Matteus 26:31-46
Jesus se dissipels begin besef wat besig is om te ontvou. Hulle Meester gaan gevange geneem word! Hulle is bitter onseker, want wat presies gaan gebeur, is steeds vir hulle ’n geslote boek. Maar één ding is seker: hulle weet presies wat húlle gaan doen! Natúúrlik gaan hulle mos by Jesus staan tot aan die bitter einde!
“Julle sal almal in hierdie nag van My afvallig raak.” Hulle kan nie glo wat hulle hoor nie! Skielik is die manne opgeruk. Hoe kan Jesus dan só ‘n verskriklike ding van hulle sê?
“Maar nadat Ek opgewek is, sal Ek voor julle uit gaan na Galilea.” Hierdie laaste sin hoor hulle nie eers nie. Die beskuldiging, dat hulle vir Jesus in die steek gaan laat, steek hulle dwars in die krop!
“Nie ekke nie!” skerm Petrus, diep seergemaak. “Húlle miskien, maar ék? Nog nóóit!”
“Petrus, Ek sê vir jou, jy sal My in hierdie nag, voor 'n haan kraai, drie maal verloën.”
Nou is Petrus hewig ontsteld! Hoe kan sy Meester dan só sleg van hom, Petrus die Rots dink? Hy is immers die sterk een, die een wat skrik vir g’n niks! En nou beskuldig Jesus hom van sulke lafhartigheid. “Selfs al moet ek saam met U sterf, ek sal U beslis nie verloën nie!” Brom-brom stem die ander manne saam met Petrus. Hulle het immers so deel van Jesus geword dat dit totaal ondenkbaar is dat hulle Hom óóit in die steek sal laat.
Maar dan kom die eerste toets, en hulle dop dit met vlieënde vaandels. Van die bovertrek waar hulle die nagmaal geniet het (het hulle dit werklik geniet?), stap hulle ‘n ver ent die nag in, al in die Kidronvallei af tot hulle uiteindelik in Getsemane, die olyfpers tuin kom. Dit is geleë aan die onderkant van die tempelberg. Dit is al laatnag. Die manne is moeg.
“Ek gaan bid,” deel Hy die manne mee. Hy het dikwels so alleen gaan bid. “Sit hier, en wag vir My tot Ek klaar is.”
Petrus, Jakobus en Johannes word opgekommandeer om saam met Hom te gaan waar Hy gaan bid. Die manne merk dadelik op dat Jesus bitter benoud is en dat Sy trane baie naby sit. Dit ruk hulle aan die hart. Hy val met Sy gesig teen die grond neer en verkeer in ‘n diepe sieleworsteling met die Vader. Hy weet presies wat vir Hom voorlê, en menslik-gesproke is dit absoluut onmoontlik om deur hierdie verskrikking te gaan.
“My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan. Nogtans, nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.”
Wanneer Jesus omkyk, sit die drie manne vas aan die slaap. Hy is ontsteld! Kan hulle nie eers vir een enkele ou uurtjie Hom in Sy nood bystaan nie? Was dit nie húlle wat so pas nog so heftig gereageer het en gesê het dat hulle deur dik en dun by Hom sou staan nie? Jesus praat baie hard met Petrus - hy is tog immers die leier. Maar dit help niks, want skaars het Hy weer begin bid, dan slaap die drie alweer!
“My Vader, as dit nie moontlik is dat hierdie beker verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.” Bloedsweet loop oor Jesus se gesig wanneer Hy opstaan. Die spanning is ondraaglik. Weëmoedig kyk Hy na Sy slapende volgelinge. Kon hulle nie maar Sy lyding so ‘n klein bietjie ligter help maak het nie? Kon hulle nie maar net hierdie kort ou tydjie saam met Hom gewaak het nie? Hy draai om en bid verder, vir die heel laaste maal. Hy het nou vrede gemaak met Sy lyding. Hy voel bitter jammer vir die manne want hulle besef nie deur watter verskriklike tyd hulle nou sal gaan nie. Nou is hulle nog braaf, maar binnekort gaan hulle uitmekaargejaag word.
Jesus maak die manne wakker: “Julle slaap en rus nog steeds? Kyk, die uur het aangebreek!” deel Hy hulle mee.
“Watter uur?” wil hulle nog wonder, maar dan sê Jesus vir hulle dat dit tyd geword het dat Hy oorgelewer word, en dat Judas al klaar op pad is met die soldate.
Die elf manne het die eerste rondte van die verskriklike geveg liederlik verloor. Hulle was só positief dat hulle deur alles by Jesus sou staan, maar hulle kon nie eers wakker bly in Sy uur van gebed nie!
Dikwels vra Jesus vandag ook vir my en jou om maar net in klein dingetjies getrou te bly aan Hom, en dan gaan dit so bitter moeilik. Moenie die dissipels verwyt nie! Gaan doen gerus maar net ‘n bietjie introspeksie in jou eie lewe en dan sal jy sien dat ons maar presies dieselfde doen. Soms voel ons totaal verlore, soos daardie manne dalk daar gevoel het. Hierdie was vir hulle maar die begin. Dit sou nog baie erger word! Jesus se belofte, dat Hy hulle weer bymekaar sou bring, was egter hulle troos. So ook troos Hy jou en my, al lyk dinge soms totaal verlore. Hy wag steeds daar vir ons aan die einde van die pad. Maar nog véél meer: Hy stap ál die pad deur ons beproewing saam met ons. Boonop, anders as die dissipels se powere poging, laat Hy ons nie vir een enkele oomblik in die steek nie!
Gebed:
Dankie Here, dat ek vandag daardie wonderlike versekering kan hê dat U altyd daar is vir my, en al voel dit soms asof ek totaal verlore is, wag U steeds met uitgestrekte arms vir my!