Filippense 2:1-4
Eensgesindheid is een van die héél belangrikste woordjies in ‘n gelowige se woordeskat. Daarsonder sal dit bitter moeilik wees vir ‘n gemeente om te bestaan. Die geskiedenis het dit al oor en oor bewys, en die voorbeelde van gemeentes wat totaal uitmekaargeval het as gevolg van ‘n gebrek aan eensgesindheid is legio. Dit is so hartverskeurend!
Ons kan gaan leer uit die natuur oor eensgesindheid, en hoe dit werk. Ons het 'n paar dagstukkies terug weereens gesien hoe wonderlik ‘n trop olifante funksioneer. Ons gelowiges kan beslis by hulle gaan leer! Ek het vertel van 'n trop Ollies wat in die rivierbedding tussen die riete staan en wei het. Skielik het die ou ma besluit dat dit tyd geword het om huiswaarts te keer, en sy gee ‘n bevel wat vir die menslike oor totaal onhoorbaar is. Soos één man los die hele trop alles waarmee hulle besig is en begin haastig die rivier verlaat. Dit was asof ‘n geweerskoot geklap het, en die hele trop op loop gesit het - net, daar was geen geluid nie, en hierdie trop het tussen ‘n paar ander olifanttroppe hulle omkeer gemaak, sonder dat die ander ‘n oog geknip het.
Hiermee wil ek nie sê dat ‘n ganse gemeente moet spring as die dominee so sê nie, maar eerder dat daar ‘n hegte band moet wees tussen gemeentelede. Die vraag is wat hierdie band smee? Paulus noem hier vier dinge wat noodsaaklik is: Die eerste faktor is die troos in Christus. Hierdie is die belangrikste, want dit is hierdie een ding wat van ons gelowiges maak. Jy kan tog immers nie ‘n gelowige wees as Jesus nie ‘n plek in jou lewe het nie. Hy is die sentrale punt in enige gemeente, en absoluut alles wat in ’n gemeente gebeur moet rondom Jesus sentreer. Dit is wanneer ander dinge meer belangrik raak as Jesus, wat ‘n gemeente begin uitmekaar skeur. Dit kan gebeur dat ‘n sekere doktrine, eiendom, ideologie baie hoog op ‘n gemeente se agenda kom. Daar word gewoonlik so baie aandag daaraan gegee, dat mense naderhand daaroor begin stry. Dan val die eensgesindheid uitmekaar! Stel Jesus héél voor, en eensgesindheid kan feitlik gewaarborg word.
‘n Tweede faktor is ewe belangrik: liefde. Liefde kan op baie vlakke manifesteer, maar die belangrikste om te onthou, is dat dit nie maar ‘n humanitêre liefde moet wees nie, maar liefde uit Christus gebore. Eerstens moet hierdie liefde binne in die gemeente funksioneer. Gelowiges moet waarlik vir mekaar omgee en hulle liefde uitleef binne die klein kring van die gemeente-gesin. As ’n mens waarlik vir mekaar lief is, sal daar mos nie ‘n geskinder en kwaadpratery wees nie, en sal die gelowiges mekaar se belange op die hart dra. In ons gemeente drink ons altyd na die erediens saam koffie, en dan is daar ‘n heerlike ge-saamkuiery en gesels. Dit is hegte liefdesbande wat ons so prakties aan mekaar bind. Ek sien uit na daardie Sondagoggend se saamkuier!
Die derde faktor wat Paulus vir die gelowiges in Filippi noem, is die gemeenskap deur die Gees. Inderdaad moet die Heilige Gees ‘n baie prominente plek hê in enige gelowige se lewe. Sonde veroorsaak egter dat jy nie vir die Gees plek maak nie. As ons hierdie in gedagte hou, en besef dat dit die werking van die Heilige Gees is wat ons die lus gee om integraal ‘n aktiewe deel te wees van ‘n gemeente, dan begin jy verstaan waarom sommige mense wegdryf. Hoe meer jy aan jou daaglikse bekering werk, hoe meer plek maak jy vir die Heilige Gees in jou lewe, en hoe meer sal jy ook die ware gemeenskap met ander gelowiges begin ondervind. Daarmee saam kom ook die eensgesindheid.
Paulus noem egter ook ‘n vierdie faktor, naamlik “innige meegevoel en meelewing” (Filip 2:1). Wanneer ons die ander drie kombineer - troos in Christus, liefde en die gemeenskap met die Gees, dan is die natuurlike uitvloeisel dat ons waarlik vir mekaar sal omgee en mekaar se laste op die hart sal dra. Ek sien dit telkemale wanneer een van ons gemeente ‘n geliefde aan die dood afstaan. Binne ‘n kort tydjie is daar ‘n skare van mense gemobiliseer wat daardie persoon letterlik op die hande dra. Kos word aangedra om die las te verlig, en daar is gedurigdeur iemand wat waarlik omgee, troos en bystaan, of dalk net daar is om te luister.
Dit is egter belangrik dat jou gesindheid reg moet wees, anders help al hierdie dinge absoluut niks. As jy meedoen bloot om jou eie aansien te verhoog, of slegs uit pligsbesef, dan het jy totaal die punt gemis. Hier gaan alles om Christus en jou medegelowige, en jou eie belange kom héél laaste. As jy eer soek of erkenning, dan is jy op die verkeerde plek. Sulke dinge kry jy in die politiek of op die verhoog. Nederigheid, diep uit jou hart is een van die vereistes om waarlik hierdie eensgesindheid in ‘n gemeente te laat werk. Dit geld veral vir diegene wat in ‘n leiersposisie is. Dit is nie maklik nie, en dit vat hope selfverloëning om waarlik ‘n nederige leier te wees en nie ‘n “baas” nie.
Gebed:
Here, ek skiet so bitter vêr tekort - gee asseblief vir my nederigheid, ware liefde en omgee in my hart.