Klein Jannie en Sannie het vir Oupa en Ouma op die plaas gaan kuier. Oupa besluit om vir Jannie iets nuut te leer, iets uit sy eie kinderdae. Toe maak hy vir hom ‘n slingervel. Jannie word veld toe gestuur sodat hy kan leer hoe om hierdie nuwe “gevaarlike” wapen te hanteer. Maar terselfdertyd sodat Oupa ‘n bietjie kan rus.
Jannie is opgewonde en hy droom al hoe hy ‘n Goliat daarmee gaan doodgooi, maar tot sy groot frustrasie kom hy agter dat hierdie ding baie moeiliker is om te gebruik as wat hy gedink het. Hy mik na ‘n miershoop, maar die klippe woer-woer sommer hier voor hom in die grond vas. Hoe Dawid dit ooit kon regkry om vir Goliat met hierdie ding raak te gooi, is ’n groot wonderwerk!
Moedeloos na ‘n uur se gesukkel, stap hy terug huistoe. Op die werf blaas Ouma se gans vir hom. Hierdie gans is Ouma se liefling, en sy vertroetel die ongepoetste dierasie. “Stjoepit gans!” snou Jannie die ongedierte toe, en hy woerwoer sy slingervel in die gans se rigting. En dan gaan staan Jannie se hart amper: Die klip tref die gans netjies tussen die oë, nes Dawid vir Goliat getref het. Morsdood!
Jannie skrik hom boeglam! Hy het nooit in sy wildste drome gedink dat hy die gans sou raakgooi nie! Wat gaan hy doen? Ouma gaan hom lewendig afslag! Daar naby staan ‘n hoop vuurmaakhout. Hy pak vinnig ‘n paar stompies op die dooie gans sodat niemand hom sal kry nie. As hy opkyk, sien hy sy snipperige sussie Sannie daar staan. Sy het alles aanskou! Sannie sê nie ‘n dooie woord nie, maar hy kan sommer sien: hier kom groot moeilikheid.
Daardie middag na middagete sê Ouma: “Kom ons gaan was skottelgoed. Wie kom help?”
Jannie val amper van sy stoel af toe Sannie ewe vermakerig sê: “Ouma, Jannie het gesê dat hy graag in die kombuis wil help.”
En toe brom sy saggies in Jannie se oor: “Onthou die gans!” Ewe gedwee was Jannie die skottelgoed.
Laatmiddag stel Oupa voor dat hulle ‘n bietjie gaan visvang in die plaasdam. Ouma is nie so geneë nie, want sy het vir Sannie nodig om te help met aandete. “Moenie wôrrie nie Ouma”, sê Sannie, “Jannie het gesê dat hy wil help. Ek sal saam met Oupa gaan.” En weereens gee sy vir Jannie daardie onthou-die-gans-kyk. En Jannie dink: “Maar dis mos afpersing!”
En so hou die ding vir ‘n paar dae aan, en die arme Jannie moet hom vrek werk terwyl Sannie haar verlustig in die situasie. Uiteindelik kan Jannie dit nie meer vat nie, en hy gaan bieg by Ouma oor die gans. Ouma gee hom ‘n drukkie: “Liefling, ek weet van die gans - ek het by die kombuisvenster gestaan toe dit gebeur het, en ek het alles gesien. Maar ek het jou lief, en ek het jou lankal vergewe. Ek was net nuuskierig om te sien hoe lank jy gaan toelaat dat Sannie jou as ‘n slaaf gaan aanhou!”
Weet jy, daar is ‘n “Jannie” in elkeen van ons. Daar is niemand wat nie ‘n paar geraamtes in die kas het nie. Party se geraamtes is net baie meer grusaam as ander s’n! Die tragiese is, dat die duiwel dit uitbuit. Hy bly daardie ou sondes keer-op-keer teen jou voorkop gooi. Dalk is dit ‘n leuen of slegte gewoontes, dalk woede of bitterheid. En weet jy wat? God het elke ding gesien! Hy weet van absoluut alles! Daar is niks wat jy vir Hom kan wegsteek nie. As jy Sy kind is, het Hy jou ook al lankal daarvoor vergewe. Maar Hy wag dat jy daardie sondes voor Sy voete kom neerlê. Hy wil jou vrymaak van die duiwel se slawesweep wat jou so genadeloos piets.
Om egter daarvoor te kwalifiseer, moet jy deel van God se familie wees. Daar moet eers ‘n verhouding wees tussen jou en Jesus.
Daar lê ‘n wonderlike troos opgesluit vir ons as gelowiges in God se nabyheid.
Psalm 139 bely dat God ons wonderbaarlik maak en dat Hy ons wonderbaarlik onderhou.
God verras ons met Sy sorg.
Ons staan verwonderd daaroor.
Ons leer hierdie God nog beter ken.
God, die Een wat alles van ons weet, is ook die Een wat ons liefhet, en ons liefgehad het toe ons nog sondaars was.
Dis nie nodig om vir God te vlug nie.
Dis nie nodig om skynheilig die beste voetjie te probeer voorsit nie.
Hy ken ons.
Hy aanvaar ons nét soos ons is.
Hy het ons innig lief.
Hy sluit ons in Christus in sy familie in.
Dit word die grond waarop ons onsself kan liefhê en onsself kan vergewe.
Hierdie word die veilige net waarin ons kan val, waarin ons getroos kan lewe en sterwe. Ons Nederlandse Geloofsbelydenis stel dit so mooi in die eerste vraag: Wat is jou grootste troos? En die antwoord, dat ek aan Jesus behoort!
Gebed:
Here, U ken my deur en deur. U weet van elke dingetjie wat ek doen. Dikwels moet ek wegkruip van skaamte, maar dan moet ek besef dat U my aanvaar soos ek is. Dankie Here!