Matteus 23:13-39
Onthou jy nog die wonderlike seënuitsprake wat Jesus gemaak het in Matt. 5:3-12? Natúúrlik sal jy hulle onthou want dit was sékerlik die hoogtepunt van Jesus se bergrede. Daardie was ‘n wonderlike groot preek van Hom wat jou aan die hart ruk. In skrille kontras daarmee kom Jesus nou, en Hy gee sewe ellende-uitsprake as teenpool vir die seëninge. Hulle is op die oog af spesifiek gerig teen die Fariseërs en Skrifgeleerdes.
Onmiddellik sal ons dalk geskok wil sê: “Maar God is dan liefde! Dit maak mos nie sin nie!” O, beslis is God liefde, maar God is ook regverdig en geregtigheid móét geskied!
Die vraag is: beteken dit dan nou dat hierdie mense teenoor wie Jesus die verdoemenis uitgespreek het vir ewig verlore was? Baie beslis nie, want Hy is ook genadig! As hulle maar net tot ander insigte wou kom, dan sou hulle ook die seëninge van die Koninkryk van God kon ervaar. Maar wat het aanloop gegee tot hierdie verskriklike ellende-uitsprake?
Jesus praat nie hier mét die Fariseërs nie, maar ván hulle. Hy praat met gelowiges en nuuskieriges wat na Hom kom luister het. Die dissipels verkeer hier in die teenwoordigheid van die Immanuel (God-by-ons). Terselfdertyd staan die Fariseërs onder die oordeel van God, alhoewel hulle onder die wanindruk is dat hulle nog steeds éintlik die volk van God is. Jesus wil met hierdie uitspraak in werklikheid sê: "Tot hiertoe, en nie verder nie! God sou hulle sonde net eenvoudig nie verder verduur nie!” Ons kan hulle sonde saamvat met die één woord: Huigelary. Hulle wou dus probeer voorgee dat hulle iets heeltemal anders was as wat hulle werklik was.
As ons na Jesus se veroordelings kyk, kom ons gou die verskriklike erns van die saak agter. Dis nie maar net klein sondetjies wat Hy hier veroordeel nie. In die eerste plek het die Fariseërs die sleutelmag gehad. Hulle was by magte om die Koninkryk vir die volk oop of toe te sluit. Die volk het na hulle opgesien, want hulle was immers die Wetsgeleerdes, die mense wat geweet het wat God van jou verwag. Toe hulle dus oortree het, het hulle ‘n klomp mense met hulle saamgetrek en so baie ander mense ook uit die Koninkryk uitgesluit. Selfs op die sendingveld het hulle proseliete van heidene gemaak en met hulle leer ook hierdie mense nog verder die verderf ingelei!
Dan kom Jesus en Hy wys hoe absoluut belaglik die huigelagtige praktyke van die Fariseërs was. Die voorbeeld wat Hy genoem het is die praktyk van eedswering. Die agtergrond hier is dat die Fariseërs die gebruik van die Naam van God totaal vermy het uit vrees vir oortreding van die derde gebod. Daarom was die tempel of altaar gebruik as plaasvervanger vir God se Naam. Algaande het hierdie in ‘n wanpraktyk ontaard, want mense het begin sê dat hulle nie eintlik bedoel het om God se Naam te betrek nie. Die feit is egter dat wanneer jy sweer, lê jy ’n eed af en jy betrek God by jou uitspraak. Jy stel dit dat God jou getuie is by wat jy sê! Dit is iets wat 'n gelowige alleen mag doen wanneer die wet dit van jou vereis. As jy dan sou lieg, maak jy eintlik vir God tot leuenaar!
'n Ander voorbeeld wat Jesus noem is die praktyk van die gee van tiendes. Jesus sê dat hierdie manne absoluut uit hulle pad gegaan het om hulle tiendes te gee soos wat die Skrif dit vereis het, maar aan liefde vir die naaste het dit totaal ontbreek! Nee, dit is nie verkeerd om jou tiende te gee nie maar praktiese liefde is tien maal belangriker. Hierdeur leef jy immers die wet van God uit. Doen jy dit nie, dan is jy besig met onbenullighede.
Die vyfde en sesde “ellende” uitspraak van Jesus handel oor die veruiterliking van die wet. Soos ons reeds verskeie kere gesien het, was die Fariseërs verskriklik gesteld daarop dat elke moontlike wet tot in die fynste besonderheid nagekom moes word. Uiterlik was hulle dus pragtig skoon, vlekkeloos. Dit help egter niks dat jy die wet onderhou en daar is innerlik geen begeerte om God te dien nie! Dan is jy ‘n witgepleisterde graf! Jy is pragtig versier van buite maar binne vol vrot, stinkende doodsbeendere!
In Sy laaste uitspraak word die Fariseërs en Skrifgeleerdes as moordenaars van profete gebrandmerk. Ons staan maklik eenkant en lag vir die Fariseërs. “Lekker! Nou kry julle wat julle verdien!” Vandag vra Jesus egter van jou en my om ook óns lewens te gaan toets aan hierdie uitsprake. Lees dit maar weer deur, en vra jouself die vraag af of jy nie dikwels dalk presies dieselfde dinge doen as die Fariseërs van ouds nie. Dalk sou jy sê: "Ek rook nie, drink nie en vloek nie!" Maar intussen kan jy dalk ook nie die man wat veroorsaak het dat jy jou werk verloor, vergewe nie. Of jy kyk anderpad wanneer daar iemand met nood oor jou pad kom. Dalk stel jy nie werklik belang in die probleme van die persoon wat saam met jou werk nie. Jy ignoreer dit en laat die kans deur jou vingers glip om hom dalk by Jesus uit te bring. Dalk is jy so vasgevang in jou godsdiensbeoefening dat die nood van 'n wêreld wat besig is om verlore te gaan, by jou verbygaan.
Kom ons raak stil voor die Here en vra Hom om ons te wys waar ons nog met ’n Fariseër-gesindheid leef.
Gebed:
Here, maak my asseblief van binne rein en vervang die liederlike doodsbeendere in my lewe met liefde en omgee!