Pyn en swaarkry is deel van ons wêreld. Dikwels sien ons mense teen die grond lê. Ons sien egter ook dikwels hoe hulle opgetel word. Ons leef in ‘n wêreld waar ‘n verwoeste kerkgebou wonderbaarlik herstel kan word met boumateriaal uit die hemel.
Die wêreld wat Psalm 139 teken, is juis só ‘n wêreld. Ons kom baie gou agter dat daar ‘n innige, diep verhouding is tussen hierdie digter en God. Hy lewe letterlik uit die hand van ‘n kreatiewe Skepper-God.
Die skrywer is oortuig dat hierdie wêreld nie bloot deur natuurwette of fisiese kragte in balans gehou word nie. Dat dit nie voorspelbare reëls is wat dit soos gladde klokwerk laat tik nie. Daardie reëls word dikwels totaal verbreek.
Die oerknal-teorie is dat die heelal 15 biljoen jaar gelede ontstaan het uit ‘n klein spikkeltjie “iets” wat in ‘n geweldige ontploffing reuse wolke gas gevorm het. Daaruit is sterre gebore deur natuurlike kragte.
Hoe daardie spikkeltjie “iets” ontstaan het, kan hulle ongelukkig nie verklaar nie.
Is die oerknal-teorie waar? Ek sal nie weet nie! Maar as gelowige glo ek dat, indien dit wél waar is, dan is daardie spikkeltjie “iets” deur God geskep. Hy het dan boonop ook die natuurkragte geskep wat sterre kon vorm.
God is die Skepper! Hy is die lewende Here wat Sy skepping beheer. Hy sorg daarvoor en hou dit wonderbaarlik en kreatief in stand.
Gideon Joubert skryf in sy boek, “Die Groot Gedagte” dat dit nie anders kon as dat die ontstaan van die heelal, soos die voorstaanders van die Oerknal-teorie beskryf, deur ‘n “Intelligente Wese” haarfyn beplan moes wees om enigsins te kon werk nie.
Psalm 139 is ‘n gebed waarin die digter bely dat die Here ons ken. Hy ken ons gedagtes en Hy skenk lewe en krag. Vers 5 en 6 stel dit so mooi:
U omsluit my van alle kante,
U neem my in besit.
Dié wete oorweldig my,
Dit is te hoog vir my begrip.
Vers 15: Geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.
Die feit is: God ken ons deur en deur. Maar ons staan ook in ‘n verhouding met Hom. Uit hierdie verhouding skep God ons as‘t ware van oomblik tot oomblik.
Hy hou ons in stand. Hy bewaak ons. Hy versorg ons.
As ek sê “ons”, dan is dit nie alleen die mens nie, maar die diere en plante en alles in die natuur. Om die waarheid te sê, die ganse heelal!
Daarom kan ons met reg sê dat die diepste lewensbeginsel van ons wêreld nie in die natuurwette geleë is nie, maar die feit dat alles in God se hande ingebed lê.
Ons sien dit wanneer God die Rietsee oopkloof vir Sy volk om deur te trek. Ons sien dit as die bruisende massa water van die Jordaanrivier in vloed skielik ophou vloei sodat God se volk deur kan loop om die beloofde land in besit te neem. Ons sien dit wanneer Jesus die storm stilmaak.
Wanneer die psalmdigter hierdie dinge besef, dan word hy gevul met bewondering omdat God die mens so diep ken en hom versorg. Dan kan hy nie anders reageer nie as om in aanbidding voor God neer te val. Hy staan verwonderd oor God se volledige kennis van die mens, Sy alom-teenwoordigheid, leiding, en albetrokkenheid.
Hierdie gebed van verwondering is sékerlik die gepaste soort reaksie wat ons behoort te hê op wie God werklik is. Gebed is die wyse waarop ons ons verhouding met God kan uitleef.
Vir die psalmdigter is dit onmoontlik om selfs te bedink dat daar mense kan wees wat teen God in opstand kon kom. Hy word met afgryse vervul by die blote gedagte dat daar mense kan wees wat nie in God se liefdevolle hande troos vind nie.
As gelowige is dit vir ons ‘n wonderlike troos wanneer ons hoor van God se almag. By hierdie God is ons veilig.
Daar is egter ook mense vir wie hierdie eienskappe van God hulle juis laat wegvlug van Hom af. Iemand sê eendag vir my dat hy nie in God kan glo nie, omdat ons beweer dat God alomteenwoordig is. Dit is tog fisies onmoontlik vir God om gelyktydig oral te wees! Daarom kán hy nie in God glo nie.
Vir die meeste ongelowiges is God se alkennis weer ‘n bedreiging. Iemand is gewoonlik ‘n ateïs oor sy vrees vir ‘n God wat alles weet en alles kan sien. Iemand wat nie vir God wil leef nie, se lewe is “privaat”. Hulle wil juis nie hê dat God moet kan weet wat hulle doen nie.
Maar meer hieroor more!
Gebed:
Here, ek staan verstom as ek dink aan U almag, alwysheid, alomteenwoordigheid, alwetenheid en nog baie ander dinge. U ken my deur en deur, Here. Ek buig voor U in aanbidding!