Genesis 45
Voor die “ongenaakbare” Josef staan die patetiese groepie van elf manne, bedremmeld, verlore, verslae. Party is byna in trane. Hulle soebat en smeek vir hulle klein boetie. Kan dit óóit dieselfde mense wees wat hom twintig jaar tevore met so ‘n venyn gehaat het dat hulle hom wou keelaf sny? Is dit dieselfde jaloerse broers wat hom in die put gegooi het om daar van honger en dors dood te gaan? En wat hom verkoop het? Is dit dieselfde brawe manne wat ‘n hele dorp uit weerwraak vernietig het en die inwoners uitgemoor het? En Ruben? Kan dit dieselfde man wees wat in magsvertoon sy pa se byvrou bed toe gesleep het? Wat het gebeur dat hierdie geharde manne nou voor hom kruip?
Josef voel hoe die emosie in hom opwel, ‘n dam van trane wat dreig om die wal te laat bars. Hy beduie vir al sy amptenare om te skoert. Hulle maak soos hy sê.
Dan kan Josef dit net nie meer hou nie, en voor die verbaasde manne bars hy in trane uit. Hy snik en huil so hard dat die Egiptenare dit tot in die Farao se paleis kan hoor. “My broers het verander!” maal dit deur sy verwarde gedagtes. “My geharde broers het berou. Hulle harte het sag geword!” Oopmond staar die elf manne hierdie spektakel aan. “Wat is dan nou hier aan die gang?”
Dan kom Josef met die hele sak patats uit: “Ek is Josef!” hoor hulle so tussen die snikke deur. “Ek is Josef, julle broer Josef wat julle as slaaf verkoop het.” Nou het hulle alles gehoor! “Leef Pa werklik nog?” wil hy weet.
Die manne kyk geskok vir mekaar: “Is hierdie maar net weer een van sy truuks? Wat probeer hierdie Egiptenaar hierdie slag met ons aanvang? Ons het al gesien hoe totaal onvoorspelbaar hy kan wees!”
En hulle raak baie bang.
Maar Josef roep hulle nader: “Kom hier. Ek is werklik julle boetie Josef. Moenie bang wees nie, julle het my daardie tyd dalk verkoop, maar dit was eintlik God wat my vooruit gestuur het om julle te kom red.”
Dan begin Josef vertel van hoe wonderlik die Here voorsien het. Hy het hulle onreg gebruik om almal se lewens te red. Maar eintlik gaan dit nie soseer oor hulle nie, maar om God, en wat God doen met mense se dade.
As ‘n mens die dag hierdie groter visie het van God wat bo alle mense verhewe is, en selfs mense se onreg kan kanaliseer en gebruik tot heil van ander mense en om Sy groter doel te bereik, dan begin jy iets verstaan van die Koninkryk van God. Natuurlik is ons steeds verantwoordelik vir ons dade. Trouens, vir meer as twintig jaar moes hierdie broers ‘n leuenlewe voer en saam met ‘n bitter skuldige gewete leef. Ja, hulle wandade het baie seergemaak, maar dit het nooit God se doel verydel nie.
Josef beveel die elf om onmiddellik huis toe te gaan en vir Jakob en hulle gesinne te gaan haal. Alles wat hulle besit, hulle vee, slawe - alles moet saamkom. Hulle kan hier in die Gosenstreek kom vestig. Daar lê nog vyf jaar van hongersnood voor, en in Kanaän sal hulle beslis nie oorleef nie. Hier is vir hulle oorvloed, en kan hulle hulle lewensstandaard handhaaf.
Steeds is die broers skepties. Dan roep Josef sy kleinboet Benjamin nader. Hy omhels hom, en dan loop die trane alweer as Benjamin op Josef se skouer huil. Dan besef die manne dat hierdie nie ‘n skouspel is nie, dit is die werklikheid. Hulle bestorm vir Josef en omhels hom. En almal huil lekker saam.
Hierdie gebeure het die Farao se paleis baie vinnig bereik. Wat sou die man se reaksie wees? Sou hy woedend vir Josef afdank? Inteendeel: hy is saam met Josef bly, en dan stuur hy die boodskap na Josef se paleis: “Josef, sê vir jou broers dat hulle hulle rydiere moet opsaal en jou pa gaan haal. Ek sal vir hulle die beste deel van Egipte gee om in te bly. Hulle kan die room van die land geniet. Ek sal vir al hulle vervoer hierheen sorg.” Wow!
En so stuur Josef sy broers om sy pa te gaan haal. Hulle word oorlaai met padkos en graan. En Benjamin kry ‘n sak vol silwer en vyf stelle nuwe klere.
Terug by die huis aanskou Jakob hierdie optog. “En wat is hier aan die gang?” wil hy weet.
“Sit Pa! Pa, Josef leef!” Jakob begryp nie wat Ruben vir hom sê nie. Dit kan mos nie wees nie? “Pa, Josef leef, en hy regeer oor die hele Egipte!” Jakob is stomgeslaan. Sy verstand sê vir hom dat dit nie waar kan wees nie. Sy seuns probeer hom net in sy oudag opbeur!
“Nee, moenie vir my kom loop storietjies vertel nie. Ek ken julle mos al lank genoeg!” Jakob is sommer vies vir hierdie wrede poets wat hulle hom wil bak. Dan sien hy die optog van Egiptiese waens wat kom om sy trek te kom haal.
“Is dit werklik waar?”
"Nou waarom sal ons oor so ‘n ding lieg Pa? Natúúrlik is dit waar!” Jakob se vreugde ken géén einde nie. Die ou grysaard het sékerlik nét daar ‘n riel gedans dat die klippers so spat. “Josef, Josef my seun! Jy leef!”
Gebed:
Here, Josef se verhaal bring trane in my oë. Dankie dat ek vandag hierdie aangrypende verhaal kan lees, en wéét dat U voorsien en selfs mense se swakhede kan gebruik om U doel te bereik.