‘n Tweede Kans

1 November, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie ‘n Tweede Kans

Rut 2:1-3

Rut was in trane toe sy die aand onverrigter-sake by die huis aankom. Sy was moedeloos, want by elke land waar sy gekom het, het sy ‘n bloutjie geloop. Sy het geweet dat dit moeilik sou gaan, maar só erg het sy dit darem nooit verwag nie! Boonop moes sy nog deurloop onder die vlymskerp tonge van die Joodse vroue. Naomi het diep seergekry oor haar arme skoondogter. Sy verdien dit beslis nie!

Maar Naomi het nie hierheen gekom om sommer net tou op te gooi nie. Stadig begin daar ‘n gedagte in haar kop vorm. “Boas!” dink sy hardop, “Boas is ‘n goeie man!”

Rut het ‘n groot vraagteken op haar gesig as sy die glimlag om Naomi se mondhoeke sien speel. “Jy moet na Boas se landerye gaan, Rut. Hy sal jou nie wegjaag nie, ek is seker dat jy nie daar verneder sal word nie!”

Dan vertel Naomi vir Rut van haar verlangse familielid, Boas. “Eintlik is hy familie van jou oorlede skoonpa, Elimeleg. Jy onthou mos die storie wat ek jou vertel het van die prostituut Ragab? Na Jerigo se val, is sy getroud met ‘n man met die naam Salmon. Hy was ‘n neef van Elimeleg. Boas is hulle seun, dus is hy naby familie van my omdat ek met Elimeleg getroud was. En natuurlik was jy met Elimeleg se seun getroud, dus maak dit jou ook outomaties familie van hom, al is jy ‘n Moabiet.” Rut sukkel om te begryp, want die Israeliete se familieuitleg kan bitter ingewikkeld raak, maar sy berus haar daarin dat sy en Boas familie is.

Boas is ‘n baie vermoënde man met groot landerye. Hy was nog al die jare bekend as iemand wat nie skaam was vir harde werk nie. Hy het selfs saam met sy arbeiders op die lande gaan werk. “Foeitog,” dink Naomi hardop, “die arme man! Hy kan maar nie oor die dood van sy vrou destyds kom nie.”

Met groot huiwering stap Rut die volgende oggend na die landerye toe. Die huppel is nie meer in haar stap nie - sy is bang! Sy het die vorige dag so ‘n lelike stel afgetrap op elke liewe landery waar sy gaan probeer het. Almal verwerp haar! Sê nou net sy word weer so verneder? Sy word yskoud as sy dink aan die kyke wat die manne haar gegee het, so asof sy ‘n slegte vrou is! Rut stap ‘n wye draai om die landerye waar sy die vorige dag so ‘n lelike bloutjie geloop het. Sy kies koers in die rigting wat Skoonma verduidelik het. Op ‘n afstand kan sy hoor hoe daar gegiggel en gelag word, en sy kan sommer aanvoel dat sy die onderwerp van die een of ander vulgêre grap is. Dit maak seer, bitter seer. Wat het sy gedoen om dit te verdien?

Wanneer Rut by Boas se graanlande aankom, klop haar hart in haar keel. Sy weet nie mooi wat om te verwag nie. Haar verstand sê vir haar om nou hier om te draai en weg te hardloop solank daar nog tyd is. Maar haar hart sê: “Byt vas!” Sy stap bewerig nader. ‘n Snyer kyk vir ‘n oomblik om na haar, maar dan gaan hy weer aan met sy werk, verdiep in sy oeswerk.

Eenkant staan ‘n man wat lyk asof hy in beheer is van die werkers. Haar knieë voel lam as sy na hom toe stap: “Meneer, mag ek maar are optel?”

Die man glimlag vriendelik vir haar: “Natuurlik! Kies maar vir jou ‘n plekkie waar daar nog nie ander weduwees besig is om op te tel nie.”

Huiwerig kies Rut koers na ‘n oop kol waar niemand are optel nie. Sy sorg dat sy ver wegbly van die ander vroue af, en dat haar kopdoek laag oor haar oë hang, net vir ingeval iemand haar dalk kan herken. Sy is verbaas hoe roekeloos die snyers are laat val het. Daar is oorgenoeg vir haar om bymekaar te maak.

Laat daardie middag, nadat die snyers hulle sekels vir die dag opgepak het, hardloop ‘n moeë Rut so vinnig as wat haar bene haar kan dra terug na haar skoonma. In ‘n sakkie het sy genoeg graan om ten minste vir ‘n week vir die twee van hulle van brood te voorsien. Sy hoor nie eers die snedige aanmerking wanneer sy by ander vroue verby hardloop nie. Sy is borrelend gelukkig, want uiteindelik is sy ook deur iemand aanvaar as ‘n mens. Sy kan nie help om te wonder waarom die mense wat vir Boas werk dan so anders is as die ander Israeliete nie. Hulle lyk sommer gelukkig in hulle werk, en deurentyd hoor jy hoe die manne vrolik liedjies sing terwyl hulle oes. Het dit dalk iets met hulle baas te doen?

As jy ‘n werkgewer is, hoe lyk die gemoedstoestand van die mense wat vir jou werk? Is hulle werklik gelukkig, en geniet hulle dit om vir jou te werk? Is jy die “baas” of is jy een van hulle? Onthou, die liefdesopdrag wat Jesus gegee het eindig nie by my familie en vriende nie. Dit gaan baie verder, ook na my werknemers en selfs vreemdelinge.

Liefde en nederigheid gaan boonop hand-aan-hand. Om nederig te wees, beteken onder meer dat ek myself nie eers sal verhef bo my werknemers nie. Onthou, Jesus het selfs Sy dissipels se vuil voete gewas!

Gebed:

Here, help my om U liefde uit te straal, ook in my werkplek, sodat almal wat saam met my werk U liefde sal ondervind.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026