Gehoorsaamheid en Genade

3 September, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Gehoorsaamheid en Genade

Inleiding tot Jona

VIDEO | OUDIO

In Matteus 28 lees ons waar Jesus op die berg staan en dan gee Hy sy dissipels een laaste opdrag voordat Hy in die hemel opgeneem word: “Gaan dan en maak dissipels van al die nasies......” Volgens Handelinge 1:8 sou hulle ál die nodige krag vir daardie opdrag ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle kom en hulle sou Sy getuies regoor die wêreld wees. Soos ons weet ís die Heilige Gees dan ook uitgestort op Pinksterdag en vandag vul Hy steeds elke gelowige met Sy krag sodat ons óók Sy groot opdrag kan uitvoer. Daardie opdrag geld vir gelowiges dwarsdeur die eeue en ons het dus géén verskoning om nie hieraan gehoorsaam te wees nie!

Inderdaad is die opdrag wat die Here aan elkeen van ons persoonlik gee verskillend en die Heilige Gees rus ons op verskillende maniere toe om ons taak te kan uitvoer. Al wat Hy van ons vra is gehoorsaamheid.

Baie lank gelede was daar 'n man met die naam Jona. Hy het ook 'n opdrag van die Here gekry. Hy het al die nodige toerusting gehad om daardie opdrag uit te voer want hy was 'n opgeleide profeet en hy het beskik oor ál die nodige kennis vir sy taak. Daar was egter 'n probleempie want hy moes die Here se boodskap gaan oordra aan sy vyande! Vir Jona was hierdie moeilike opdrag dalk 'n bietjie dik vir 'n daalder!

In my kinderdae het die verhaal van Jona my verbeelding aangegryp! Vandag het dit sékerlik nog steeds dieselfde effek op kinders en selfs vir meeste grootmense is dit 'n fassinerende verhaal! Maar dalk lees ons gewoonlik die verhaal deur die verkeerde bril. Sien, dit gaan nie oor die man wat deur die vis ingesluk is nie maar eerder oor Jona se ongehoorsaamheid wat so byna-byna op 'n groot ramp uitgeloop het vir ‘n hele stad se inwoners. Op die koop toe het dit óók ampertjies veroorsaak dat 'n skip met sy hele bemanning die donker dieptes ingestuur was!

God se groot liefde, geduld en genade was egter baie groter as Jona se ongehoorsaamheid, nie alleen teenoor die goddelose stad wat Hy tot ander insigte wou lei nie maar ook teenoor 'n onwillige, ongehoorsame wegloop-profeet!

Dis baie maklik vir ons vandag om vinger te wys na Jona en hom uit te kryt as daardie profeet wat vir God wou weghardloop. Maar dan moet ek en jy dalk baie fyn luister of ons nie dalk sélf ‘n Jona is nie - ‘n Jona wat ook besig is om van God se opdragte weg te hardloop. Verder moet ons dalk óók saam met Jona aan die einde van die boek antwoord op God se vraag, of ons nie dalk nes Jona van ouds probeer om God te beperk binne die grense van ons eie belange of gedagtes nie?

Daar is vandag baie kwelvrae oor die boek Jona. Histories maak Jona nie baie sin nie. As ons kyk na taalkundige en ander aspekte, wil dit amper voorkom asof die boek baie lank ná die verwoesting van die stad Nineve eers ontstaan het. In 2 Konings 14:25 word daar wél verwys na Jona tydens die regering van Jerobiam II, maar Nineve was op daardie stadium nog maar redelik klein en in die boek Jona word daar gepraat van ‘n baie gróót stad. Nineve was op daardie stadium ook nie die hoofstad van Assirië nie en die koning waarna hier verwys word kon dus nie ‘n ware koning gewees het nie. Daar is dus beslis vrae oor die geskiedenisfeite.

Maar dit is nie al nie - baie mense het probleme met wonderwerke waarvan ons lees in die boek. Daar is al sommer baie gestry oor daardie vis wat Jona ingesluk het. “Dis mos totaal onmoontlik, is dit nie?” En wat van die wonderplant wat sommer so oornag opgekom het?

Die vraag is dus of die boek Jona ‘n ware verhaal of ‘n gelykenis of dalk sommer 'n storie is? Ek gaan beslis nie ‘n antwoord waag nie om die eenvoudige rede dat ons net eenvoudig nie die antwoord daarop hét nie! Hierdie is een van die talle geheimenisse in die Bybel. Die feit is egter dat dit nie saak maak nie! Ek en jy hoef nie ons koppe daaroor te breek nie want die boodskap wat die Heilige Gees ons uit hierdie boek wil gee, is absoluut kosbaar! As ons dit die dag regkry om verby die probleme en “teenstrydighede” in die Bybel te kyk en eerder die ware boodskap van die Bybel raaksien, dan is ons op die regte pad. As jy jou kop breek oor “teenstrydighede” in die Bybel, is jy besig om die ganse boodskap van die Bybel te mis!

In die boek Jona leer ons van God se beskikking. Jona is die verhaal van ‘n profeet wat God wou beperk om by sy eie idees te pas, net soos ons dikwels vandag doen. Teenoor Jona sien ons die heidene wat God se vrymag erken en doen wat Hy van hulle vra. Is dit nie ironies nie? God wys ook vir Jona dat Hy beskik oor alles - selfs ‘n vis en ‘n wonderplant! God is in beheer oor alles en almal, selfs die natuur.

Die groot waarheid wat egter in die verhaal uitstaan is God se liefde en oneindige genade en die feit dat absoluut niemand uitgesluit word uit Sy genade nie. Ons durf dus nie God se genade selfsugtig net aan onsself as gelowiges toeëien nie. God wil dat Sy genade en liefde oor die ganse wêreld spoel, ook oor ongelowiges. Maar Hy wil gewone mense gebruik om daardie doel te bereik - mense wat gewillig is om te luister en God se opdrag uit te voer. Hy soek mense soos ek en jy en as ons gewillig is gee Hy ons sy Heilige Gees om Sy taak uit te voer!

Gebed:

Here, maak my asseblief gewillig om die opdragte uit te voer wat U vir my gee. Keer my asseblief as ek wil weghardloop!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026