Genesis 29:12-30
Wanneer Jakob vir Rachel ontmoet, hardloop sy vinnig terug om vir Pa Laban te vertel van die ontmoeting. Jakob staan nog en wonder oor hierdie verleidelike skaapwagtertjie, toe ‘n stokou man reguit na hom toe aangehardloop kom. “Laban,” beduie die herders.
Die vorige keer toe iemand daar uit Oom Abraham se wêreld gekom het, het hy sakke vol goud saamgebring. Maar die kêrel wat hy vanmiddag hier by die put kry lyk maar bra verwaarloos. En waar is al sy kamele en bagasie dan?
“Wie is jy nou eintlik? En wie is jou pa en jou oupa en jou oupagrootjie? Hoe steek die familie inmekaar?” wil Laban weet. Jakob moet mooi verduidelik en dan is Laban tevrede: “Nou maar kom saam huis toe, daar is slaapplek vir jou.”
Jakob se kuiertjie rek uit na ‘n volle maand, en Laban begin kriewelrig raak. “Hoe lank gaan die kêreltjie nog bly?” Maar intussen het Jakob net één ding in sy kop: daardie verruklike dogter van Oom Laban, Ragel. Haar ouer sussie, Lea, het die mooiste sagte oë, soos diep waterpoele. Maar sy is nou nie juis wat jy sou bestempel as ‘n olieverfskildery nie. Haar oë pas gladnie by die res nie. Jakob het klaar besluit: “Vir Ragel wil ek hê as my vrou!”
Laban het agtergekom dat Jakob nie ‘n sent op sy naam het nie. Hy is half teleurgesteld. Maar hy sien gou dat daar nie ‘n ding verkeerd staan vir die mannetjie se twee hande nie, flukse kêrel! Hierdie mannetjie kan baie nuttig wees hier rond. “Wil jy nie vir my kom werk nie?” Jakob lyk ingenome met die idee. “Wat moet ek jou betaal?”
Laban trap reg in die strik, en Jakob kan sy geluk nie glo nie. “Jou dogter,” gryp Jakob die geleentheid aan met albei hande. “Jou jongste, Ragel!”
Laban val amper van sy stoel af. Hoe gaan hy uit hierdie penarie kom? Lea is die oudste, en sy moet eerste getroud kom! Sy sit al hoeka op die rak, want niemand wil haar hê nie. Dan dink hy aan ‘n briljante plan: As hy vir Jakob sê dat hy sewe jaar lank vir Ragel moet werk, sal Jakob beslis tweekeer dink oor die aanbod. Maar Laban het nie rekening gehou met die sterretjies in Jakob se oë nie. “Ek aanvaar dit! Dankie Oom Laban!”
Sewe jaar is ‘n lang tyd om te werk vir jou bruid. Maar vir Jakob het dit verby gevlieg soos ‘n gedagte. Voor Jakob sy oë kon uitvee, was die tyd verby. Maar toe sit Laban met ‘n reuse dilemma. Nog steeds het Lea nie ‘n man nie, en sy is nou al lankal verby die “sell-by” datum. Nou moet hy ‘n plan maak. Maar wat? Jakob het klaar sewe jaar gewerk vir Ragel, hy kan mos nie nou op sy woord teruggaan nie? Maar tradisie skryf voor dat die oudste dogter eerste moet trou, en daar kan hy nie verby kom nie!
Maar Laban het ‘n slinkse plan.
Die bruilof word gereël en Jakob is in die sewende hemel. “Uiteindelik!” bokspring sy hart. Gaste kom van heinde en verre en dit is gróót makitie. Daar word gedans, gedrink, geëet, gesing en musiek gemaak tot laatnag toe. En dan kom die huweliksnag, die nag waarop Jakob al sy hele lewe lank wag. Volgens tradisie word Jakob onder groot gejuig begelei na sy tent toe om daar te wag op sy bruid. Terwyl hy daar in die halfdonker sit met ‘n hart wat in sy keel klop, doen die slinkse Laban ‘n liederlike ding. Ragel word aangesê om elders te wag, en hy gryp vir Lea en sleep haar in Jakob se tent in. “Vannag is jy Ragel!” sis hy in haar oor. “Óf jy is dood!” In die donker is Jakob se passie vir sy bruid so groot, dat hy nooit eers agterkom dat dit die verkeerde bruid is nie. Die volgende oggend kry hy die grootste skok van sy lewe. Hy is bedrieg! Woedend storm hy die tent uit op soek na skoonpa Laban. “Wat het jy gedoen? Jy het my bedrieg!”
Laban haal net sy skouers op: “Tradisie! Maar ek sal jou tegemoetkom. Jy kan Ragel óók kry oor ‘n week as jy nog sewe jaar vir my werk.” Jakob wil die man vermoor, maar hy het nie juis ‘n keuse nie, en Laban lag in sy binneste: Jakob is ‘n baie goeie werker! Hy het Laban al skatryk gemaak! Nou kan hy hom vir nog sewe jaar behou. En boonop het Lea getroud gekom!
Ons het agtergekom dat Jakob nie een is wat tradisies handhaaf nie. Sy ouer broer se eersgeboortereg en seën het hy gesteel. Téén álle tradisie in het hy met die jongste dogter getrou, en, en. Soms is tradisies nodig, maar ander kere lê dit jou aan bande. Om tradisies te verbreek, kan bevrydend wees. Maar jy moet baie mooi dink op watter wyse jy dit gaan doen, want dit kan mense dikwels baie seer maak.
Wanneer Jakob weereens ‘n tradisie wil verbreek, kry hy van sy eie medisyne terug. Al die jare was hy die hakskeengryper, die bedrieër. Nou het hy die slagoffer geword. Maar hierdie is nog géénsins die einde van die drama nie - dis nog maar die begin!
En agter al Jakob se probleme is daar drie vroue, sy ma Rebekka wat hom voorgetrek het, die beeldskone Ragel wat sy voete onder hom uitgeslaan het, en die lelike oujongnooi Lea wat getroud moes kom!
Gebed:
Here, dankie dat ek na U kan opkyk vir leiding oor hoe om met tradisies om te gaan.