Matteus 5:13-16
Duisternis kan skrikwekkend wees, veral as dit pik-giet-swart-donker duisternis is. En wanneer daar boonop nog skrikwekkende geluide by is om dit mooi af te rond, raak dit angswekkend!
So kuier ek en Mosbolletjie eenslag in die Laeveld. Dit was een van daardie snikhete dae, met ‘n Salatiwind wat al van vroegoggend af die wêreld uitgemergel het met ‘n temperatuur kort duskant vyftig grade. Jy sit letterlik en hyg na asem, en alles bak soos in ‘n bakoond. Genadiglik begin dit darem na sononder ‘n bietjie afkoel, en ons tweetjies sit totaal uitgeput van die hitte op die stoep en asem skep.
Dis ‘n besonderse stil aand en jy hoor géén naggeluide. Moontlik maar die dag se hitte wat almal se gô uitgepluk het. Of dalk eerder omdat dit donkermaan is. Nie eers ‘n ou sweempie van maanlig nie!
Ek en Mosbolletjie besluit om te gaan inkruip, maar die huis is ‘n bakoond! Onleefbaar warm van die dag se hitte, en dit het nie eers naastenby afgekoel nie. “Vanaand slaap ek buite!” kondig Mosbolletjie aan. Wie is ek dan nou om te stry? Ons sleep ons matras uit op die stoep en maak ons heerlik gemaklik in die koel aandlug.
Skielik is daar ‘n gedonder van hoewe hier langs die westekant van die huis verby. “Sebras,” besluit ons. “Baie snaaks, iets moes hulle baie groot laat skrik het. Wonder wat dit was?”
“Dalk ‘n leeu?” spot ek, en daarmee blaas ek die kers dood. Skielik is dit pikswart rondom ons, en my hart gee ‘n benoude sprong.
Weldra is Mosbolletjie in droomland, maar ek lê en dink. Onder die stoep se grasdakrand deur loer ‘n paar sterretjies vir my. Wat hét daardie sebras so laat hardloop? Hulle sal mos nie onnodig so op loop gaan nie? Hier sal tog sékerlik nie roofdiere in die omgewing wees nie! Of is hier dalk?
En dan hoor ek dit: ‘n rasper-agtige gromgeluid iewers links van die huis. Ek wil nog wonder wat dit kan wees, maar dan tref dit my soos ‘n bom: Luiperd! Onmiskenbaar. Dís waarvoor hulle geskrik het, die groot kat! Weer kom die rasper-grom, amper soos iemand wat ‘n boom met ‘n handsaag afsaag. Nou is hy effens nader. My hart klop in my keel. Hoe weerloos en blootgestel lê ons tweetjies hier op die oop stoep. Wat as.....
Ek probeer die gedagte uit my kop skuif. Ek strem my oë om iets te kan sien in die bosse hier rondom ons. Al wat ek egter sien is net die vae silhoeëtte van sekelbosse teen die sterrehemel. Verder gitswart!
Weer grom die kat, maar nou beweeg hy effens na die voorkant van die huis. As daar tog maar net ‘n bietjie lig was! “Al gaan ek ook deur die dal van doodskaduwee, ek sal géén onheil vrees nie!” Daar vorm ‘n klipharde knop op my maag. Kort-kort hoor ek die kat se rasperstem soos wat hy ‘n halfsirkel om ons loop, nou reg voor die huis, en dus regoor ons onbeskermde stoep! “Rasper-rasper-rasper” sluip hy stadig regs verby ons en terug na die agterkant van die huis. Met ‘n skok besef ek dat hy nou al byna ‘n vol sirkel om ons gestap het. Is hy besig om ons uit te kyk? Dalk om te sien uit watter hoek hy ons die maklikste kan oorval en opvreet?
Ek oorweeg dit sterk om vir Mosbolletjie wakker te maak sodat ons in die ondraaglike warm huis kan intrek. As ek maar net wakker bly, dan sal ek mos betyds kan opspring en die kat verwilder. Ek bid innig, smeek om beskerming. Ek durf nét nie slaap nie. As die maan tóg net wou opkom! As daar tóg net ‘n bietjie lig was dat ek kan sien!
Ure later, met ooglede wat voel soos stukke rou lewer, sien ek hoe die dag begin breek. Ek draai my om en slaap die slaap van ‘n dooie!
“Julle is die lig vir die wêreld.” sê Jesus vir die skare wat oopmond na Hom sit en luister.
Ons beleef op die oomblik ‘n bitter donker wêreld. ‘n Deurmekaar politiek, rommelstatus ekonomie, staatskaping, plaasmoorde, bedrog, verkragtings, gruwel-moorde! Ons beleef ‘n duisternis soos nog nooit tevore nie!
Te midde van daardie pikdonker kry ek en jy die opdrag om die lig vir die wêreld te wees. Hoe verfrissend is dit nie as iemand ‘n vertrek binnestap waar mense sit met lang gesigte, en met ‘n stralende gesig borrelend vertel hoe mooi die lewe is, hoe wonderlik God is en hoe asemrowend hy die skepping ervaar! Skielik is dit asof die vertrek helder verlig word. “Julle is die sout van die aarde!” Ek en jy is sout wat die smaaklose lewe smaak gee en jou tong heerlik prikkel.
Op watter manier gaan jy vandag vir die wêreld rondom jou die sout wees? Op watter wyse gaan jy vandag die duisternis in die mense rondom jou se lewe vrolik verlig en Jesus se lig so laat skyn? Wees kreatief en “Laat jou lig só voor die mense skyn, dat hulle jou goeie werke kan sien en jou Vader wat in die hemel is, verheerlik.” (Mat 5:16)
Gebed:
Here, ek wil vandag ‘n helder lig wees wat mense van U vertel.