‘n Moeilike Seevaart

4 December, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie ‘n Moeilike Seevaart

Handelinge 27:1-12

Soms wonder ek of daar ooit iemand is wat baat vind by hierdie dagstukkies wat ek uitstuur. En dan bemoedig die Here my op ‘n wonderlike manier met dierbare mense wat vir my ‘n briefie skryf of 'n WhatsApp stuur om te vertel wat ‘n spesifieke dagstukkie vir hulle beteken het. Ek wil vanoggend baie dankie sê aan elkeen wat my bemoedig en my hande vat met hierdie taak, en aan elkeen wat hierdie dagstukkies weer verder versprei. Ek het nie die vaagste idee hoeveel mense hierdeur bereik word deur herverspreiding nie. Dankie vir bemoedigende boodskappies van mense soos Louise, Charlie, Louisa, Leatitia, Frikkie en nog baie ander. Veral ‘n groot dankie aan my ou vriend Francois en my dierbare neef Louis van Melkrivier. En kan ek ooit vir Danie vergeet! Hy en sy gesin doen ‘n reuse werk in die Koninkryk. Baie dankie vir julle hulp, bystand en liefde.

En dan ‘n baie groot dankie aan die persoon wat bygedra het om my sukkelende ou rekenaar te varvang. Ek waardeer dit meer as wat jy óóit sal weet! Nou kan ek weer behoorlik werk!

Nee, ek neem nie vanoggend afskeid nie, maar Paulus doen dit wel: hy neem afskeid van Israel, want hy is op pad na Rome, waar hy die res van sy lewe sou deurbring. In die hawestad Sesarea gaan hy aan boord van ‘n skip. Hy word toevertrou aan ‘n offisier uit die keiserlike regiment met die naam Julius, en saam met hom is ook ‘n klompie gevangenes wat na Rome moet gaan. Ons kan aflei dat Lukas ook vir Paulus vergesel het op sy reis, asook Aristargos. Die eerste been van die reis is slegs ‘n dag ver, na Sidon. Daar laat Julius vir Paulus toe om sy vriende te gaan besoek.

Ons moet verstaan dat seevaart in daardie jare bitter gevaarlik was. In 2 Kor. 11:25 vertel Paulus dat hy nie minder nie as drie maal die slagoffer was van ‘n seeramp. En nou wag die vierde, en seker die grootste ramp op hom. Veral in die wintermaande het die Middellandse See ‘n uiters gevaarlike plek geword om in rond te dobber. Dit is nie alleen oor die snerpende koue nie, maar ook woeste stormwinde wat daardie see teister. Vandag is selfs ‘n kleinerige seiljag ‘n tegnologiese wonderwerk wat dikwels goed genoeg is om rondom die wêreld te kan vaar en die gevaarlikste storms te trotseer. Tweeduisend jaar gelede was dinge nog nie so gevorderd nie, en was die skepe maar primitiewe gevaartes wat bitter stadig hulle vrag voortgesleep het en nie rêrag stormbestand was nie.

Toe Paulus-hulle van Sidon af vertrek, was dit reeds herfs, en die eerste westelike herfswinde het begin waai. Hulle waag dit dus nie in die oop see nie. Hulle verkies om eerder die langpad te vat na die hawestad Mira in Lisië. Hulle seil dus verkeerde kant om Siprus, om die ooskus. Daar het hulle oorgeklim op ‘n ander skip wat graan vervoer van Aleksandrië na Rome. Die eerste entjie tot by Knidus gaan dit maar harmansdrup-stadig. Hulle besluit om eerder om te draai en aan die beskutte kant van die eiland Kreta om te vaar. Met die winter reeds op hulle, doen hulle uiteindelik aan by Mooihawens, aan die kus van Kreta.

Hierdie is nou nie juis die beste hawe om in te oorwinter nie, maar nogtans vra Paulus die kaptein om liewer daar oor te staan, want as hulle verder vaar, voorsien hy net moeilikheid. Hy waarsku die kaptein dat hy sy vrag sou verloor, en dat daar baie moontlik lewensverlies sou wees as hulle die wilde see aandurf. Paulus het in sy leeftyd al menige seereise onderneem, en sy jarelange ervaring van die see het hom laat besef dat dit moeilikheid-soek is om verder te vaar. Maar die kaptein het gedink hy weet van beter, en die Romeinse offisier het sy woord daarvoor aanvaar.

Ek het nou nie juis ondervinding van seevaart nie, maar die een keer wat ek op ‘n seiljag die oop see aangedurf het, was vir my maar bitter traumaties. En daar was nie eers ‘n storm nie! Ons gesin was aan boord van die African Queen op ‘n pragtige see. Die enigste probleem was dat daar nogal ‘n sterk deining was wat my maag heen en weer geskommel het. Ek het seesiekpilletjies gedrink, en dit het nogal gehou. Aan die begin was dit heerlik as die boot so hoog op die kruin seil en dan weer diep afsak in die geut. Maar die lekker was nie vir lank lekker nie, toe begin die pilletjies uitwerk, en ek raak groen in die gesig. Nou kan ek my maar net indink hoe Paulus-hulle moes voel op die rowwe see. Hulle het ‘n watergraf tegemoet gevaar, maar daaroor berig ons DV môre.

Die lewe is ook maar dikwels vol storms. Die groot geheim is om nie moed te verloor wanneer die wind jou van voor tref nie, al gaan dit soms bitter swaar. Hou die oog gevestig op Jesus, en hou styf aan Sy hand vas, en Hy sal jou deur die ergste storm dra. Maar leer ook van Paulus, dat jy nie teen jou beterwete in ‘n lewensgevaarlike storm invaar as daar ‘n ander alternatief is nie! As jy egter nie ‘n keuse het nie, moet jy dit aanvaar, want dan het God ‘n plan vir jou lewe, selfs in die storm. Vertrou Hom!

Gebed:

Here, my lewensbootjie skommel so dikwels heen en weer op die woeste golwe. Hou asseblief my hand vas!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026