Lukas 1:26-56
Byna 500 jaar het verloop sedert Ester.
Die toneel skuif nou na ‘n jong meisie met die naam Maria. Soos die gewoonte in daardie jare is sy skaars veertien jaar oud, en verloof aan die skrynwerker Josef. Lukas beklemtoon die feit dat Maria nog steeds ‘n maagd is.
Dit was in daardie tyd van uiterste belang dat ‘n meisie nooit omgang sou hê nie, tot die dag van haar huwelik. Sy kon gestenig word as sy dit sou verontagsaam!
‘n Vrou het ook nie juis ‘n belangrike rol in die samelewing gespeel nie. As sy boonop nog ‘n jong meisietjie soos Maria was, was sy skaars meer as een van haar pa se karige besittings beskou. Wanneer die engel dus vir Maria groet met “Gegroet, begenadigde vrou! Die Here is met jou!” skrik sy haar byna dood. Wat het sy, die eenvoudige, onbelangrike meisie gedoen om sulke groot woorde te verdien? Sy is verbysterd, wat kan dit tog beteken? Baie gou stel die engel die arme verbouereerde meisie gerus, en hy deel vir haar die ontstellende nuus mee dat sy swanger gaan word. Maria se knieë word skielik lam, hoe is dit tog moontlik? Die engel gaan kalm voort en beskryf in detail allerhande dinge wat haar verstandjie gladnie wil begryp nie. “Hy sal die Seun van die Allerhoogste genoem word”, hoor sy die engel sê.
“Maar dis onmoontlik!”, skree haar verstand, “Ek droom!” Die engel gaan rustig voort en vertel vir haar dat haar Seun Jesus (so moet sy Hom noem) op die troon van Sy voorvader Dawid sal sit, en dat Hy vir ewig as Koning sal heers.
Maria se kop draai: “Hoe is dit moontlik? Ek het nog nooit met ‘n man omgang gehad nie!”
Die engel verduidelik van die Heilige Gees wat die lewe in haar sal wek en dat haar Seun die Seun van God sal wees. Maria se verstand sê vir haar dat dit tog totaal onmoontlik is! Maar dan vertel die engel vir haar van haar bejaarde tante Elisabet wat ses maande swanger is. Absoluut enigiets is vir God moontlik!
En so berus Maria daarby: “Ek is die diensmeisie van die Here. Mag met my gebeur volgens u woord.”
Kort na haar ontmoeting met die engel, besef Maria dat sy swanger is. Sy wil dit uitbasuin aan die wêreld. Maar sy mag nie, want sy in nog nie getroud nie. Die gemeenskap sal haar kruisig! Sy wil dit deel met iemand wat ook soos sy voel. “Tannie Elisabet, sy het óók ‘n wonder-swangerskap nes ek, die engel het my vertel! Sy sal verstaan......”
Die bejaarde Elisabet sit ongeduldig die dae en aftel na die geboorte van haar wonder-baba. Dan hoor sy ‘n vrouestem by die deur: “Shalom, tannie Elisabet!” Op daardie oomblik skop en beweeg die baba in haar moederskoot, al asof hy die stem gehoor het en opgewonde is oor die besoeker. As sy sien dat dit haar niggie Maria is, wel ‘n wonderlike gevoel op in Elisabet, en skielik is dit asof die teenwoordigheid van die Here so oorweldigend is, dat sy nie anders kan nie as om in ‘n lofsang uit te bars. Vol van die Heilige Gees jubel sy dit uit: “Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou moederskoot!” Maria se mond hang oop: “Hoe het sy geweet wat met my gebeur het?”
“Waaraan het ek dit te danke dat die moeder van my Here na my toe kom?” wil Elisabet opgewonde weet, en sy babbel voort en vertel vir Maria van haar kindjie wat van pure vreugde in haar beweeg het net toe hy Maria se stem hoor.
Maria is so meegevoer deur hierdie lofbetoning, dat sy sélf uitbars in ‘n lofsang wat spontaan diep uit haar hart kom: “Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God my Verlosser, omdat Hy na my geringheid omgesien het.”
Vir drie maande kuier Maria by haar tante, en natúúrlik is daar baie gewonder en gegis oor die twee babas wat aan die kom was. Maar niks op aarde kon hulle voorberei vir wat werklik op hierdie twee ongebore seuntjies sou wag nie. Johannes het ‘n vurige profeet geword. Uiteindelik is hy deur Herodus onthoof vir een van sy wrede vrou se gru-grille. En Jesus? Ons ken die pad wat Hy moes stap......
Soos in daardie tyd die verwagting baie groot was vir die koms van die Messias, so is daar vandag ‘n baie groot verwagting vir die wederkoms van Jesus. Al die tekens is reeds daar. Is daar by jou ook so ‘n borrelende opgewondenheid? Ja, met ‘n swangerskap wag daar dikwels baie swaarkry, rugpyn, naarheid, komplikasies, geboortepyne, en uiteindelik die ondraaglike pyn wanneer sy kraam. Net so wag daar vir ons óók nog baie swaarkry, en hoe nader dit na die eindtyd gaan, hoe erger raak dit. Soms voel dit asof ons wil moed opgee. Maar soos met die swangerskap die vasbyt uitloop op ‘n wonderwerkie van God, so wag daar ook ná al die swaarkry op ons die wonderlike splinternuwe lewe in heerlikheid saam met Jesus. Maranatha! Kom, Here Jesus, kom gou!
Gebed:
Dankie vir hierdie heerlike inspirerende verhaal, Here. Kweek asseblief ook in my die borrelende opgewondenheid oor die wederkoms van my Here.