Multivrugteboom

30 June, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Multivrugteboom

Galasiërs 3:26-29

Video

Oudio

Dit was ‘n bitter koue, onplesierige dag op Stanger, sowat 20 jaar gelede. Op die pawiljoen van die skool se swembad sit ‘n groepie baie opgewonde mense en wag vir die predikant om op te daag. Die spanning is ondraaglik! My oë vee oor die groepie. Daar is oumense, jongmense en kinders, selfs ‘n paar babas. Die ganse gemeente is hier bymekaar vir ‘n baie groot gebeurtenis in hulle lewens.

‘n Jaar of twee tevore het ‘n sendeling begin werk onder die Hindoe en Moslem gemeenskap van Stanger. Uiteindelik was daar ‘n klein gemeente van 30 lidmate, almal bekeerlinge uit die heidendom. Die evangelis het skielik met ‘n skok tot ‘n besef gekom dat nie een van hierdie lidmate van hom ooit gedoop is nie. Hy gesels met sy kudde, en saam besluit hulle om een groot doopgeleentheid daarvan te maak. Daar word beplan, gesels, bespiegel, en hoe meer daaroor besin word, hoe meer opgewonde raak hulle. Een jong kêrel sê dat hy graag sy doop wil beleef as ‘n onderdompeling om die afwas van sondes te simboliseer, anders as die tradisionele besprinkeling wat in die NG Kerk praktyk is. ‘n Ander is egter meer konserwatief en wil hou by die water wat oor sy voorkop gesprinkel word. Ons gemeente se predikant word nader geroep, en die sendeling verduidelik wat hulle situasie is, en “Dit sal lekker wees as jy kan help, Dominee!”

En so breek die yskoue oggend aan. In sy agterkop moet die dominee beplan vir die doop waar uiteindelik ‘n hele paar verkies het om die onderdompeling te ondergaan. Die bitter koue water van die swembad lê soos ‘n ysberg voor hom, en natuurlik is hy gewoond daaraan om baie respektabel aangetrek te wees in swart pak en toga vir so ‘n belangrike gebeurtenis soos ‘n doopgeleentheid. Hy wik en weeg oor sy opsies, en uiteindelik daag hy op waar almal in spanning en opgewondenheid vir hom sit en wag. Hy is geklee in ‘n netjiese wit hemp en das, en onder dit, baie opvallend …... ‘n duikpak om hom teen die koue te beskerm! Die hele gemeente is daardie oggend gedoop, oumense en kinders, jongmense en babas. Sommige is onderdompel en sommige besprinkel. Etlike nuwe lidmate het die ysige water bibberend getrotseer om deel te kry aan Jesus Christus. Daardie doop was ‘n uiters emosionele en aangrypende geleentheid wat ek nooit sal vergeet nie!

Deur die doop word ons almal met Christus verenig, sê Paulus in Galasiërs 3:28. Dit is soos om ingeënt te word. In my jong dae was daar nie allerhande dinge soos TV, selfone en tablette om mense besig te hou nie. Dit was eenvoudige dinge wat vir vermaak gesorg het. Een van die baie gewilde aktiwiteite was om takkies van verskillende soorte vrugtebome op een boom in te ent. Die onderpunt van 'n jong loot word versigtig in ‘n “V” gesny. Aan die moederboom word daar ’n keep gesny in ’n takkie, wat presies dieselfde vorm en grootte het as die “V” van die loot, en dan word die loot in die keep aan die moederboom ingedruk en styf vasgebind. Daar moet volkome versoening wees tussen die twee plante. Lewegewende sappe van die moederboom vloei deur die vate van die loot en voed hom. Uiteindelik groei hy heeltemal daar vas en vorm hulle ’n eenheid, en hierdie loot kan selfs vrugte dra. So sou jy uiteindelik ‘n geelperskeboom kry wat pruime, appelkose, lospitperskes en ‘n verskeidenheid ander vrugte dra!

Op dieselfde manier word ons deur die doop “ingeënt” op Jesus Christus om uiteindelik totaal een met Hom te word, en saam met Hom te groei tot één geestelike boom. Net soos met die multivrug boom van ouds, is daar ook in hierdie geestelike boom ‘n verskeidenheid van “vrugtelote”. Nie alleen is daar 'n verskeidenheid in kultuur en ras nie, maar ook in verskillende aanbiddingstyle: NG, AGS, Methodiste, Anglikane, Baptiste, Volle evangelie - noem maar op. Daar is ‘n ryke verskeidenheid van uiteenlopende sieninge en denominasies, maar almal het één ding in gemeen: almal groei aan dieselfde “Boom”, Jesus Christus, en almal is onlosmaaklik deel van daardie selfde “Boom”.

‘n Vraag wat dikwels gevra word is, watter van daardie lote is nou eintlik die belangrikste? In Paulus se tyd was mans die belangrikste wesens op aarde. Vrouens was etlike trappe laer. Kinders was net so ‘n klein trappie hoër as die slawe, wat natuurlik nie veel meer status gehad het as blote eiendom nie. Die Jode het hulleself weer as verhewe bo enige ander volk gesien, en as jy besny was, dan was jy ook ‘n trappie hoër as die onbesnedenes. Paulus wil dit baie duidelik stel dat as jy in Christus is, dan is almal presies gelyk. Die deurslaggewende faktor is of jy in Christus glo of nie. 

Vandag durf ons ook nie onderskeid maak deur een persoon hoër as die ander te ag nie. In die kerk van Christus mag daar nie so ‘n ding wees soos diskriminasie nie. Natúúrlik mag daar verskille wees, maar elkeen moet die ander respekteer en as ‘n gelyke sien, en nooit as minderwaardig nie, maar deel van daardie “Boom”, Jesus Christus.

Gebed:

Dankie dat U my ook deel gegee het aan U wonderlike “vrugteboom”, Here.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Hy Leef!
30 April, 2024
Kruisig Hom, Kruisig Hom!
29 April, 2024
Petrus se Verraad
26 April, 2024
Hosanna, Hosanna!
25 April, 2024
Nasaret Verwerp Jesus
24 April, 2024