Epiloog

14 February, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Epiloog

Genesis 1-50

Ons het aan die einde gekom van die Genesis-verhaal. Dit was ‘n lang reis wat begin het by die skepping en die paradys. Uiteindelik is daar Abraham en God maak aan hom die beloofde van die Beloofde Land. Maar sy nageslag haak vas in Egipte. Dit sou ‘n Moses kos om hulle uit hierdie gat te sleep, en dit sou nog ‘n volle 450 jaar neem.

Maar kom ons gaan kyk ‘n bietjie in perspektief na hierdie verhaal wat ons so pas deurgestap het. Die grootste deel van die geskiedenis handel oor die drie patriarge, Abraham, Isak en Jakob. Tóg strek hulle storie oor ‘n baie klein tydgleuf van die geskiedenis, ‘n skamele 300 jaar. Nou moet ek eers ter inleiding sê dat daar groot meningsverskil is by die geskiedkundiges oor werklike datums. Ek het gekies om vir hierdie oefening ‘n gemiddelde kronologie-tabel te gebruik wat deur meeste geleerdes aanvaar word.

Die drie ou grotes uit die oergeskiedenis het al drie so kort deuskant die duisend-merk hulle ogies finaal toegemaak. Nou weet ons ook dat daar meningsverskil is, en dat baie geleerdes meen dat hierdie verskriklike lang leeftyd van die ou grotes nie in jare gemeet is soos ons dit vandag ken nie, en dat hulle miskien gladnie so vreeslik oud geword het nie. Ons weet net eenvoudig nie vandag of dit die geval was of nie. Maar kom ons aanvaar dat die ouderdomme wat in die Bybel gegee word in naastenby dieselfde jare gemeet is as wat ons vandag ken.

Adam het 930 jaar oud geword, ‘n goeie, lang lewe. Die volgende ou grote waarvan ons lees, was Metusalag. Hy het 969 jaar oud geword, en daarmee het hy die Guinness rekordboek so net-net gehaal as die oudste man in die wêreld se geskiedenis. Na hom was daar nog ‘n ou grote: Noag. Hy het sy bes probeer om Metusalag se rekord te breek, maar op 950 moes hy die handdoek ingooi, ‘n skamele 19 jaar kort van die groot rekord.

As ek die tabelle van die slim manne reg lees, dan sien ek dat Adam nog geleef het toe Metusalag al oor die onderdeur begin loer het. En verder was Noag al ‘n stokou man toe Metusalag nog geleef het. Dit wil voorkom asof hy in dieselfde jaar as die groot vloed gesterf het. 350 Jaar na die groot vloed sterf Noag in die jaar 1994vC. Drie jaar later, in 1991vC skree klein Abrampie blou moord as hy sy eerste lewenslig aanskou. Drie honderd jaar later, in 1700vC ry Jakob in Josef se luukse wa Egipte binne, en uiteindelik 450 jaar later, in die jaar 1250vC trek Moses met drie miljoen Israeliete oor die Rietsee, weg uit Egipte uit. Dit sou ‘n verdere 40 jaar neem voordat hulle die Jordaanrivier sou oorsteek om die land Kanaän in te neem. En so word God se belofte aan Abraham uiteindelik waar.

Wat het die oergeskiedenis en verhale van die aardsvaders ons geleer? Was dit maar net ‘n mooi storie? Vir my persoonlik was dit ‘n groot belewenis en voorreg om hierdie verhaal te kon skryf, en dit het gemaak dat ek met nuwe oë na hierdie deel van die Bybel kyk. Ons lees hierdie verhale vir ons kinders, en dan maak ons gewoonlik finaal die Bybel daar toe, want ons het dit mos nou al ‘n slag gelees! Ons weet mos nou wat daar staan. Tot my groot verbasing en vreugde het ek presies die teendeel gesien toe ek dit oorskryf, want skielik het hierdie verhale vir my lewendig geword. Ek kon saam met Abraham sy vrese en frustrasies en vreugdes beleef. Skielik kon ek saam met Isak die emosies beleef toe hy verlief raak op die mooiste kreatuur wat hy ooit aanskou het, dis nou Rebekka. Saam met Jakob kon ek die frustrasie beleef van ‘n ongenaakbare skoonpa, die droefheid om jou seun te verloor en die borrelende vreugde as jy uitvind na twintig jaar dat hy nog leef.

Josef het my moed gegee vir die lewe, want ek kon dit meeleef toe hy van ’n slawelewe af groot hoogtes bereik in die lewe, net om skielik weer te tuimel tot héél onder. Maar dan weet hy die hele tyd dat God steeds, selfs daar in die tronk, met hom is en vir hom groot dinge beplan.

Ek het persoonlik gedurende hierdie reis ervaar dat daardie groot name uit die verlede nie maar net ikone is waarna ons vandag terug kan verwys nie, maar dat hulle werklike, doodgewone mense was nes ek en jy. Ek het agtergekom dat hulle dieselfde vrese as ons beleef het en dieselfde versoekings en uitdagings. Dit het my egter baie diep getref hoe elkeen van hierdie manne met die Here ‘n pad gestap het. Vir hulle was dit nog ‘n baie groter uitdaging as vir ons vandag, omdat hulle toe géén Bybel gehad het om vir hulle as riglyn te dien nie. Daarom moes God van tyd tot tyd ingryp en met hulle praat deur ‘n droom of visioen.

In watter wonderlike tyd leef ons nie vandag nie! Ons het God se wonderlike lewende Woord om vir ons ‘n riglyn te wees en om vir ons die pad uit te stippel wat Hy wil hê ons moet loop. En natuurlik het ons die verhale van die ou grotes wat vir ons sê: “Hou moed! Bly vashou aan God se beloftes, al lyk hulle ook hóé onmoontlik. En die belangrikste van alles: Bly vasklou aan jou geloof, maak nie saak wat gebeur nie!”

Gebed:

Here, dankie dat U vir ons hierdie wonderlike geskiedenis gegee het van U handelinge met die grotes uit die ou tyd. Dankie dat ons geloof daardeur versterk kan word en dat U so vir ons moed gee.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026