordyn word as’t ware vir ons op ‘n klein skrefie oopgetrek sodat ons kan loer na wat nog sou volg. Eintlik het die mense nie juis iets teen Jesus persoonlik gehad nie, maar die feit dat hulle op pad na Jerusalem was, het die Samaritane se bloed laat kook. Sien, hulle en die Jode was nou nie juis beste maatjies nie. Dit het begin by ‘n onderonsie baie jare tevore, toe die tempel ná die ballingskap herbou moes word. Die Samaritane wou kom help met die bouwerk, maar die Jode het geweier dat hulle help, omdat hulle nie Jode was nie. Dit het tot groot bitterheid gelei, wat honderde jare later steeds oorgekook het elke keer as ‘n Samaritaan en ‘n Jood ontmoet het.
Die dissipels was só kwaad oor hierdie belediging dat hulle sommer vuur uit die hemel wou afroep om hierdie spul te verdelg. Hulle was verneder en hulle het wraak gesoek! Baie duidelik het al die dinge wat Jesus oor liefde gesê het, baie beslis nie ingesink nie. Boonop het die dissipels nog gladnie verstaan wat Jesus se roeping was nie. Hy móés verneder word en Hy móés ly en verwerp word! As dissipels het hulle bitterlik gefaal omdat hulle nog gladnie verstaan het hoe die wil van God in en deur Jesus uitgewerk moes word nie.
Ek dink dat die groepie maar baie bekaf gevoel het na hierdie onderonsie, en dat Jesus hulle boonop daaroor moes teregwys. Een het probeer om die gespanne atmosfeer te breek deur vir Jesus te sê dat hy Hom oral sou volg, nét waar Jesus ookal sou gaan. Jesus se antwoord het hom egter viervoet in sy spore gestuit, want Jesus het vir hom verduidelik dat dit ‘n pad vol slaggate was. Toe begin ‘n hele gesprek oor wat dit beteken om waarlik ‘n volgeling van Jesus te wees. Sommige van die manne het allerhande verskonings gehad oor dinge wat eers gedoen moes word voordat hulle finaal volgelinge kon word.
Uit die gesprek word dit algaande baie duidelik dat daar baie opofferinge gemaak moet word as jy ernstig is om Jesus te volg. Jy moet ook presies weet wat vir jou voorlê voordat jy so ‘n besluit neem. Om maar net Jesus se leerstellings te aanvaar met jou verstand, is nie genoeg nie. Jy moet met jou hele lewe kies vir dit waarvoor Jesus staan.
Ons kan dit moontlik vergelyk met ‘n trein op pad hemel toe. Op die trein is daar ‘n klomp passasiers wat bedien word van kop tot tone terwyl hulle almal op pad hemel toe ry. Maar daar is ook die kelners, kokke, skoonmaakpersoneel, drywer, stoker en kondukteur wat hard moet werk om die passasiers gelukkig te hou en die trein op sy bestemming te kry. Natuurlik is die personeel ook op pad hemel toe. Die feit is egter dat daardie trein nooit die hemel sal bereik as die personeel nie daar is nie. Dalk moet ek myself afvra of ek een van daardie gemaklike passasiers is, en of ek een van diegene is wat baie opofferings maak om die hemeltrein aan die loop te hou?
As jy besluit dat jy jou gemaksugtigheid sou prysgee om ook een van die hemeltrein-personeel te word, dan is daar ook twee maniere om dit te doen: jy kry die kelner wat net werk om klaar te kry. En dan kry jy die een wat sy werk vir homself en die passasiers ‘n vreugde maak. Hy is altyd vriendelik, vertel grappies, en maak sy werk sy lewe. Ek kan ook kies om my Christenskap so uit te leef dat dit aansteeklik is, en dat almal kan sien dat, ten spyte van die opofferings, dit ‘n fees is om ‘n volgeling van Jesus te wees.
Gebed:
Here, gee asseblief vir my liefde en vreugde wat uit my straal sodat mense sal lus wees om U volgelinge te word.