Geloofsman

28 June, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Geloofsman

Galasiërs 3:6-14

Video

Oudio

Gelowiges in Abraham se tyd was maar bitter yl gesaai, so wil dit voorkom uit die geskiedenis. Abraham se pa, Tera, het drie seuns gehad: Abraham, Nahor en Haran. Abraham is getroud met sy broer Nahor se dogter, Sarai. Daardie jare het hulle trouery maar in die familie gehou! Nét so is geloof ook maar in die familie gehou. Noag se seun, Sem het die saadjie van geloof gedra wat hy by sy pa gekry het, en baie, baie jare later, kort na Noag se dood was daardie saadjie van geloof steeds lewendig toe Tera sy seuns grootgemaak het in die vrese van die Here. Vir hulle was geloof eenvoudig: glo in die Allerhoogste God!

So het dit dan gekom dat God met Abraham gepraat het toe hy al ‘n man van 75 was, en vir hom gesê dat hy moet wegtrek na ‘n vreemde land, Kanaän. Alles wat vir hom bekend was sou hy agterlaat en gaan woon in ‘n land waar geloof in God totaal onbekend was. Net hy, Sarai en sy broer Nahor se seun, Lot en sý gesin het getrek. Dit moes sékerlik vir hom bitter swaar gewees het daar in die vreemde, ver van sy familie af en stoksielalleen in sy geloof. Hy kon egter aan God se belofte vashou, die belofte wat God hom gegee het toe Hy hom die vreemde ingestuur het: “In jou sal al die nasies geseën word”. Dikwels het Abraham seker teruggedink aan daardie dag en God se wonderlike belofte. Miskien het hy gewonder wat God werklik daarmee bedoel het? Selfs toe hy al ‘n ou man was, kort deuskant 100, en die twyfel aan sy nageslag hom opgevreet het omdat daar nog nie ‘n nageslag vir hom in sig was nie, het hy steeds krampagtig aan God se belofte vasgeklou!

Jare later, nadat hy die vreugde van ouerskap kon ervaar het, was daardie geloof van hom weereens bitterlik beproef toe hy van God die opdrag kry om sy enigste seun, Isak te gaan offer. Inderdaad het Abraham reeds deur diep waters gegaan, en deur die jare het hy geleer om God te vertrou. Selfs hierdie verskriklike vuurproef sou hom nie laat wankel nie. 

Abraham het ‘n paar lelike blapse in sy lewe gemaak, maar één ding staan soos ‘n paal bo water: sy onwrikbare geloof in God, selfs deur die héél moeilikste van omstandighede.

Dit is na hierdie geloofsheld wat Paulus verwys in Galasiërs 3. Soos reeds gesê, was Abraham óók maar mens, en toe hy die dag in die nood was, het hy gelieg oor Sarai en by meer as een geleentheid vir ‘n koning vertel dat Sarai eintlik maar net sy suster was. En elke keer het hy so byna-byna in baie diep sop beland. Boonop het hy ook maar ongeduldig geraak toe die Here draai met Sy belofte oor ‘n nageslag. Hy het selfs so ver gegaan om God ‘n bietjie te probeer aanhelp! Desperaat het hy ‘n kind verwek by Sarai se slavin! Dit wás darem met Sarai se medewete en goedkeuring. Maar selfs dít het God hom vergewe, want Abraham was vrygespreek op grond van sy geloof in God. Hierdie geloof is natuurlik ná Abraham van geslag tot geslag oorgedra, eers Isak, toe Jakob en sy hordes agterkleinkinders. Inderdaad was dit nie altyd so suksesvol oorgedra nie, en afgode het dikwels geseëvier. 

God moes ingryp! Hy moes deur Moses die wet vir die volk gee. As hulle dit kon onderhou, was daar vir hulle redding. Maar dit was bitter moeilik, en selfs hierdie eenvoudige riglyne vir die lewe was vir hulle dikwels net eenvoudig te swaar om na te kom. Boonop was dit beperk, want hierdie jaloerse Jode sou nie sommer toelaat dat enige buitestaander deel kry in God se genade nie. Weereens moes God ingryp, hierdie keer baie drasties. Dit sou ‘n baie duur onderneming wees om Sy belofte aan Abraham gestand te doen.

Paulus vertel nou wat daardie belofte aan Abraham daardie jare beteken het. Duisende jare sou verbygaan voordat Jesus gebore sou word uit die nageslag van Abraham. Deur Jesus se soenverdienste het die deure oopgegaan, nie alleen vir Abraham se fisiese nageslag nie, maar nou vir ál die nasies. Iemand wat nie God se wet kon nakom nie was onderhewig aan God se vloek. Jesus het daardie vloek op Hom geneem toe Hy aan die kruis gesterf het, en so weereens elkeen vrygespreek wat slegs in Hom glo.

God het beloftes aan Abraham gemaak en dit tot die laaste titteltjie nagekom. God het ook in sy Woord beloftes aan jou en my gemaak. Sy Woord is propvol beloftes en elkeen van hulle kom Hy na. Sy beloftes is egter onderhewig aan iets van jou kant af. Nee, dit beteken nie dat jy die wet in sy volheid moet nakom nie, want dit is gans onmoontlik. Dit vra van jou en my net een enkele ou dingetjie: GLO IN JESUS CHRISTUS. As jy dit doen kry jy nie alleen God se vryspraak nie, maar ook God se seën. Hierdie seën word vir ons uitgespel op talle plekke in die Bybel, maar die grootste aspek van die seën is die feit dat God die Heilige Gees in jou lewe gee. As jy toelaat dat Hy jou lewe beheer, dan wag daar wonderlike dinge op jou.

Gebed:

Dankie Here, vir geloofshelde soos Abraham. Heilige Gees, neem my lewe en maak asseblief iets mooi daarvan.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Hy Leef!
30 April, 2024
Kruisig Hom, Kruisig Hom!
29 April, 2024
Petrus se Verraad
26 April, 2024
Hosanna, Hosanna!
25 April, 2024
Nasaret Verwerp Jesus
24 April, 2024