Goeie Gewoontes

15 February, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Goeie Gewoontes

1 Tessalonisense Inleiding

In die goeie ou dae toe ons nog 'n boshuisie in die Laeveld gehad het, sit ek en my Mosbolletjie een aand op ons stoep. Die nag was pik-pik-donker, en so sit ons en gesels, met net ‘n ou kersie vir troos, en ons luister na die boskonsert: Leeu wat baskitaar speel met sy oemf-oemf, Olifant wat vrolik die trompet kielie waar hy en sy maters in die Krokodilrivier rondplas en al die groot akkedisse die skrik op die lyf jaag. Naguiltjie speel op kristalhelder klein klokkies en Seekoeibul slaan die basdrom. Sy ou vrou lag vulgêr uit haar maag van puur lekkerkry. My flitslig se straal klief kort-kort deur die donkerte, net om seker te maak.....

Skielik is daar ‘n helderblink oog hoog bo in ‘n doringboom op die ver punt van die erf. My hart mis 'n slag van opgewondenheid. ‘n Kameelperd wat verbystap? Skielik “spring” die oog tot amper onder op die grond. “Wat sal ‘n kameelperd nou op die grond loop soek?” wonder ek verbaas. Maar dan vlieg sy oog alweer boontoe! My liggie is nie baie sterk om deur die boom se takke te lig nie. Ek volg met groot belangstelling die oog soos hy kruis en dwars deur die takke van die doringboom vlieg. Eers as Mosbolletjie die ou groot kollig uithaal, sien ons dat daardie “kameelperd” piepklein is, ‘n nagapie!

Dit was my eerste ontmoeting met ‘n nagapie. Soos wat die dae, oftewel nagte vorder, begin hy ons gewoond raak, en waag dit al nader en nader aan ons. Later bring hy selfs sy maatjie saam om ons te kom vermaak waar ons saans om die braaivleisvuurtjie sit. Uiteindelik, na etlike jare, word hulle so mak dat hulle uit gewoonte saans tot op die stoep kom om die goggas by die stoeplig te vang. En as daar dan nou toevallig ‘n piesang rondlê, dan spring hulle op en af van opgewondenheid. Elke besoeker aan ons boshuisie babbel opgewonde oor die skatlike ou nagapies wat hulle saans soveel plesier gee.

As jy eers ‘n gewoonte aangeleer het, raak jy nie maklik daarvan ontslae nie. Ek skud my kop as ek die manne en vroue gadeslaan wat soggens vroeg onverpoosd straat-op en straat-af draf. Raak hulle nooit moeg nie? Vir my is dit die grootste straf om te gaan draf, maar vir hulle is dit tweede natuur. Vra egter maar vir enige drawwer, en hy sal jou sê dat dit nie sommer so vanself gekom het nie. Dit het maande en jare van toegewyde selfdissipline gekos om hierdie gewoonte aan te leer. Presies so werk dit met jou geloofslewe, veral wanneer dit kom by die praktiese uitleef daarvan. Dit gebeur nie oornag dat jy ‘n toegewyde gelowige word wat getrou is in elke opsig nie. Dit kos gewoonlik baie jare van harde werk en selfdissipline.

Die Tessalonisense-briewe is geskryf deur die groot sendeling, Paulus aan ‘n baie jong gemeente. Tessalonika het maar ‘n kort rukkie voordat hierdie brief geskryf is vir die eerste keer die Evangelie gehoor, en die gemeente staan toe nog letterlik in hulle babaskoene. Vir hulle was dit natuurlik ‘n geweldige groot aanpassing, want nou moet hulle ‘n totale nuwe denkstyl en leefstyl aanleer. Onthou: hierdie mense was heidene wat allerhande afgode aanbid het, en nou skielik is hulle Christene. Dis nie maklik om al die ou slegte gewoontes af te leer nie! Daar was nog nie werklik ‘n stelsel in hulle Godsdiens nie, en ek is seker dat hulle dikwels moedeloos geraak het. Dalk het hulle soms gedink dat hulle dit nooit as te nimmer gaan regkry nie. Paulus trek dus ‘n hasie uit sy hoed, en hy bemoedig hulle deur ‘n groot deel van sy brief daaraan te wy om hulle te laat verstaan hoe goed dit eintlik met hulle as splinternuwe Christene gaan.

Paulus weet egter maar al te goed dat hulle geloof nie maar net op daardie vlak gelos kan word nie: dit het aanvulling nodig. Hulle moet leer van die dinge wat saakmaak in die geloof. Boonop is daar natuurlik ook kwelvrae wat hy moet antwoord, soos wat die lot is van mense wat sterf voor Jesus se terugkeer. Hierdie mense het ook gesukkel om hulle geloof te bely en prakties toe te pas in hulle alledaagse lewe. Hulle moes herinner word aan die dinge wat Paulus hulle geleer het in die kort tydjie wat hy daar was, en hulle moes weet dat hierdie nuwe leefstyl baie inspanning verg. Jy sal natuurlik onthou dat Paulus net ‘n kort tydjie in Tessalonika kon deurbring, en dat hy sy bediening daar inderhaas moes kortknip en vlug vir sy lewe. Dus kon hy nie hierdie dinge vir hulle behoorlik inskerp nie.

Hierdie brief is vandag vir ons uiters relevant. So baie gelowiges sit met presies dieselfde probleme as die gelowiges van Tessalonika. Ek het oor die jare al talle briewe gekry van mense wat raad vra, mense wat net eenvoudig nie die basiese dinge van die geloof kan regkry nie. Dikwels is die eenvoudige dinge soos gebed en geloofsekerheid vir gelowiges ‘n reuse berg om te oor. Die “ou” gelowiges kan maar net glimlag daaroor, want die meeste van ons is ook daar deur. Deur vas te byt en aan te hou het ons, met die krag van die Heilige Gees, hierdie dinge oorwin. Dit het oefening en deursettingsvermoë gekos. En baie harde werk! ‘n Gesonde, gevestigde geloofslewe kom beslis nie maklik nie. Hou dus moed!

Gebed:

Here, ek wil vanoggend elke jong gelowige wat hierdie boodskap lees aan U opdra. Neem hulle aan die hand sodat hulle groot bome in die geloof kan word.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026