Romeine 1:6,7
In die vroeë Christelike kerk staan die name van twee stede lynreg teenoor mekaar. Aan die een pool het ons Jerusalem, die bakermak van die Joodse sowel as die Christelike geloof. Jerusalem kom ’n lang pad saam met God se volk. Dit was die groot Koning Dawid wat hierdie onoorwinlike stad op meesterlike wyse vir Israel ingepalm het. Hier het die koning van liefde, Salomo later ook die tempel gebou. Hierdie manjefieke gebou sou dien as simbool van God se teenwoordigheid op aarde en die Israeliete sou dit sien as die absolute middelpunt van die wêreld en heelal wat as’t ware die naelstring tussen hemel en aarde sou wees. Jode sou van regoor die wêreld kom om juis hier te kom aanbid.
Jerusalem sou egter ook baie jare later die plek word waar die lang verwagte Messias, Jesus die grootste offer van alle tye sou kom bring met Sy eie lewe. Dit is in die einste Jerusalem waar Hy die kruisdood gesterf het sodat alle gelowiges die Ewige Lewe kan hê, en dit is hier waar Hy vir ewig die dood oorwin het deur uit die graf op te staan!
By die ander pool het ons die wêreldhoofstad Rome. Wonderlike Rome, die intellektuele, kulturele en politieke sentrum van die wêreld. Terselfdertyd is dit egter ook die hoofstad van afgodery en sedelike verval. Alhoewel daar in die tyd toe Paulus hierdie brief geskryf het relatiewe vrede was, is die Christendom later baie wreed vervolg in Rome, en is Christene selfs van elders af gebring om hier in Rome vir hulle geloof te betaal en te sterf. Volgens tradisie is selfs Paulus later ook hier tereggestel. G’n wonder dat Christene Rome herdoop het na Babilon nie! Openbaring beskryf vir ons hoe afgryslik die stad uiteindelik geword het, en in hoe ‘n ernstige lig God die gruwelike sondes van hierdie stad gesien het.
Op die vooraand van die verskrikking van vervolging van die gelowiges, gebeur daar egter ’n wonderlike ding in Rome. God bewys Sy liefde aan al die inwoners van hierdie stad, en Hy rig aan hulle ‘n uitnodiging om Sy kinders te word. En aan almal wat Hy liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort, bewys Hy Sy liefde boonop daarin, dat Hy ook vir húlle hierdie brief laat skryf. Hierdie is ‘n brief wat die volledige uiteensetting van die Christelike geloofsleer bevat. Baie gelowiges sou hierdeur toegerus word om, selfs met die prysgee van hulle lewens, steeds te wys dat hulle bo alles aan God behoort.
Inderdaad het God ‘n besondere taak vir die gelowiges in Rome, hoe haglik hulle omstandighede ookal is. Hy het hulle boonop hiervoor deeglik toegerus.
Ja, in Suid Afrika is omstandighede vandag dikwels ook bitter moeilik, maar Hy het ook híér vir my en jou ‘n taak! Hy roep ons en Hy wil ons gebruik! Die Romeine-brief was nie alleen vir die gelowiges in Paulus se tyd ‘n toerustingskursus nie, maar God is ook nóú, vandag besig om vir my en jou toe te rus deur hierdie brief. Hy wil ons leer dat géén omstandighede jou van God se liefde kan skei nie! In Romeine 8:35 tot 39 staan die gedagte volledig opgeteken. Omstandighede, of dit nou goed of sleg is, is juis geleenthede wat God gee om Sy genade en liefde sigbaar te maak, en bo alles te wys dat jy aan Hom behoort.
Paulus sluit sy aanhef tot hierdie brief af met ‘n seëngroet waarin hy God se genade en vrede toebid vir elkeen wat hierdie brief lees. Op daardie stadium was vrede wél nog deel van die Romeinse staatsbestel, want hulle het alles onder beheer gehad. As jy aangekla is, kon jy selfs om genade pleit by die keiser. Maar dit is nie hierdie soort genade en vrede waarvoor Paulus bid nie. Hierdie is ‘n totaal ander soort genade wat slegs God kan gee! Om die waarheid te sê bevestig hy eintlik met sy uitspraak dat God se genade en vrede alreeds daar is vir gelowiges, en dat jy nie nog daarvoor hoef te pleit nie. Dit is nét so ‘n groot realiteit as die regering van Jesus Christus en die feit van Sy wederkoms. Ook vandag is dit stééds net so ‘n werklikheid vir jou en my, al verdien ons dit gladnie eers nie.
Ervaar dus daardie innerlike kalmte en vrede wat God jou gee, omdat Hy ‘n volmaakte verhouding met ons het. God is nie soos die Romeinse keiser wat maar net jou foute oorgesien het as hy die dag besluit het om jou genadig te wees nie. Nee, Hy het die foute persoonlik sélf reggemaak! Jesus Christus het volledig betaal - die vólle prys - vir my en jou foute! Ons gebed kan maar net wees dat die Heilige Gees ons sal lei om die realiteit van Jesus se Koningskap al meer en meer raak te sien, dit te eerbiedig en aan Hom ál die eer te gee as die Koning van alle konings. Sodoende sal daardie genade en vrede wat Hy gee, elke dag meer gestalte kry in ons lewens.
Gebed:
Laat Heer, U vrede deur my vloei, en maak my elke dag meer bewus van U genade en heerskappy!