Hoe vertel ek? (deel 5)

5 October, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Hoe vertel ek? (deel 5)

Kolossense 1:24-29

Kyk die Video

Ons vraag vanoggend is, hoe lyk so ‘n lewe van dankbaarheid? In die laaste deel van hierdie reeks gee ons so ‘n klein kykie van hoe dit moet lyk.

In sy brief aan die Kolossense, sien Paulus dit as sy opdrag om mense te onderrig en te leer sodat hulle geestelike volwassenheid kan bereik.

Wanneer ek iemand na Jesus lei, is dit dan ook my taak om toe te sien dat die persoon geestelik sal groei en volwasse word, en nie maar net stagneer nie. Ek moet hom lei om 'n volwaardige dissipel van Jesus te kan wees, 'n dissipel wat onder meer die Woord van God kan en sal uitdra op sy eie besonderse manier.

Voor dit egter kan gebeur, moet so 'n persoon eers begin met melkkos om 'n basis te vorm vir 'n lewe van dankbaarheid. Die persoon moet die héél basiese dinge van die geloof leer deur getrou kerk, selgroep en ander gemeentebyeenkomste by te woon, te leer hoe om met die Bybel om te gaan en te bid.

Maar die belangrikste is dat die persoon sal leer van liefde, die grootste van God se gawes. Om liefde aktief uit te leef teenoor God en teenoor ander mense.

Die tweede belangrike ding is om te leer van die Heilige Gees. Jy moet weet dat Hy te alle tye bý jou en ín jou is. Dat jy absoluut niks vir Hom kan wegsteek nie. Maar dat Hy ook daar is vir jou om jou te lei. Jy moet leer om jou geestes-ore vir Hom oop te maak en te luister na wat Hy vir jou sê. Hy sal jou ál die wysheid gee wat jy nodig het om dinge vir die Here te doen. En Hy sal jou ook die krag gee om dit te kan uitvoer.

So is dit byvoorbeeld belangrik dat jy reg van die begin af sal leer van Hom om te kan getuig oor Jesus se verlossingswerk. Jy hoef nie met 'n ingewikkelde getuienis vorendag te kom nie – 'n eenvoudige: “Kyk net wat het met my gebeur! Jesus het my gered!” is al klaar 'n kragtige getuienis wat mense aan die hart sal gryp!

Dit is belangrik om in te skakel by die een of ander aksie wat werk vir die Here. Daar is legio moontlikhede oor wat om te doen. Doen iets waarvoor jy 'n passie het. Dit kan dalk wees om vir bejaardes te gaan kuier, dalk net vir 'n bietjie geselskap of om hulle op te beur. Dit hoef nie diep geestelike gesprekke te wees nie. Die oumensies is dikwels baie eensaam, en uitgehonger vir geselskap. Op hierdie manier leef jy liefde uit.

Of dit kan wees om iemand te gaan bemoedig, veral diegene wat bedroef is of swaarkry beleef.

In ons gemeente het ons ’n span wat Saterdae vir die Zoeloesprekende huiswerkers ’n diens hou. Daar word heerlik saam gesing en gebid, en dan is daar ’n boodskap. Ons versprei gratis Bybels en ander geestelike materiaal aan hulle en gee eetgoed en iets te drinke. Maar die belangrike is dat daar gemeenskap is, en dat ons hulle laat voel dat ons saam deel van 'n gesin is, die gesin van God.

Elke lid van die span het ’n ander taak. Myne is om te preek dat die biesies bewe (letterlik en figuurlik!). Petro slaan die kitaar en Ria doen die organisering. Die pannekoekspan voorsien ons van heerlike eetgoed en ander gemeentelede voorsien weer Bybels sodat elkeen wat die dienste bywoon sy eie Bybel kan besit. Ja, inderdaad is sommige van die mense wat die dienste bywoon boemelaars wat hier vir die eerste keer in hulle lewe 'n Bybel kan vashou! En so dra ons saam die evangelieboodskap uit.

Nóg 'n moontlikheid is om by 'n sendinggroep aan te sluit wat uitreike doen. Daar is 'n verskeidenheid take, en elkeen kry 'n taak wat pas by sy persoonlikheid, vermoë en passie. So kan selfs die persoon wat slegs kos maak, 'n groot aandeel hê in die verkondiging van die Evangelie en om nuwe dissipels vir Jesus te maak.

Daar is ‘n legio maniere waarop elkeen van ons nuttig kan wees in God se Koninkryk, om elkeen op sy eie manier te help om die evangelieboodskap uit te dra. Hierdie is nie die taak van ‘n leraar nie, maar doodgewone mense soos ek en jy. Vind jou nis in God se Koninkryk!

Ja, inderdaad is jy nou 'n volwaardige burger van die Koninkryk van God, en jy moet besef dat elke burger sy plek ten volle in daardie wonderlike Koninkryk behoort vol te staan. Nie om gered te kan word nie, maar juis uit dankbaarheid OMDAT jy reeds God se redding uit suiwer genade gekry het.

Gebed:

Here, dankie vir mense soos Paulus en Angus wat vir ons ‘n voorbeeld kom stel het van hoe om waarlik nuttig te wees in U Koninkryk. Gee my asseblief die insig, ywer en kreatiwiteit om waarlik 'n nuttige burger van U Koninkryk te wees.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026