Josua 13 en 14
Om die land te verdeel sodat elkeen ‘n regverdige plekkie kry, is g’n maklike taak nie, veral as jy nou al ‘n stokou man is soos Josua. Maar ten spyte van sy hoë ouderdom, gebruik die Here hom steeds.
Wanneer Josua begin met die verdeling was daar steeds dele van die land wat nog nie in besit geneem was nie. Een gedeelte aan die weste kant was beset deur ‘n groep immigrante, die moeilike Filistyne. Dan was daar ook die bevolking van Gesur. Maar steeds bly die Here se belofte aan die volk lewendig. Hierdie volke sou Hy ook op Sy tyd vir hulle gee.
Aan elke stam word grondgebied toegeken wat hulle kon gaan bewerk en vir hulle ‘n lewe maak. Daar was egter een stam wat nie grondgebied gekry het nie: die stam van Levi. Voordat ons begin dink dat dit onregverdig was, moet ons eers besef dat hierdie stam ‘n baie spesiale taak gehad het. Hulle was verantwoordelik vir die tempeldiens. Die priesters was uit hulle geledere aangestel, en aangesien hulle gedurig aan diens was, kon hulle nie terselfdertyd ook landerye bewerk, wingerde plant en vee versorg nie. Dus het die Here op ‘n baie spesiale manier vir hulle gesorg. Hulle kon regdeur die land bly tussen die ander mense en die loon vir die diens wat hulle moes verrig was dat al die ander stamme vir hulle gesorg het.
Vandag weet ons natuurlik dat hierdie land oor ‘n baie diverse landskap strek, van die vrugbare Jordaanvallei tot dor woestyngebied. Toe die land verdeel was, het nie almal dieselfde gekry nie. Terwyl sommige ryk, vrugbare landbougrond gekry het, moes ander tevrede wees met dorre bergwoestyn. En die Leviete moes tevrede wees om op die genade van ander te leef!
Op dieselfde wyse moet ons vandag ook besef dat die Here nie aan alle gelowiges dieselfde gee nie. Sommige van ons het die voorreg om skatryk sakelui te wees terwyl ander van die hand na die mond leef. Vir sommige gelowiges is dit ook soos die Leviete, waar hulle dikwels nie geweet het waar die volgende maaltyd vandaan sou kom nie.
Die belangrike is egter dat ons tevrede moet wees met die omstandighede wat die Here vir ons gee. Elke omstandigheid het sy eie uitdagings. Om skatryk te wees is byvoorbeeld gladnie so maklik as wat dit klink nie, want jy moet tienkeer so hard werk om jou geloof in stand te hou as die man wat in armoede leef. Ek weet baie goed want ek het albei wêrelde gehad. Ek het relatiewe rykdom gehad waar ek eiendomme besit het en goed kon lewe. Ek het ook armoede geken waar ek werklik nie geweet het waar die volgende maaltyd vandaan sou kom nie. Geestelik was die arm tyd baie makliker! Dit was júís in die tye wanneer ek fisies swaargekry het, waar ek baie nader aan die Here geleef het en waar ek Sy versorgende Hand so intens ervaar het. Dit was ook in hierdie omstandighede waar my vertroue in Hom ongekende hoogtepunte bereik het. Ons moet onder alle omstandighede dankbaar wees.
‘n Vraag wat ons dalk vanoggend wil vra, is hoe hierdie grondverdeling plaasgevind het? Het Josua bloot gaan sit en gesê: “Juda kry hierdie stukkie” en “Gad kry daardie deel”? Nee, dan sou iemand hom dalk kon omkoop vir ‘n beter stukkie grond of die manne sou baklei oor die een bevoordeel is bo die ander.
Nee, Josua het die ding baie slim uitgewerk sodat almal moes weet dat dit regverdig was. Josua het ‘n kommissie saamgestel wat die verdeling moes behartig. Deur loting is elkeen se grondgebied aan hom toegeken. Die uitsondering was natuurlik die stamme wat hulle grond aan die oostekant van die Jordaan gekry het, want dit was lankal reeds aan hulle toegeken deur Moses.
En dan was daar Kaleb. As ons ‘n bietjie terugblaai in die geskiedenis, veertig jaar voordat Josua oor die Jordaan getrek het, lees ons van hom. Kaleb en Josua was die enigste twee verspieders wat vas geglo het dat die Here die land aan hulle kon gee en dat hulle die Here hierin kon vertrou. Baie jare het verloop en al sy tydgenote is intussen dood. Nou is dit slegs hy en Josua van die oorspronklike klomp wat die Beloofde Land kon betree. Hy stap al aan in die jare, al vyf en tagtig maar steeds sterk. Hy sien selfs nog kans om ‘n stad of twee te gaan inneem!
Omdat Kaleb na al die jare steeds getrou gebly het aan die Here, word hy mildelik beloon. Dit is nie alleen sy hoë ouderdom wat die Here hom gun nie, maar Kaleb kry die room van die buit, die stad Hebron!
Die Here het na al die jare die rolle omgekeer. Josua en Kaleb was verag deur hulle mede-Israeliete omdat hulle teen die stroom in geglo het dat hulle die land van melk en heuning kon inneem. Niemand wou met hulle saamstem nie en hulle is verstoot. Nou is hulle twee die twee mees geseënde manne in die volk. Terloops, die naam Kaleb beteken “Hond”. Die spreekwoord sê mos: “Elke hond kry sy dag.” Hierdie “hond” Kaleb het beslis sy dag gekry en hy is ryklik beloon deur die Here!
Gebed:
Here, maak my asseblief dankbaar in elke situasie, of dit goed of sleg is. Ek besef dat moeilike tye nodig is om my nader aan U te trek. Help my asseblief ook om in alle omstandighede my blydskap in U uit te leef!