September 2008. Voor my strek ‘n woud van kaal boomstamme en takke sonder blare. Barre, sonverskroeide grond en klippe waar eens ‘n wuiwende grasveld gelewe het.
As ek my oë so oor die veld laat gaan, sien ek net ellende. Daar hang ‘n swaar reuk van dood in die lug. Ja, ek wil gerieflikheidshalwe nie weet van die swaarkry van die diere nie, en die karkasse wat reeds oral lê nie. Ek wil net die mooi en die lekker raaksien. Ongelukkig is die nood oorweldigend.
Die dorre aarde hyg, smagtend na ‘n druppeltjie reën. Genadeloos bak die felle son elke greintjie lewe uit alles waarin daar lewenssap vloei. Rooibokramme, eens trotse sultans met bekoorlike harems, nou lustelose wandelende geraamtes wat doelloos rondstrompel op soek na iets groen wat nie is nie. Waar daar slegs enkele maande gelede nog veldblommetjies vrolik gelag het, is nou net die barre rooi grond, leweloos en uitgebak. As die rooibok sleepvoet voortwaggel, slaan die stoffies op waar sy moeë pote slof-slof.
‘n Paar vlakvarke ploeg die harde rooi grond om met hulle taai snoete. Iewers daar onder moet ‘n wortel of iets wees wat eetbaar is. Klippe word uitgehaak met groot, krom slagtande. Af-en-toe hap hulle na iets denkbeeldig. Maar die humeure is bitter kort. Dit kos net ‘n skewe kyk om ‘n vark woedend na sy maatjie toe te laat gaffel met daardie dodelike wapens. As die maat hom durf wip, breek daar ‘n verwoede geveg los, en in ‘n wolk stof word die swakker een gejaag totdat hy uit die gesigveld verdwyn.
‘n Koedoe kom bedel vir kos. “Daar is niks in die veld om te eet nie,” sê haar droewige oë. “Hoe moet ek oorleef?” Op die stoep staan ‘n groot pot pap. Hieruit het die duikertjie, die bosbokooitjie, die varke en die tarentale al rantsoene gekry. Ek tel die deksel op en sy staan nader. Sy hap-hap al na die pap terwyl dit nog op die houtlepel is, en skaars land dit op die grond, of dit verdwyn in haar honger keelgat af. Sy sien die houtlepel op die pappot lê, gryp dit behendig met haar rasper-tong en begin kou dat die splinters spat.
Almal is honger!
Die dag word kraaiegaap-warm. Kort-kort bou daar ‘n paar belowende wolkies in die lug op, om maar net weer deur die gloeiende son verdamp te word. Laatmiddag raak die hitte ondraaglik drukkend. En dan merk ek dit: ‘n vae donkerheid wat ons bekruip. Ek stap om die huis, ‘n pikswart wolkbank borrel en kook in die suide. ‘n Vae rammeling is musiek vir my ore. Binne-in my jubel dit! Moontlik, net dalk miskien gaan dit vandag reën!
Swart-grys dreun die wolke oor ons heen, rammelend en blitsend. ‘n Belofte van die geopende sluise van die hemel drup-drup in die poeierstof. Terwyl die aarde skud en bewe as magtige elektriese ontladings die lug om die weerligstrale laat ontplof, begin die reën saggies neersif. Die heerlike geur van reëndruppels wat die stof benat, vul die lug. Ek trek my longe diep vol om elke greintjie te proe. Salig!
Maar helaas: die storm rammel voort, verby, tot dáár diep in die Kruger Wildtuin, sonder dat die hemelpoorte vir ons oopgaan. Vir ‘n lang ruk hou die reëndruppeltjies so aan om saggies te val, en dit benat die verstikkende stoflaag sodat die veld heerlik vars ruik.
Daar is ‘n blydskap in die lug, al het dit nie werklik gereën nie. Die voëltjies kwetter vrolik, en dit lyk sommer of daar nuwe lewe, nuwe hoop in die veld is. ‘n Familie kakelaars speel luidrugtig wegkruipertjie in die gate van ‘n hol knoppiesdoring se stam. Dit lag en skerts en koggel en lawaai dat hoor en sien vergaan. Wie weet, môre, dalk oormôre kom die groot reën.....
Psalm 42:2-4: “Soos 'n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. Ek dors na God, na die lewende God. Wanneer kan ek gaan en voor God verskyn? Dag en nag is ek in trane, want sonder ophou sê hulle vir my: “En waar is jou God nou?”
Op die oomblik leef ons in meer as een opsig in ‘n “droogte”. Nie alleen is baie boere moedeloos oor ‘n uitmergelende fisiese droogte nie, maar ons land gaan gebuk onder ‘n vlaag van haat, moord, verkragtings, korrupsie, goddeloosheid. En nes die psalmdigter, snik ons dit ook uit: “ Dag en nag is ek in trane!” Dit laat ons in vertwyfeling!
Maar dan ruk die Psalmdigter homself reg: “Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom 'n loflied sing. Hy is my helper en my God!”
Ons het so pas deur Psalm 23 gewerk, en vir mekaar gesê dat die Here my hand vashou, selfs deur die dal van doodskaduwee. Ons kan dieselfde boodskap lees in Psalm 42. Ek daarom kan ons nie anders nie as om dit uit te smeek: “Ek smag na U, o God!” Hy is my álles! Ek vertrou Hom ten vólle!
Gebed:
Ek dors na U, God, my God! Ek smag na U, God! Ek wil géén oomblik sonder U wees nie, want U is my lewe!