Lukas 18:35-43
Die arme ou drommel sit onder sy gewone boompie langs die grootpad buite Jerigo, waar hy nou al vir donkiesjare sit. Elke geluid van die omgewing ken hy soos die palm van sy hand. As Sebedeus nog ver aangestap kom, dan ken hy hom al aan sy voetstappe en hy roep opgeruimd: “Môre Sebedeus!” Ja, inderdaad is hy blind en daarom is daar nêrens vir hom werk nie. Dis só onregverdig! Maar die blindheid maak al sy ander sintuie skerp. Hy ken elke vrou van die omgewing aan die geur van haar parfuum en geen stem van ‘n plaaslike is vir hom vreemd nie. Maar hoe verlang hy nie daarna om bevry te kan wees van sy bedelaarsbestaan nie! Hoe wens hy nie dat hy ook ‘n gewone dag se arbeid kan doen in plaas daarvan om verbygangers in die oë te moet kyk (?) vir ‘n ou aalmoesie nie!
Opgewonde droom hy van die dag as daardie opwindende Profeet Jesus hier sou verbykom. Hy het al gehoor van die wondergenesings wat hierdie Man van God doen. Die mense fluister dat Hy moontlik die Messias, die Seun van Dawid is waarvan die profete geskryf het!
Hy luister glimlaggend na die sang van ‘n voëltjie hier naby hom in ‘n boom. En dan kom daar by hom ‘n vreemde gewaarwording. In die grond voel hy ‘n eienaardrige trilling, so asof daar duisende mensevoete die aarde stamp. Skielik begin sy hart wild bons. Sê nou net - sê nou net dat dit dalk daardie Jesus kan wees! Die trilling word al hoe meer intens, en dan saggies in die verte hoor hy die geskuifel van duisende voete wat nader en nader kom. Dit móét Hy wees! Bitter stadig harmansdrup die tyd verby. Hy wil die skare tegemoet hardloop, maar sy blindheid keer hom. Nee, dalk moet hy eerder nét hier wag, want hulle gaan hier by sy boompie verby móét kom!
Die gedreun van stemme en knars van sandale op die gruispaadjie raak ‘n oorverdowende gedruis soos ‘n reuse duisendpoot in aantog. “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U oor my!” Hy skree so hard as hy kan om bo die skare se lawaai te probeer uitkom, maar dit lyk of niemand hom hoor nie. “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U oor my!” Hy skree weer, oor en oor, uit volle bors. “Aag bly tog stil, jy lawaai!” probeer iemand hierdie lastige vent stilmaak.
Skielik raak dit stil. Die stoet ruk tot stilstand as Jesus gaan staan. “Bring daardie man na My toe,” vra Hy sy dissipels. Hulle wil Hom nog onwillig daaraan herinner dat daar nie nou tyd is vir wonderwerke nie, want Jerusalem wag mos......! Maar dan word die blinde deur die beklemmende skare deurgewurm tot voor Jesus. Die man voel hy wil flou word! Kan dit óóit waar wees? Sy knieë wil-wil onder hom knak. Dan hoor hy die sagte stem vol deernis: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”
“Here, dat ek kan sien,” stamel hy. Daar sak ‘n heilige stilte toe oor die skare. Jy kan eintlik hoor hoe die nekwerwels kraak soos mense hulle nekke rek om te kan sien wat daar gebeur. Dan hoor die blinde weer die deernisvolle stem: “Goed, jy kan sien! Jou geloof het jou gered.”
Skielik gaan die ganse wêreld vir hom oop. Verbouereerd kyk hy vas in die gesigte van derduisende mense rondom hom. “Ek sien! Ek kan sien!” Jubelend, dansend stroom die lofbetuigings teenoor God oor sy lippe terwyl die trane van dankbaarheid oor sy wange stroom. Skielik kom die besef dat hy nou mos nie meer geklooster is aan sy ou boompie waar hy dag-vir-dag moet sit nie. Al jubelende raak hy dus deel van die skare wat Jesus volg. Van hierdie Jesus wil hy hom nooit, óóit weer losmaak nie! Sy opgewondenheid is baie aansteeklik, en in ‘n ommesientjie dans en sing en jubel die ganse skare saam met hom en sing lofliedere tot eer van God!
Wat daardie dag gebeur het is ‘n ware snak-na-jou-asem wonderwerk, en dit kon nie anders nie as om almal daar se verbeelding aan te gryp. Selfs met vandag se ongelooflike mediese kennis, bly dit steeds ‘n asemrowende wonderwerk. As jy egter mooi gaan dink, dan beleef ons vandag nét sulke groot wondere. Wat ‘n asemrowende wonder is dit nie as iemand wat geestelik blind is, een dag skielik net kan sien. Dit vat net iemand wat deur die Here gestuur is om met die persoon te gesels, en skielik val die skille van sy oë af en dan weet hy dat hy ‘n kind van God is! Skielik daardie wonderlike besef dat sy naam in die Boek van die Lewe opgeskryf is! Dit het in 1974 met my gebeur, en my blydskap het géén perke geken nie! Dit was baie jare gelede maar steeds wil ek dit uitbasuin vir almal om te hoor: “Jesus het my gered!”
Die groot geheim is dat ek en jy daardie vreugde, opgewondenheid en blydskap op só ‘n manier moet uitleef, dat dit aansteeklik is. Ek daag jou uit om die wonder van jou redding vandag só entoesiasties uit te leef! Jubel dit uit dat almal rondom jou sal lus kry om saam te sing. Dink net watter uitwerking dit sal hê op die ongelowiges by jou. Dalk kry hulle ook lus vir hierdie heerlike lewe. Wees ‘n ambassadeur, ‘n baie opgewonde ambassadeur vir Jesus!
Gebed:
Here, ek wil dit vanoggend uitjubel sodat die wêreld dit kan hoor, dat U my blindheid genees het!