Lukas 8:40–56
Simon is maar ál te bly as die Meester beduie dat hulle moet terugklim in die boot! Hierdie land van die Geraseners laat hom kriewelrig voel – al die varke en mal manne wat kaal rondloop. Hierdie is nie sy land en sy mense nie – hulle is anders! Toe die inwoners vir hulle kom sê dat hulle nie hier welkom is nie, was Simon soos gewoonlik weer sommer dadelik op sy perdjie – wou net vir dié klomp wys dat hy nie gelukkig is nie. En toe hy begin moue oprol, is Jakobus en Johannes ook daar. Jesus moes net mooi paai om hulle tot bedaring te bring. “Ons gaan terug na Galilea toe,” beduie Jesus vir die manne.
Dan is dit weer die see aandurf en al die pad na die noordpunt van die see seil. Skaars sit hulle voet aan wal in Galilea, of 'n groot skare drom alweer om hulle saam. “Hoe hét hulle geweet?” wonder Simon.
Jesus is nét mooi aan die gang om na al die siekes en kranklikes om te sien, of Simon merk 'n man wat sy pad oopworstel tussen al die mense deur. Hy herken die man dadelik as een van die ringkoppe en Simon raak sommer warm onder die kraag. “Kom die geleerdes alweer moeilikheid maak?” wonder hy.
Jaïrus was een van die kerkleiers, ‘n raadslid van die sinagoge, en een van slegs enkele geestelike leiers wat goedgesind was teenoor Jesus. Jaïrus se nood is baie groot, want sy dogtertjie lê op sterwe, en hy smeek Jesus om saam met hom te kom. Op pad na die man se huis word die verhaal egter skielik onderbreek wanneer Jesus gaan stil staan en omdraai. “Wie het my aangeraak?” wil Hy weet.
“Meester, daar is nie nou tyd om te wil weet wie aan U geraak het nie - die meisiekind is besig om dood te gaan!” Simon raak bitter ongeduldig met Jesus wat nou nie Sy loop kan kry nie. Daar is ‘n reuse skare mense wat hulle die hele tyd verdruk - almal stamp en stoot - wat is dan nou verkeerd met sy Meester?
Agter Jesus staan ‘n vrou met ‘n geweldige groot nood. Sy ly aan ‘n volgehoue menstruele vloeiing - iets wat haar volgens die Joodse kultus permanent onrein maak. Sy mag dus met niemand direk in aanraking kom nie. Vir twaalf jaar al leef sy in hierdie onhoudbare situasie en sy kan dit net nie meer verduur nie - Jesus is haar laaste en enigste hoop. Volgens Levitikus 15:19-30 durf sy nie aan Jesus raak nie want dit sou Hom sélf vir sewe dae lank onrein maak. Dus raak sy net aan die verste punt van Sy klere se soom. Simon por vir Jesus aan om asseblieftog voort te gaan na Jaïrus se huis – die kind gaan sterf! Maar Jesus bly staan - Hy wil weet wie dit is wat aan Sy klere geraak het.
Die spanning bou op, want die tyd loop uit vir die sterwende dogtertjie. Maar vir Jesus is die drama wat hier afspeel belangriker. As die vrou besef dat Jesus weet dat dit sy was, kom val sy bewend van angs voor Hom neer en erken haar daad. Sy vertel van haar verskriklike dilemma en die wonderlikste is dat sy gevoel het hoedat haar liggaam genees is die oomblik toe sy aan Jesus raak. Liefdevol spreek Jesus haar aan as “dogter” en dan is die twaalf jaar waarin sy deur die ganse samelewing verwerp en verstoot is skielik verby. Sy weet dat sy vir die eerste keer in jare nou weer deel is van die volk en van haar eie familie.
Simon vererg hom bloedig as nóg 'n man deur die skare gebars kom. “Wat nóú weer?” wil hy skreeu.
Maar hierdie man is nie op pad na Jesus nie, hy soek vir Jaïrus: “Dis te laat meneer, sy het reeds gesterf.
Simon voel lus om vir sy Meester te skree: “Here, hoe kón U? Die vrou kon mos maar ‘n bietjie gewag het?” Menslik gesproke is enige verdere optrede van Jesus nou sinneloos. Maar Jesus troos vir Jaïrus: “Moenie jou ontstel nie. Glo net en sy sal gered word.” Skokkende woorde! “Maar sy is dan dood Here! Moenie nog die man se lyding erger maak nie!”
Wanneer Simon saam met Jesus en die ander dissipels by die huis aankom, tref hulle ‘n troostelose prentjie aan van mense wat kerm en huil oor ‘n kind wat gesterf het. Hulle verwag van Jesus niks verder nie, want alle hoop is verby! Dit is verstaanbaar dat hulle so reageer, selfs ook die kind se ouers. En as Jesus vir hulle sê dat die kind net slaap, dan lag hulle Hom uit - hulle het immers sélf gesien dat sy dood is en dit is finaal! Jesus se eenvoudige reaksie is om bloot die meisie se hand te vat en haar te beveel om op te staan.
Onmiddellik reageer die dogtertjie! Simon skud sy kop in ongeloof! Nou het hy alles gesien! Haar ouers kan hulle oë nie glo nie. Simon snak na sy asem: “Jesus het álle mag, selfs oor die dood!”
Inderdaad weet ons vandag dat die dood vir ‘n gelowige gladnie meer finaal is nie. Jesus het nie alleen gewys dat Hy heerser oor die dood is met hierdie kind se genesing nie, maar enkele jare later het Hy sélf die dood finaal oorwin, nadat Hy die volle prys van verlossing betaal het aan die kruis. Ek en jy het ook deel hieraan as ons slegs glo in Hom. Jesus se woorde aan Jaïrus: “Glo net en sy sal gered word.” kry later soveel groter betekenis wanneer Paulus in Hand 16:31 sê: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word”, of as ons in Johannes 3:16 lees: “Dié wat in Hom glo .... sal die ewige lewe hê”.
Die vraag is: glo jy?
Gebed:
Here, dankie dat U my ook gered het, en dat die dood nou geen houvas meer op my het nie!