Romeine 12:17-21
Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense.” Met hierdie twee eenvoudige sinnetjies sê Paulus vanoggend vir ons iets wat totaal indruis teen ons hele mens-wees. “Paulus kon maklik praat!” sou ons dalk wou teënstribbel. “Hy leef nie in die wêreld waarin ons vandag lewe nie!” Rêrag? Nou hoe het Paulus se wêreld dan gelyk?
As ons so ‘n bietjie deur die geskiedenisboeke gaan blaai, kom ons op dinge af wat jou nekhare laat regop staan. Rome was die hoofsentrum van vervolging van die Christene. Die hele wêreld het boonop neergesien op hierdie “Christen-sekte”.
'n Paar jaar nadat Paulus hierdie brief geskryf het, het die groot vervolging in al sy walglike woede losgebars, veral onder die regering van die beginsellose, wrede Nero. Vir die “vermaak” van die Romeinse burgers is Christene aan pale vasgebind, met teer besmeer en aan die brand gesteek om as lewende fakkels te dien in die donker strate van Rome. Ander is weer, sommer vir die pure pret van die genotsugtige Romeine in die berugte Kolosseum saam met uitgehongerde leeus en ander wilde diere in die arena losgelaat. Vir die arme gelowiges was daar geen ontsnapkans nie, en hulle is lewendig verskeur. Daar word vertel van ‘n vrou wat op ‘n bul se rug vasgemaak is en tussen die leeus ingejaag is! Wat ‘n aaklige dood om te sterf! Dit was ‘n alledaagse gesig om gelowiges te sien wat gekruisig is nes Jesus. Terwyl hulle in uitmergelende pyn daar hang, moes hulle boonop die spotlag van die bloeddorstige Romeinse mans en meisies aanhoor. Baie gelowiges was onthoof, verbrand of doodgemartel terwyl die owerhede hulle probeer dwing het om hulle geloof af te sweer. Ander weer is bloot voëlvry verklaar. Dit het beteken dat enigeen hulle besittings kon afneem, spot, martel of selfs doodmaak, en geen haan sou daarna kraai nie!
Hierdie inligting in ag geneem, moet ons onsself die vraag afvra of ons dan werklik soveel opofferings vir ons geloof maak? Ons het dit vandag mos eintlik baie lekker! Alhoewel fisieke vervolging steeds ’n alledaagse ding is in sekere dele van die wêreld, is ons in die vrye wêreld hoofsaaklik aan geestelike vervolging blootgestel. In ‘n sekere sin is dit dalk net so erg, indien nie erger nie as fisieke vervolging. Spot, veragting, neutraliteit, onbetrokkenheid, afsydigheid, hierdie is almal dinge wat ‘n mens geestelik doodmaak en totaal afkraak.
Die vraag is: hoe reageer jy op hierdie dinge? Hoe het die Christene in Nero se tyd gereageer? Ongelooflike verhale is vertel van gelowiges wat Paulus se woorde onthou het en terwyl hulle wreedaardig gesterf het, het hulle lofsange tot eer van God gesing. Dit moes die Romeinse toeskouers ‘n pyn gegee het, want hulle het spesifiek gekom om te sien hoe die Christene krepeer van angs. Daar is ook talle verhale van Romeine wat tot bekering gekom het spesifiek as gevolg van wat hulle daar sien gebeur het.
Die Christene was so totaal anders as die ongelowiges. Kan dieselfde van my en jou gesê word?
Dikwels kom hierdie dinge op ons pad met ‘n doel. Ons moet onthou dat om ‘n gelowige te wees, nie beteken dat jou paadjie hier op aarde met maanskyn en soet roosblare besaai is nie. Christen-wees is beslis nie vir sissies nie! God sal soms toelaat dat die bose ons seermaak, maar dan moet ons reaksie daarop wees dat ons te alle tye sal probeer om die vervolging te gebruik om God se Naam groot te maak. As jy byvoorbeeld gespot word oor jou geloofsoortuigings, is jou natuurlike reaksie om terug te baklei of dalk in jou dop te kruip en te huil daaroor. Vir jou spotters is dit soos vet op die vuur, want dit is presies wat hulle wil sien!
As jy egter daaroor glimlag en dit duidelik maak dat hierdie dinge jou net nader aan God dryf, sal hulle gespot versuur, want hulle het nie hulle doel bereik nie. Maar nog meer: net miskien sal een van hulle besef wat God se vryspraak aan jou kan doen, en dat hy sélf daardeur tot bekering kom. As dit gebeur, dan was die bietjie vervolging wat jy moes verduur deur en deur die moeite werd.
Gister het ons gesien hoedat ons passievol en met groot liefde by die kerk betrokke moet raak. Vandag vra Paulus baie meer: Hy vra dat ons positief, liefdevol en opofferend betrokke moet raak by die ongelowiges wat oor ons pad kom, en selfs al verwerp of spot of vervolg hulle ons, moet ons steeds God se wonderbare lig en liefde teenoor hulle uitstraal. Onthou: Jesus het gesterf vir sondaars, nie vir goeie mense nie. Onthou ook dat Hy jóú gered het, in gróót liefde, en dít terwyl jy nog Sy vyand was! Sal ons nie dieselfde doen teenoor ons medemens nie?
Gebed:
Here, gee my die deursettingsvermoë, durf en genade om U liefde teenoor almal uit te straal, selfs wanneer ek vervolg word.