1 Timoteus 5:17-23
Vir baie jare al is ek betrokke by die opstel van ons gemeente se nuusbrief. By verskeie geleenthede het iemand my in die oor gefluister dat daar ongelukkigheid was oor die een of ander aspek van die nuusbrief. “Die mense kla oor sus en só,” het die persoon dan vir my gesê. Natúúrlik raak 'n man mos bekommerd wanneer mense nie meer gelukkig is met die produk wat jy lewer nie. Toe begin ek navraag doen oor wie almal dan nou só ongelukkig was. Tot my groot verrassing moes ek uitvind dat hierdie “mense” gewoonlik slegs een enkele persoon was! Ek het later geleer om te vra: “Hoevéél mense kla?” Ook oor hierdie dagstukkies was daar ook al hewige kritiek, mense wat kla dat hulle te lank is, te ingewikkeld, te vol stories, te wat-ookal. Die probleem is dat as ek dit moet verander elke keer as iemand kla, dan kan ek dit net sowel opgee want jy sal nóóit almal kan tevrede stel nie!
Hewige kritiek op die manier wat leiers dinge hanteer, sal daar altyd wees. Leierskaptwis het boonop as gevolg hiervan al baie skade berokken in ‘n gemeente. Natuurlik is opbouende kritiek ‘n baie goeie ding en daaroor het ek géén probleem nie. Iemand het eenmaal vir my geskryf dat my dagstukkies wemel van spelfoute en dat dit steurend is. Ek móés iets daaraan doen! Vir die oomblik het ek seergemaak gevoel, maar dit het my tot aksie gedwing om elke oggend iemand te kry (my Mosbolletjie) om dit eers te redigeer voordat ek dit uitstuur. Vandag sê ek gróót dankie aan daardie persoon wat my so positief gekritiseer het! Ek sê terselfdertyd ook ‘n baie groot dankie vir my Mosbolletjie wat so getrou my dagstukkies deurlees met ’n vergrootglas. Dit is egter negatiewe, afbrekende kritiek wat skade doen en sulke dinge moet in die gemeente ten alle koste vermy word. Die leraar is gewoonlik ook die een wat die ergste moet deurloop, dikwels totaal ongegrond.
Gemeenteleiers moet veral hulleself daarop toelê om op só ‘n manier met ander leiers in die gemeente om te gaan dat dit die werk van God bevorder en nie afbreek nie. As leier moet jy jou eie optrede baie krities beskou en leer om jou medeleiers se goeie en swak punte te hanteer. Medeleiers wat hard werk, moet ondersteun en aangemoedig word en daar moet waardering vir hulle werk wees. Dit kos absoluut niks om vir iemand “dankie” te sê nie!
Dan is daar die omstrede kwessie van vergoeding: Ek het al by verskeie geleenthede gehoor hoedat ‘n leraar moet aanhoor dat hy gans en al te veel betaal word vir die enkele uur wat hy elke week werk (sic)! ‘n Sendeling merk eenmaal op, nadat daar besluit was om hom ‘n verhoging te gee: “Nou hoef ek nie meer te bid vir sjielings nie, maar ek kan vir siele bid!” Paulus haal aan uit Deut. 25:4 as hy sê dat jy nie ‘n bees waarmee jy dors se bek mag toebind nie. Net soos die bees nie mag vrek van die honger nie, so mag jy nie toelaat dat ‘n persoon wat voltyds in jou diens is honger ly nie. Hy haal ook Jesus se woorde in Lukas 10:7 aan: “Die arbeider is geregtig op sy loon.”
Inderdaad is daar leraars wat hulleself verryk uit die Evangelie, maar hulle is nie hier ter sprake nie. Dit gaan hier oor die feit dat die leraars van die gemeente behoorlik versorg word en dat die gemeente hulle finansieel só moet dra dat hulle nie hoef te bekommer oor die materiële nie, maar ál hulle aandag kan skenk aan koninkrykswerk.
Dit bring ons by ‘n ander baie seer puntjie, naamlik sendelinge wat dikwels in haglike omstandighede werk en van ‘n hongerloon moet leef. Dikwels hoor jy iemand opmerk: “Die Here sal voorsien!” Ja, inderdáád voorsien die Here ryklik vir baie gemeentes en Hy wil juis húlle gebruik om vir daardie sendelinge te sorg. As daar dus ‘n brief kom na die kerkraad wat die nood van ‘n sendeling uitlig - moenie jou ore toedruk daarvoor nie! Ons gemeente-gesin is baie groter as net ons eie leraar en lidmate! Die nood daar buite is baie groot.
Paulus raak ‘n verdere teer puntjie aan in vers 23 wanneer hy vir Timoteus vermaan om “nie langer net water te drink nie.” Paulus se raad aan Timoteus is: “Gebruik ‘n bietjie wyn vir die maag en vir jou herhaalde ongesteldhede.” Nee, hierdie is nie ‘n oproep om wyn te drink nie, alhoewel ek dit baie graag so sou wou sien! Christenleiers is berug vir hulle swak gesondheid! Die slim mense reken dat leraars van die heel hoogste stresvlakke van alle beroepe beleef. Daarby kom die gedurige kontak met ander siek mense, lang werksure, swak eetgewoontes, gedurige spanning - noem maar op. As ons hierby voeg, die dwaling dat ‘n Christenleier maar sy liggaam kan afskeep solank sy gees net reg is, dan sit ons hier met ‘n gróót probleem!
Paulus gee so ‘n stukkie eietydse raad en daarmee wil hy vandag vir ons sê dat die leraar sy liggaam moet oppas. Hy moet omsien na sy gesondheid want ‘n fikse en gesonde Christenleier kan baie meer diensbaar wees vir ‘n gemeente as een wat sy gesondheid verwaarloos. As Christenleier moet jy dus ‘n punt daarvan maak om ‘n gesonde, gebalanseerde leefstyl en ‘n goeie eet- slaap- en oefenpatroon te handhaaf. Onthou: ‘n gesonde gees benodig ‘n gesonde liggaam!
Gebed:
Here, leer my asseblief om onpartydig, onbevooroordeeld en onberispelik op te tree teenoor ander!