Huis Op Die Sandduin

30 May, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Huis Op Die Sandduin

Matteus 7:15-29

VIDEO | OUDIO

Hier langs die kus reën dit dikwels sommer baie maklik, en as dit die dag rêrag begin reën, dan kan daar baie skade kom. Wat baie mense nie besef nie, is dat die meeste kusdorpe op ‘n reuse sandduin gebou is. Oor ‘n tydperk van baie duisende jare word seesand van die strand af binneland toe gewaai, en korreltjie-vir-korreltjie word ‘n duin gebore. Plante groei daaroor en stabiliseer dit, en mettertyd kompakteer dit tot redelike stewige “grond”. Ballito en Umdloti is twee van hierdie dorpe wat op so ‘n duin gebou is en plek-plek raak die helling van hierdie duin baie skuins. Dit het natuurlik vir baie mense ‘n groot trekpleister geword, want hoe skuinser dit is, hoe meer asemrowend is die uitsig. Die enigste probleem is egter dat selfs hierdie baie skuins berg maar steeds net ‘n oer-oue sandduin is, en dat daar geen rotse onder is om dit stabiel te hou nie - al wat dit aanmekaar hou is die bome en struike wat oor duisende jare daar gevestig is. As jy nou die plante sou verwyder om jou huis te bou, skep jy ‘n potensieel-gevaarlike situasie, want dan reduseer jy dit maar net weer tot die doodgewone sandduin van duisende jare gelede. En as die groot reëns kom, spoel alles weg terug see toe, waar dit oorspronklik vandaan kom.

Dit is toe presies net wat gebeur in ‘n verskriklike nagmerrie met ‘n gesin in Ballito. Hulle huis was op die skuinste, met ‘n asemrowende uitsig tot kort deuskant Australië. Maar toe kom die groot reën. Die vrou lê die aand rustig en lees op haar bed, toe sy skielik die skok van haar lewe kry: haar bed verdwyn met ‘n slag onder haar en sy spring nét betyds af terwyl die kooi oor ‘n afgrond balanseer! ‘n Yslike gat in die vloer, groot genoeg om ‘n bed in te sluk, grynslag vir haar. Bewend van die skok lig sy met ‘n flitslig in die gat af. Wat sy daar sien laat haar yskoud word: drie meter ondertoe bulder ‘n rivier modderwater onder hulle huis deur!

In die gietende reën hardloop hulle uit om te sien wat gebeur het. Van die straat bokant die huis storm ‘n malende massa modderwater uit ‘n stukkende stormwaterpyp reg op hulle huis af. Hulpeloos moet hulle toekyk hoedat die sand onder hulle huis se fondamente wegspoel see toe, en hoedat hulle huis stadig maar seker besig is om in twee te breek.

‘n Jaar gelede het nóg ‘n groter storm die KZN kusgebied getref. Hierdie slag was dit Umdloti wat deurgeloop het, en huise en selfs woonstelle wat op die sandduin gebou was, het weggespoel!

Wat het aanleiding gegee daartoe dat Jesus oor die huis op die sand praat? Dit het eintlik gegaan oor “Vals Profete”. “Sjoe! Dankie tóg, ek is darem nie een van hulle nie!” sal jy dalk sê. Maar wie is hulle nou eintlik? Hulle is nie noodwendig dwaal-leraars nie, maar eerder dwaal-leiers wat deur hulle minagting van die liefdeswet ook die res van die gemeente verlei tot liefdeloosheid. (Lees gerus ook Matt. 24:11,12, waar Jesus hulle profiel skets.) Jesus sê dat hierdie mense selfs baie godsdienstig voorkom, en die Naam van Jesus voorhou om te wys hoe vroom hulle werklik is. Maar dit is nie maar net ‘n vroom gesig en mooi woorde wat ‘n mens in die hemel bring nie!

Jesus gebruik die beeld van bome en die vrugte wat hulle dra. Een van die grootste probleemplante in ons land, is Lantana Camara, ‘n rankplant besaai met dorings. In die volksmond staan hy ook bekend as Gomdagga. Hierdie plant het die mooiste blommetjies, en sy pikswart bessie-vruggies is baie aanloklik, en selfs ook lekker om te eet. Die vruggies bevat egter dodelike gif wat nierversaking en selfs die dood kan veroorsaak. Boonop is die plant ‘n skrikwekkende indringer, en versmoor hy ander plante. Wat van buite na ‘n mooi plant lyk, is innerlik totaal korrup. Net so is die pragtige Seringboom se aanloklike vruggies dodelik giftig, en menige kind het al vergiftig geraak deur hierdie gewilde skaduboom. En wat van Pretoria se purper trots, die Jakaranda? Hy is in werklikheid ‘n verklaarde onkruid en ‘n gevaarlike indringer!

Jesus sê dat ons die mense wat ons op ‘n dwaalspoor probeer lei aan hulle vrugte sal herken. Is hulle vrugte liefde? Indien nie, is daar innerlik iets drasties verkeerd. Is die uiterlike dan belangrik? Is goeie werke dan belangrik? Is dit nie genoeg om maar net vir Jesus in geloof as Verlosser aan te neem nie? Die spreekwoord sê: “Wat die hart van vol is, loop die mond van oor.” As jy ernstig is oor jou kindskap van God, dan sal jou dade dit bevestig. Jakobus is baie ernstig oor hierdie onderwerp (Jak. 2:14) waar hy onder meer skryf: “Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie?” As jou geloof eg is, gevestig op die Rots, Jesus Christus, dan sal jy immers probeer om Sy liefde uit te leef en om weg te vlug van sonde af. As jou geloof egter op ‘n onstabiele sandduin gebou is, sal jou lewe dit beslis ook wys.

Vandag is die tyd om vas te stel hoedanig die fondamente van jou geloof is. As dit op sand staan, dan beter jy ‘n “ingenieur” raadpleeg oor hoe om die fout reg te stel, voordat die groot reëns kom, en dit dalk vir ewig te laat is……...

Gebed:

Here, help my asseblief om vandag my geloof prakties uit te leef met woord en daad!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026