Matteus 13:18-23
Jesus se volgelinge sit rondom Hom in die skuit. Op die strand staan daar ‘n skare van mense wat wag dat iets gebeur, maar Jesus is eers besig met hierdie handjievol manne. Dit is van uiterste belang dat hulle behoorlik sal verstaan waaroor hierdie gelykenis gaan, want hulle hele werksopdrag is geskoei rondom die waarhede wat in hierdie gelykenis saamgevat is. Die storie is eenvoudig: ‘n saaier wat sy saad strooi op ‘n klipperige land. Van die saad het op die pad geval en die voëls het dit dadelik opgepik. ‘n Ander deel het op klipbanke geval waar dit wel begin groei het, maar sonder genoeg grond kon dit nie lank aan die lewe bly nie. ‘n Derde deel het tussen die onkruid geval en is verstik. Die goeie nuus is dat van die saad ook in goeie grond geval het en dat dit gegroei het en vrugbaar was.
Nou verduidelik Jesus aan die manne dat daar ‘n dieper boodskap skuil agter die storie, en dat die saad eintlik die evangelieboodskap is, en dat verskillende mense verskillend daarop reageer. Die vraag is egter: waarom het Jesus aan die manne die gelykenis verduidelik? Hulle het tog almal alreeds die boodskap ontvang en almal van hulle het positief daarop reageer. Hulle is almal die goeie grond, en die vrug kan alreeds in hulle lewe gesien word. Het hulle dan so ‘n boodskap nodig? Dalk wonder jy oor Judas. Hy was ook daar. Het hy ooit waarlik positief reageer?
Ons is van kleins af geleer oor hierdie mooi gelykenis. Dit beteken mos dat dit ‘n oproep is aan die mense wat die Woord hoor. Jy moet die regte reaksie toon wanneer die Here met jou praat deur Sy woord. Jy moet as’t ware daarna streef om die “goeie grond” te wees sodat die saad van die evangelie wat in jou lewe gesaai word, sal groei tot volwassenheid en sal vrug dra. En dit is heeltemal reg ook. Vandag vra die Here dan ook van jou, dat jy eerlik vir jouself die saak moet uitmaak of jy werklik daardie goeie grond is, en of die saad wat in jou lewe gesaai is waarlik vrug dra.
Maar daar is ook ‘n ander betekenis aan hierdie gelykenis. Jesus wou juis primêr by die dissipels hierdie totaal ander betekenis tuisbring om hulle te bemoedig, want binnekort sou hy hulle uitstuur en dan moes hulle gemotiveerd bly, al sou almal nie positief op die boodskap reageer nie. En as jy deel is van die “goeie grond” en besig is om vrug te dra, dan is hierdie betekenis ook vir jóú bedoel. Vir jou gaan dit eerder oor die saaier, die persoon wat die goeie nuus verkondig op watter wyse ookal. Hierdie gelykenis dien om elkeen wat die saad van die woord saai te bemoedig in hulle arbeid. Persoonlik kan ek vanoggend bely dat ek al menigmaal bitter teleurgesteld was wanneer ek die Woord gesaai het, en dit is net eenvoudig verswelg deur die onkruid. Of dit lyk vir my asof my boodskap met blydskap aanvaar word en daar is groot vreugde, maar ‘n maand of twee later het alles verdor, nes die saad wat op die klip geval het en die pragtige jong plantjie deur die son verskroei is. Dit maak jou moedeloos!
‘n Leraar kan Sondag-na-Sondag op die kansel staan en die Woord verkondig, maar aan die einde van die dag voel dit vir hom asof daar net mooi niks gebeur nie! Die gemeentelede is nog steeds verdeeld en hulle skinder steeds van mekaar! Sy woorde het tussen die onkruid geval, of erger nog: dit het op die klipharde pad geval! Nog voordat die mense by die kerkdeur uitgestap het, het die voëls alreeds al die saad opgevreet! Hulle het net mooi nie ‘n enkele woord gehoor van wat hy gesê het nie! So voel dit dikwels vir ‘n prediker.
En dit is nie net die leraars wat dikwels so voel nie. Ek en jy gesels moontlik met iemand oor die Here - gee dalk vir hom ‘n traktaatjie of stuur vir hom ‘n Whats-App. En dan is daar geen reaksie nie! Jy voel asof al jou beste pogings totaal waardeloos is.
Hierdie gelykenis wil ál die saaiers bemoedig en aanmoedig om aan te hou met saai. Ja, daar sál saad op die pad en tussen die bossies en op klippe val. Maar dan moet jy wéét dat daar iewers ook saad sál val in die ploegvore, en daardie saad gaan groei tot volwassenheid en sélf ook weer vrug dra. Moet nooit óóit ophou met jou sendingpogings nie, al voel jy soms moedeloos. En moet nooit óóit ophou om die evangelie uit te dra nie, want iewers is daar iemand wat nét wag vir daardie boodskap van jou.
In Matteus se tyd was hierdie gelykenis ‘n bemoediging aan die hele gemeente, want almal het deelgeneem aan die saaiproses. Dit was nie net die leraar wat gesaai het nie. Vandag wil hierdie gelykenis nie net die leraar bemoedig nie, maar vir my en jou as “gewone” gemeentelede aanmoedig om deel te word van die saaiproses, en nie moedeloos te raak wanneer dit voel asof die saad nooit óóit op vrugbare grond val nie. Ek het eendag ’n lang gesprek gehad met ’n man wat op die punt was om selfdood te pleeg. My beste pogings om hom te probeer oortuig het gevoel soos saad tussen die onkruid. En skielik kom daar ’n deurbraak en hy ontmoet Jesus teen alle verwagtinge in. Wat ’n heuglike dag! Kom, saai saam! God sál vrug gee op ons arbeid!
Gebed:
Here, dankie vir hierdie wonderlike bemoediging dat my arbeid nie verniet is nie. Dankie dat U vrug gee op my arbeid, al sien ek dit dikwels nie eers raak nie. Gee my asseblief die deursettingsvermoë om aan te hou om te saai!