Droefheid het deel geword van Naomi se lewe. Met groot droefheid in haar hart, moes sy haar vaderland, Juda verlaat en verruil vir die heidense Moab. Toe sterf haar anker in die lewe, Elimelek. Skaars is haar seun Maglon getroud, of ook hy sterf.
Nog steeds was dit nie die einde van al Naomi se droefheid en ellende nie. Kort na Maglon se droewige dood, breek die einde ook vir Kiljon (die gedane) se kortstondige lewe aan. Daar was ‘n geveg met hulle buurland. Omdat Kiljon nie ‘n Moabiet was nie, moes hy in die voorste linie veg. Hy is noodlottig gewond. En vir die tweede keer in ‘n baie kort tydjie huil Naomi en haar liewe skoondogters hartverskeurend op mekaar se skouers.
Met ’n skok besef Naomi dat sy nou nie alleen meer met ‘n groot droefheid sit nie, maar sy het ‘n reuse krisis op hande. Hier is skielik drie weduwees saam in een huis - ‘n ramp! As weduwee het hulle geen status gehad nie, en nog minder die vooruitsig van enige inkomste of oorlewing. Die verdere ramp was dat haar man, Elimelek, nou geen nageslag het nie. En boonop is sy ‘n vreemdeling in ‘n heidense land. Wat gaan van haar word? Die twee meisies kan dalk weer trou, maar sy sit met ‘n reuse krisis op hande.
Kan jy jouself dalk vereenselwig met hierdie verskriklike situasie? Inderdaad was ek sélf al daar, waar dit gelyk het asof daar géén uitkoms is nie, die einde van die pad. Jy was waarskynlik óók al die een of ander tyd in jou lewe in so ‘n situasie.
Maar gelukkig is dit nie waar die verhaal van Rut eindig nie, dit is eintlik waar die regte verhaal begin. As Naomi se krisis ook jou krisis is, kan jy gerus maar verder lees, want soos wat die verhaal ontvou, sien ons dat Naomi se krisis verander word in ‘n geleentheid wat baie, baie verder reik as net die enkele hoofkarakter in die verhaal. Waar God betrokke is in jou lewe, kan ‘n situasie wat vir ons na ‘n ramp lyk, dikwels ‘n geleentheid word vir God om iets totaal nuut in ons lewe te begin. Ek kan getuig daarvan, want in my eie lewe het daar die ramp van ‘n bankrotskap gekom. Dit het egter die ruimte geskep waar die Here my die geleentheid gegee het om in Sy diens te kan staan. Waar my werk dikwels vir my ‘n pyniging was, is dit nou elke oomblik vir my ‘n vreugde, want ek kry die geleentheid om ‘n verskil te maak in mense se lewens.
Naomi het deur krisis op krisis gegaan, maar sy het besluit dat sy nie sou gaan lê nie. Daar was een hoop in haar lewe waaraan sy steeds krampagtig bly vasklou het, haar onwrikbare geloof in God. Ja, sy sou nog harde bene kou op die pad vorentoe, maar daar was hoop, en daardie hoop het haar aangespoor om aan te hou. Vir jou is daar ook dieselfde hoop. Byt vas! God is getrou!
Net wanneer dinge op hulle héél ergste is, kom daar vir Naomi ‘n stukkie goeie nuus. Sy kry die berig dat die Here ‘n uitkoms gegee het in haar vaderland, Juda. Dit het goed gereën en daar was ‘n goeie oes. Dit laat weer ‘n sprankie hoop in haar opvlam. Dalk kon sy teruggaan na Juda toe. Daar bly al haar vriende en familie mos. Wie weet, net miskien sal daar vir haar ‘n uitkoms in Juda wees. Daar kan dit mos net beter wees as hier in die heidense land met sy afgode. Hier is niks meer vir haar oor nie. Sy het nou wel hierdie twee wonderlike skoondogters wat haar onvoorwaardelik liefhet, en haar so mooi versorg. Maar buiten hulle het sy absoluut niks hier nie. En boonop staar die drie van hulle saam ‘n groot ramp in die gesig, want hulle ou geldjies is vinnig besig om op te raak. En daar is niemand wat vir hulle kan voorsien nie!
Hier sien ons hoe nou verweef Goddelike beskikking en menslike handeling met mekaar is. God voorsien daar ver in Juda, maar om die vrug te pluk van God se voorsiening, moet Naomi nie alleen ‘n besluit maak nie, maar sy moet iets daadwerklik doen. Sy moet daardie voorsiening van die Here gaan opeis. Dikwels voorsien Hy ook in my eie lewe, maar terselfdertyd vra Hy van my om aktief iets te doen om Sy voorsiening of seën op te eis. Ons kan nie maar net bakhande staan en ontvang nie, daar word van ons ‘n aksie gevra.
Maar één ding het Naomi nie in gedagte gehou nie: haar twee skoondogters. Rut en Orpa was saam met haar in hierdie ellende gedompel, en hulle was albei nog steeds lojaal aan hulle skoonma.
Naomi besef egter dat albei nog bloedjong meisies is. Al is hulle weduwees, is hulle nog in die fleur van hulle lewens. Boonop is albei beeldskone meisies en uiters hubaar. Hulle moet maar agterbly en weer hulle flikkers gooi vir die manne van Moab. Hulle sal wél albei baie vinnig opgeraap word.
Naomi neem finaal die besluit om terug te trek na Juda. Maar dan kom daar ‘n splinternuwe probleem: haar twee skondogters dring daarop aan om saam te gaan. Hoe Naomi ookal verduidelik dat hulle hier weer kan trou en dat sy hulle absoluut niks meer kan bied nie, hulle byt vas en sê dat hulle haar nie in die steek sal laat nie. Hulle trek saam!
Gebed:
Here, so dikwels in my lewe het ek al gesien hoe U uitkoms gee wanneer dinge vir my op die donkerste is. Dankie Here, dankie dat U voorsien!