Markus 7:31-37
In Jesaja 35 sing die beroemde profeet ‘n profetiese loflied wat handel oor die koms van die Messias, Jesus. Hier is enkele uittreksels: “Laat die woestyn en die dor land hulle verheug, laat die Araba juig en blom soos 'n tulp........ Maak die slap hande sterk, versterk die wankelende knieë. Sê vir dié wat angstig is: “Hou moed, moenie bang wees nie! ........ Dan sal die oë van blindes oopgaan, en die ore van dowes sal oopgaan. Dan sal 'n verlamde spring soos 'n wildsbok, en die tong van 'n stomme sal jubel; want in die woestyn sal water uitbars, strome water in die Araba.” (Jesaja 35:1-6)
Wat ‘n aangrypende lied! En hier vlakvoor die oë van die dissipels word hierdie profesie bewaarheid. Hulle sien ál hierdie dinge gebeur - so onwerklik. En tóg gebeur die dinge waarvan Jesaja sing!
Jesus het teruggekeer uit Fenisië, en nou het Hy Hom weereens in ‘n nie-Joodse gebied bevind langs die See van Galilea, die Dekapolis. Die vorige keer toe Hy in hierdie streek was, het die mense Hom gevra om liewer maar te loop, want hulle was bang. Dit was nadat Jesus die besete man genees het en die varke in die see ingejaag is deur die demone. Jy sal onthou dat hierdie man dwarsdeur die Dekapolis gebied gaan verkondig het wat Jesus gedoen het. Dalk was die mense nou al méér ontvanklik vir Jesus omdat hulle oor Hom gehoor het van daardie man.
Nou het die mense ‘n dowe man met ‘n spraakgebrek na Jesus gebring, en Hom gevra om asseblieftog Sy hande op die man te lê. Jesus het die man eenkant toe geneem, Sy vingers in die man se ore gedruk, spoeg aan sy tong gesmeer en in Aramees (Sy moedertaal) gesê: “Effata!” wat beteken “Gaan oop!” Oombliklik was die man genees en hy kon normaal hoor en praat.
Die mense was in verwondering! ‘n Gedruis het deur die skare gegaan: “Hy het alles goed gedoen – selfs dowes laat Hy hoor en stommes laat Hy praat.” Dis baie meer as wat enige van die sogenaamde wonderwerkers van hulle land óóit kon regkry. Die woord het soos ‘n veldbrand versprei, totdat almal in die streek geweet het van Jesus.
Met hierdie vertelling wou Markus dit beklemtoon, dat Jesus nie maar net nóg een van die wonderwerkers was nie, maar dat Hy baie, báie meer was. Vandag moet ons ook terdeë besef dat Jesus baie spesiaal is. Hy is groot genoeg dat ons Sy lof kan en móét besing, soos Jesaja dit gedoen het: “Die woestyn, die dor land, sal jubel, die droë wêreld sal juig!” (Jes. 35:1 - 1983 vertaling)
Ons is so geneig om Jesus maar sommer as vanselfsprekend te aanvaar. Hy is nou maar eenmaal daar en Hy sal by ons wees deur alle omstandighede! Ja, ons weet dit inderdaad al lankal, maar besef ons ooit werklik die grootheid van Jesus? As ons Sy lof besing, doen ons dit waarlik met die wete dat ons dit vir Koning Jesus, die grootste van alle konings van alle tye doen? Besef ons aldag Wie Hy werklik is? En betoon ons Hom werklik al die eerbied wat Hom toekom?
Het jy al ooit op ‘n yskoue Karoo-nag buite gesit en die wonder aanskou van die skepping - Jesus se skepping? As jy bibberend van die ysige lug opkyk na die hemelgewelf, dan bewe jy nie meer van die koue nie, maar van verwondering oor die onmeetlike, asemrowende skoonheid van dit alles. Die kleurewonder van die miljoene-der-miljoene sterre, te veel vir die menslike verstand om te kan verwerk. Dit laat jou snak na jou asem en jy wil net aanhou kyk en kyk en die skoonheid daarvan indrink en diep hier binne bewaar vir altyd. Dan besef jy dat Jesus, Skepper-God dit alles gemaak het met die spreek van ‘n enkele woordjie. Net soos Hy een enkele woordjie gebruik het om die doofstom man te genees.
En het jy al ooit ’n nag in die Bosveld langs ‘n knetterende vuurtjie gesit en luister na die musiek van die bos? Na die magtige leeu se brul wat kilometers ver oor die veld aangesweef kom op die aandluggie? Die reuse olifant se trompetter en diep, diep rammelinge wanneer hulle snags in die Krokodilrivier baljaar? ‘n Rooijakkals se nostalgiese lied as hy sy maat roep? En die sagte “Koer-koer” van ‘n skopsuiltjie iewers in ‘n doringboom? Musiek wat trane in jou oë bring - musiek wat die lof van Jesus besing soos géén simfonie-koor dit kan doen nie! Musiek wat vertel van die fyn handewerk van ‘n Skepper wat nie alleen die onmeetlike hemelruim gemaak het nie, maar ook die olifant, die leeu en die piepklein ou skopsuiltjie, elkeen absoluut volmaak, soos nét die Meester dit kon doen.
En as jy dan daar so broos en uitgelewer aan die magtige bos met al sy gevaarlike diere sit, besef jy dat hierdie selfde Jesus - die Almagtige Skepper-God - óók die Alomteenwoordige is. Dan kom jy tot die besef dat Hy hier langs jou - bý jou is. Dat Hy omgee vir jou en jou oneindig liefhet. Dat Hy ‘n plan - ‘n fyn uitgewerkte plan vir jou lewe het en dat Hy jou Sy kind gemaak het uit genade.
Dan wil jy dit uitjubel saam met Jesaja van ouds: “Die woestyn, die dor land, sal jubel, die droë wêreld sal juig!”
Gebed:
Here Jesus, ek aanbid U, want U is groot en goed en Almagtig. Géén lied sal ooit U lof na waarde kan besing nie. Ek loof U met alles wat binne-in my is!