Gebed

31 August, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Gebed

Lukas 18:1-14

Kyk Video

Iemand skryf vir my dat sy aanhou bid en bid vir ‘n sekere saak, maar dat dit voel asof die Here nie die gebed hoor nie. Dit voel asof sy teen ‘n plafon vasbid, en dat sy die Here gladnie eers bereik nie. My eie, baie edel gebed, was dat die Here my as predikant in ‘n gemeente sou laat dien. Die Here het nie my gebed toegestaan nie, en ek kon nooit verstaan waarom nie. Dit was dan so ‘n eerlike en goeie versoek! Nou, jare later, kan ek terugkyk en met wonder sien waarom Hy dit nie wou laat gebeur nie: Hy het my ‘n baie beter bediening gegee, waar ek baie, baie meer mense kon bereik as wat ek óóit sou regkry as predikant in ‘n gemeente.

Jesus vertel twee gelykenisse oor gebed. In die eerste wil Hy verduidelik dat gebed wél vrugte afwerp, jy moet net aanhou bid.

Hy begin deur ‘n sekere regter te beskryf. Van iemand in só ‘n amp, sou jy deernis en regverdigheid verwag. Hierdie regter het egter die vrou se versoek totaal geïgnoreer. Dan hoor ons dat hierdie man in die eerste plek géén respek het vir God nie, en dat hy hom boonop gladnie aan mense steur nie. Al waaraan hy dink is sy eie selfbeeld. Toe daardie vrou egter aanhou neul dat hy haar saak behartig, gee hy uiteindelik tóg in, bloot om sy selfbeeld te beskerm.

Jesus lewer kommentaar op die storietjie, en hy tref ‘n vergelyking tussen die onregverdige regter en God. Die Here is sovéél meer regverdig as hierdie regter wat net aan homself dink. Die tweede belangrike vergelyking is dat hierdie man niks vir mense omgegee het nie, maar die Here het soveel deernis vir Sy kinders. Op talle plekke in die Bybel lees ons van Sy wonderbare, onbegryplike liefde vir ons, en hoe Hy Hom oor ons ontferm. Ons lees dat Hy bemoeienis maak met elke gelowige. Ons mag dus maar na Hom gaan in gebed en vir Hom dinge vra. Al voel dit dikwels vir jou asof Hy nie jou gebed hoor nie, kan jy vanoggend verséker weet: Hy luister na jou smeking.

Waarom word iemand se eerlike gebed dan dikwels nie toegestaan nie? Die probleem is dat ek en jy maar bitter klein, en soms baie selfsugtig dink en redeneer. Ons verstandjies is kleiner as mosterdsaadjies in vergelyking met God, en daarom sien ons dikwels net die klein huidige kolletjie rondom ons raak. God sien egter ‘n baie, baie groter prentjie, en Hy sien nie alleen die huidige en verlede wat ons sien nie, maar ook die toekoms. Hy het immers alreeds lánkal die toekoms ontwerp! Daarom gee Hy dikwels baie anders én baie beter as wat ons vra. Ek wéét, ek het eerstehandse ondervinding daarvan! Ek kan maar net met groot lof juig dat Hy groot en goed en alwetend is, en soveel groter dink as hierdie nietige mensie. Die groot geheim is dat Hy wil hê dat ek moet aanhou bid! Daarmee verklaar ek my totale afhanklikheid aan Hom.

Jesus se tweede gelykenis handel oor ons gesindheid. Ons sien die hoogdrawende Fariseër waar hy in die tempel staan en eintlik sy eie lof besing voor die Here. Hy vertel vir God, en verál diegene wat hom hoor, hoe ‘n goeie mens hy nou éintlik is, en wat hy alles vir die kerk doen.

Gebed is ‘n gesprek met God, nie ander mense nie! Ek het al gehoor hoe ‘n predikant sy preek opsom vir die gemeente in sy gebed. Dan is dit nie meer gebed nie!

Waaroor gaan dit nou eintlik in gebed? Dit is ‘n eerlike gesprek met God waar dit in die eerste plek gaan oor die belangrikste Gespreksgenoot. Kom ons neem ‘n voorbeeld: as jy die geleentheid sou kry om met ‘n wêreldberoemde ikoon, sê nou maar Koningin Elisabet, te gaan gesels, waaroor sou jou gesprek gaan? Jy sal só opgewonde wees, dat jy vir eers gladnie aan jouself sal dink nie! Jy sal vir haar vertel hoe jy haar bewonder, en haar bedank vir die wonderlike voorreg wat sy jou gegee het. Omdat sy so ryk is, sal jy haar dalk versoek om van haar asemrowende rykdom te gebruik om Kovid 19 te stuit. Die geleentheid is só groot, dat jy skoon van jouself vergeet!

Gesels ons met God, dan is dit met Iemand sovéél groter, en die blote gedagte laat jou bewerasies kry van opgewondenheid. Het ons ooit nog daardie respek en bewondering vir Hom? Voel ons nog klein en nietig en broos voor die Koning van alle konings? Wil ons nog uitbars in ‘n jubelende, opgewonde loflied vir Hom, elke keer wanneer ons die geleentheid kry om met Hom ‘n gesprek te voer? Wanneer ons met Hom praat, dan behoort ons gedagtes só groot te wees, dat ons nie onsself en ons nietige behoeftetjies raaksien nie, maar die groter prentjie van duisende en miljoene ander wat soveel slegter af is as onsself. Ag, en natúúrlik mag ek maar my eie behoeftes ook voor Sy voete lê - Hy is immers my liefdevolle Vader wat vir my omgee!

Gebed:

Almagtige Vader, vanoggend wil ek U grootheid uitbasuin vir die ganse wêreld!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026