Lukas 22:39-46
Ek woon ‘n klompie jare gelede ‘n kursus by saam met ‘n paar vriende. ‘n Reuse berg werk moes afgehandel word en ons het eers na middernag klaargekry. Skielik kon ons ontspan, en ons besluit om eers ‘n ou vleisie te gaan braai. Om die knetterende vuurtjie word daar gekuier tot kort voor dagbreek voordat ons eers begin vaak raak. ‘n Jaar later was ons weer besig met ‘n kursus iewers aan die Suidkus en weereens word daar gewerk tot middernag. Een van die aanbieders van die kursus, ‘n Vrystater besluit dat hy graag die son wou sien opkom oor die see. Van vroeg opstaan was daar nie sprake nie, dus besluit ons almal om maar op die strand deurnag te gaan sit en kuier en gesels tot die son die volgende oggend soos ‘n goue bal uit die see verrys. En toe hou ons verder kursus. Malligheid!
‘n Paar jaar later hou ons gemeente ‘n deurnag gebedsgeleentheid. Teen nege-uur die aand was my fut uit, en ek kon nie meer my ogies oophou nie. Slegs enkele bittereinders het dit gemaak tot die volgende oggend. Die res het een-vir-een verdwyn, ek inkluis!
Hoe bitter moeilik is dit nie om ‘n nag deur te worstel in gebed nie! Met vriende kan jy deurdruk dagbreek toe, maar met God is selfs ‘n uur te lank. Hoe maklik sit ons ‘n konsert deur vir ‘n volle drie ure, en vra dan vir nog meer, maar as ‘n erediens ‘n uur aanhou raak dit gans te lank........
Na die spannende pasga en nagmaal stap Jesus en Sy twaalf vertrouelinge oudergewoonte na die Olyfberg, waar hulle die afgelope week of wat elke nag geslaap het. Maar hierdie slag was dit anders, want in plaas van om te gaan kooi maak tussen die olyfbome in die tuin van Getsemane, gee Jesus die manne opdrag om te bid. Hulle moes veral bid dat hulle nie in ‘n baie swaar toets sou kom nie. Hyself stap ‘n entjie verder aan om alleen in gebed te verkeer.
Ek dink hulle gebed was maar baie halfhartig, want hulle was moeg en die spanning van die aand se gebeure het sy tol geëis. Gevolglik, toe daar later die nag ‘n baie groot krisis kom, was hulle totaal onvoorbereid daarvoor. Petrus het in ‘n woedebui iemand se oor afgekap met sy swaard en een van die ander het sy klere in die proses verloor en poedelnaak die nag ingehardloop. Nog erger dinge sou gebeur, alles omdat hulle nie Jesus se opdrag om deur te druk in gebed kon uitvoer nie.
Vir Jesus was hierdie tyd die grootste krisis wat Hy tot dusver in Sy 33 jaar op aarde beleef het. Die veertig dae in die woestyn moes verskriklik gewees het, en die versoeking van die duiwel nog erger. Maar dit was kinderspeletjies in vergelyking met wat Hy in Getsemane beleef het. Dink net wat alles deur jou gedagtes sou maal as jy presies geweet het wat op jou sou wag!
Dat jy dwarsdeur die nag verhoor en belieg sou word en daarna gegésel sou word totdat die stukke rou vleis uit jou rug geskeur is.
Dat jy presies kon weet wat daarna sou gebeur, van die verskriklike pyn wat op jou gewag het as die spottende soldate die ruwe ysterspykers deur jou hande en voete kap aan die houtkruis.
Dat jy alles duidelik kon vooruitsien van die versengende son wat jou liggaam sou uitmergel terwyl jy daar hang - uitgejou deur die skare en totaal van God verlate.
As Jesus maar liewer nie geweet het wat vir Hom voorgelê het nie, sou dit dalk baie draagliker gewees het. Maar Hy het hierdie dinge al in Sy gedagtes beleef nog voordat dit gebeur het.
En Hy was bang!
‘n Doodsangs het Hom omklem. Hy het gebid en vir die Vader gevra of daar nie dalk ‘n ander weg kon wees nie? Kon hierdie marteling wat op Hom gewag het nie asseblief maar opsy geskuif word nie? ‘n Koorsige sweet het Sy liggaam nat gemaak, ten spyte van die koel naglug. Sy sweet het soos bloeddruppels uit Sy voorkop gepêrel, en op die klipperige grond geplof - ‘n angssweet soos niemand dit nog ooit beleef het nie.
“Laat nogtans nie My wil nie, maar U wil geskied!” Hy plaas Homself onder God se wil.
Sy vriende wat veronderstel was om Hom by te staan deur hierdie verskriklike worsteling,het lankal vas aan die slaap gelê onder ‘n olyfboom. Genadiglik het die Vader ‘n engel gestuur om Hom te versterk, maar dit was maar ‘n skrale troos! Hy was nie totaal alleen en verwerp nie, maar die volgende dag sou dit anders wees. Wanneer Hy daar aan die kruis sou hang, sou daar niemand wees nie, nie eers ‘n engel om Hom by te staan deur die verskriklike foltering nie!
Ek dink nie ons besef werklik waardeur Jesus alles gegaan het om te betaal vir ons sondes nie. Die verskriklike marteling het begin al lank voordat Hy nog aan die kruis gespyker was, alles om vir ons volkome vryspraak te kon gee. Hy het die hel beleef in sy volle, afgryslike velheid sodat ek en jy dit kan vryspring en dat ons dit nie hoef te smaak nie. Hoe sê ons dankie vir daardie onmeetlike groot offer wat Hy gebring het? Dikwels is ons dankie baie halfhartig! Ons prewel ‘n paar vinnige woordjies. Sit ‘n haastige uur in die erediens en wens die tyd om! Is ons bereid om waarlik opofferings te maak wanneer ons vir Hom dankie sê? Kom ons gaan dink ‘n bietjie vandag ná oor wat ons waarlik bereid is om vir Hom te doen.
Gebed:
Here Jesus, ons dankie is maar hol woorde, want ons kan U nooit genoeg dank vir wat U vir ons gedoen het nie.