Lukas 23:6-12
Toe Pilatus hoor dat Jesus uit Galilea afkomstig was, was dit asof ‘n groot las van sy skouers afgeval het. Dan was Jesus mos nie binne sy magsgebied nie. Dit was Herodus se probleem! Pilatus het juis nie ooghare gehad vir daardie wrede man nie. Herodus Antipas was ‘n lid van die berugte Herodus-familie. Sy pa, Herodus die Grote, was verantwoordelik vir die kinderslagting toe Jesus ‘n baba was. Na sy pa se dood was die Koninkryk verdeel tussen Herodus Antipas en sy broers, en elkeen het ‘n gebied gekry om te beheer namens die Romeine. Herodus Antipas het sélf ook bloed aan sy hande gehad. Die grillerige sage by sy partytjie was nog vars in die geheue. Herodus was daardie dag so oorweldig deur sy stiefdogter se verleidelike danspassies dat hy ingegee het aan sy vrou se versoek. Hy het die onskuldige Johannes die Doper laat onthoof en met die bebloede kop van die profeet in ‘n skottel kom spog voor sy gaste.
Daar was egter ook ‘n ander sy van Herodus - hy wou vreeslik graag vir Jesus sien, so lees ons in Lukas 9:9. Die probleem was egter dat dit nie ‘n man van sy status sou betaam om agter Jesus aan te loop nie. En hier word sy begeerte bevredig toe die geleentheid as’t ware in sy skoot val toe Pilatus daardie selfde Jesus na hom stuur. Het Pilatus ooit besef watter groot guns hy vir Herodus gedoen het? Herodus was oorstelp van vreugde - hy kon sy geluk nie glo nie! So kon hy uiteindelik met Jesus gesels en die wonderlike dinge wat Jesus sê, waarvan al die mense gepraat het, eerstehands hoor! Dalk kon Jesus selfs vir hom ‘n paar wonderwerke doen! Herodus het geborrel van opgewondenheid.
Maar dinge het so verskriklik anders vir Herodus uitgewerk. Al waarin hy belang gestel het, was om Jesus te hoor praat, maar hierdie simpele spul Jode het bly tussenin kom met hulle streepsakke vol aantygings wat hulle die hele tyd gegooi het. Hy het gevoel hy wou skreeu! En as hy dan nog die kans gekry het om iets vir Jesus te vra, dan het Jesus net geswyg soos die graf! Nie ‘n enkele een van daardie wonderlike woorde het oor Sy lippe gekom nie!
Herodus was ‘n baie gefrustreerde man! Hy het altyd alles gekry wat hy wou hê, maar hierdie een keer toe die één ding wat hy so begeer het, om met Jesus te kon gesels, oor sy pad kom, het dit deur sy vingers geglip! Jesus het geweier om met hom te praat!
Herodus het gereageer deur kwaad te word. Skielik was Jesus nie meer daardie Man wat hom met verwondering gevul het nie, maar vir Herodus ‘n voorwerp van veragting! Hy het nie uit Jesus gekry wat hy gehoop het nie en toe verwerp hy vir Jesus. Sy soldate het ‘n bespotting van Jesus gemaak deur vir Hom ‘n deftige kleed om te hang en te maak asof Hy die koning was.
En so was Jesus uiteindelik maar net weer teruggestuur na Pilatus. Met só ‘n Jesus wou Herodus niks te doene hê nie! Pilatus kon maar verder opsnork!
Ek wonder soms of dit nie ook maar dikwels vandag die geval is nie? Dit gebeur dikwels dat mense vir Jesus ontmoet, maar dat hulle dan ‘n totale ander Jesus sien as wat hulle gehoop het om te sien. Ek wonder maar net - as Jesus met Herodus sou gepraat het, wat sou Hy vir hom gesê het? Dalk: “Hou op om te sondig”, of “Neem die kruis op en volg My!” Sou Herodus dit ooit oorweeg het? Ek glo nie! Dalk het Jesus vir diegene wat weggeraak het ook sekere dinge gevra om te doen, maar dat hulle nie daarvoor kans gesien het nie!
Kom ons wees eerlik met mekaar: Jesus se vryspraak is verniet - dit kos jou niks, want Hy het klaar die volle prys daarvoor betaal. Jy kan nie die ewige lewe verdien nie! Maar Jesus vra van elke gelowige ‘n teenprestasie wanneer ons ALREEDS die ewige lewe het, en dit is om ons ganse lewe aan Hom te wy uit dankbaarheid. Jesus het nêrens gesê: “Gaan sit nou maar agteroor en geniet jou verlossing” nie! Hy het egter by verskeie geleenthede vir Sy volgelinge gesê dat dit harde werk verg om Hom te volg. Om maar net Sondae kerk toe te kom, is net om jou gewete te sus. Om af en toe die Bybel te lees en te bid, is beslis nie wat Jesus wil hê nie. Toe die ryk jong man vir Jesus kom vertel het hoedat hy al die gebooie getrou nagekom het, was sy borreltjie gebars toe Jesus hom meedeel dat dit nie eers naastenby genoeg was nie.
Elke gelowige moet aktief in die Koninkryk werk. In die eerste plek vra die Here jou om nie te sondig nie. Wat is sonde? Dit is om NIE die wil van God te doen nie. Wat is die wil van God? Liefde vir Hom en jou medemens. Om Hom lief te hê beteken dat jy Hom sal eer met jou hele lewe. Liefde vir jou medemens beteken nie alleen om hulle fisies te ondersteun nie, maar gaan ook oor die geestelike, en dat jy ‘n werktuig sal wees op die een of ander wyse om die evangelieboodskap by alle ongelowiges uit te bring, want uiteraard is dit die grootste liefdesdaad wat jy enigiemand kan bewys.
Die vraag is: was jy, soos Herodus, ontnugter oor die Jesus wat jy ontmoet het, of het jy Hom entoesiasties en met blydskap ontvang?
Gebed:
Here, maak asseblief van my ‘n entoesiastiese, aktiewe burger van U Koninkryk.