Lukas 19:28-44
Petrus sug swaar as hy opkyk na die maanverligte berge voor hom. "Daar moet ons vandag nog tot héél bo klim!"
Dit is nog donker die oggend as die groepie manne uit Jerigo vertrek op hulle laaste skof na Jerusalem. Dit is 'n moeilike en gevaarlike pad wat opkronkel deur 'n onherbergsame berglandskap, op, op, op, al hoër en hoër, van die laagste stad op aarde na Jerusalem wat hoog in die berge lê. Jesus stap doelgerig voor en die manne moet sukkel om by te bly. Uiteindelik, laatmiddag, stap hulle al blasend en doodmoeg oor die laaste bult. Voor hulle pryk die pragtige stad Jerusalem in sy volle glorie!Hier onder hulle, laer af teen die Olyfberg lê die dorpies Betanië en Betfage.
Petrus was al 'n paar keer in Jerusalem, maar elke keer wat hy hier kom, tref die asemrowende skoonheid van die stad met sy indrukwekkende bouwerke en majesteuse muur hom. Hy vee 'n ongemaklike traan uit die oog en dan kyk hy rond om seker te maak dat die ander nie sien dat hy so emosioneel aangedaan is nie. Hy hoor skaars as die Meester vra dat iemand vir Hom 'n donkie gaan haal.
Jesus beduie vir die manne presies waar hulle die donkie sal kry, onder in die dorpie.
Intussen het die nuus van Jesus se aankoms by Jerusalem die inwoners bereik en van oral begin mense stroom na waar Jesus en die manne wag vir die donkie.
Petrus is alweer uit die veld geslaan, want waarom wil sy Rabbi dan juis nou 'n donkie hê, noudat hulle klaar gereis het? “Meester,” begin hy versigtig, want hy wéét sommer dat hy alweer die verkeerde ding gaan vra, “waarom die donkie?”
“Ek het hom nodig, Petrus.” En daarmee is die saak afgehandel, met Petrus wat steeds totaal in die duister is.
Wanneer twee manne met Jesus se donkie opdaag, is daar alreeds 'n aansienlike skare baie opgewonde mense om Hom saamgedrom. Wanneer Jesus die donkie wil bestyg, gooi iemand kledingstukke oor die dier se rug sodat Jesus daarop kan sit.
Petrus kan nie help om te sien dat hierdie klomp mense vandag 'n soort vrolikheid in hulle het. Hulle kom nie met die gewone versoeke van siekes wat genesing nodig het of besetenes wat bevry moet word nie. Hy sien 'n dringendheid in hulle. Hy hoor net so terloops iemand fluister dat hierdie Jesus koning gemaak móét word sodat Hy hulle van die Romeine kan bevry.
“Nee, nee!” wil Petrus skreeu. “Julle het dit verkeerd!” Maar dis reeds te laat, want soos wat hulle teen die Olyfberg afbeweeg begin die skare dreunsing: “Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom!” Petrus voel hoe 'n angs hom aan die hart gryp. Besef die mense ooit wat hulle sing?
“Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel!” dreunsing die skare voort.
Dan gaan Petrus se hart amper staan as hy die groepie woedende Fariseërs aangestorm sien kom. “Meneer, maak stil u volgelinge!” beveel hulle Jesus.
Maar Jesus antwoord hulle: “As hulle stilbly, sal die klippe dit uitroep!”
Wanneer hulle naby die stadspoort kom raak die skare rasend. Hulle wil nóú vir Jesus as Koning hê. Petrus kyk bekommerd in sy Meester se rigting, wat moet hy maak? Maar dan, tot sy ontsteltenis sien hy hoe Jesus snikkend huil. “Jerusalem, Jerusalem.....” Petrus se oë skiet vol trane as hy sien hoedat Jesus se liggaam ruk van aandoening. “As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor!”
Petrus draai om en stap 'n ander koers in. Sy hart is stukkend oor sy Meester se droefheid. Hy verstaan hoe Jesus voel en hy voel so magteloos oor die mense se dwaasheid. Kan hulle dan nie insien dat die Messias vrede bring en nie geweld nie? Hy het dit die afgelope drie jaar so kennelik ervaar!
Paasfees is op hande en oor twee weke vier ons Palmsondag, die dag toe Jesus Jerusalem triomfantlik ingery het.
Ons wil vir die skare skree om eerder stil te bly, want hulle verstaan nie wat hulle doen nie! Maar as ons mooi gaan dink, dan doen ons dikwels sélf wat die skare daardie dag gedoen het. Hoeveel keer het ek nie al “Hosanna, Hosanna!” gesing en nie werklik bedoel wat ek gesing het nie? Hoe dikwels is die lofliedere wat ons sing maar net 'n lekker lied wat my goed laat voel, in plaas daarvan dat dit 'n aanbidding en lof vir God is?
Maar dit gaan verder: wanneer ek my tiende vir die Here (kerk?) gee, dan voel ek goed en ek hoop heimlik dat daardie verdienstelike daad van my gaan sorg dat die Here my seën en “terug betaal”. Dikwels doen ons goeie dade om die Here se arm op daardie manier te draai om iets in ruil daarvoor vir ons te doen. Dit is presies wat die mense op Palmsondag wou doen.
Wanneer ek iets vir die Here doen, dan moet dit sonder voorbehoud wees. Dis reg om my tiende te gee maar dit mag slegs wees omdat ek lief is vir die Here en omdat Hy alreeds soveel vir my gedoen het. En ek leef soos wat Hy wil hê ek moet leef suiwer om Hom te eer en dankie te sê en nóóit om iets terug te verwag nie!
Gebed:
Here, ek bely dat ek so dikwels met die verkeerde motiewe “Hosanna!” sing. Vergewe my en gee my asseblief die regte ingesteldheid!