Diensbaarheid

14 August, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Diensbaarheid

Matteus 20:17-28

Ons verhaal vanoggend gaan oor twee broers, Jakobus en Johannes. Hulle dierbare Mammie kom met ‘n baie ernstige versoek na Jesus toe: dat haar twee seuntjies asseblieftog die ereposisie by Jesus se troon kry wanneer Hy gaan regeer. Dit klink nie na ‘n vreeslike onbillike versoek nie, want uiteraard is hulle mos deel van ‘n ou klein groepie wat Jesus se intieme vriende was vir die afgelope drie jaar. Sy het egter nie die vaagste benul gehad waaroor alles werklik gegaan het nie. ‘n Mens sou ook verwag dat hulle sommer dadelik vir haar sou sê: “Ag Ma, los tog maar, want ons weet mos dat dit oor baie meer gaan as net ‘n ereplekkie langs die troon!” Maar nee! Hulle speel saam, en jy kom agter dat selfs ná al die dinge wat Jesus hulle geleer het, hulle steeds gladnie besef WIE en WAT Jesus is nie.

Die ander manne is bitter ontsteld oor hierdie twee, en natuurlik ook hulle ma se versoek. Dan dink jy dat hulle darem ten minste iets gesnap het. As jy egter ‘n bietjie dieper kyk, kom jy agter dat hulle ontsteltenis gaan oor die feit dat Jakobus en Johannes hulle voorgespring het. Hulle wou dan eintlik sélf mik vir daardie ereposisie!

Wat die hele situasie nog meer absurd maak, is die feit dat hierdie petalje afspeel pas nadat Jesus juis vir hulle vertel het dat die kerkleiers Hom in Jerusalem sou gevange neem. Hulle was op daardie stadium juis op pad na Jerusalem, dus was hierdie nagmerrie net om die draai. Hy vertel ook dat Hy ter dood veroordeel sou word. Hy vertel in detail hoedat die heidene Hom sou spot, gésel en kruisig. Maar op die derde dag sou Hy opstaan uit die dood. Het hierdie dinge nie by hulle ingesink nie? Was hulle so behep met hulle eie posisie eendag in die Koninkryk dat hulle nie eers gehoor het wat Jesus sê nie?

Ek dink dat Jesus seker baie moedeloos met hierdie klomp moes gewees het. Vir drie jaar lank gee Hy hulle intensiewe opleiding, en verduidelik vir hulle presies waaroor alles gaan. Daar kom pragtige oomblikke wanneer dit lyk of hulle besef wie Jesus is. Oomblikke wanneer hulle bely dat Hy die Seun van God is.

En dan, DIT.......

Miskien het hierdie pelgrimsreis van hulle na Jerusalem, gedagtes by hulle losgemaak, dat Jesus dalk 'n staatsgreep sou uitvoer en Israel van die Romeine verlos. Het Jesus nie al by verskeie geleenthede vir hulle uitgespel wat in Jerusalem sou gebeur nie? Het hulle nooit gehoor toe Hy vir hulle vertel het van die lyding en die dood wat daar op Hom gewag het nie? As Jesus dan vir hulle vra of hulle bereid sal wees om die lydensbeker saam met Hom te drink, antwoord hulle onomwonde "JA!" Hulle praat sonder om te dink, sonder om te besef wat hulle sê.

As Jesus die twaalf eenkant roep, begin Hy vir hulle ‘n prent skilder, ‘n prent waarin Hy verduidelik wat die verskil is tussen ‘n wêreldse Koninkryk en ‘n Goddelike Koninkryk. In vandag se terme sou Jesus waarskynlik sê dat die regeerders (dis nou die president, die ministers en almal wat in magsposisies sit) hulle magte totaal misbruik. In plaas van om die land te dien, wil hulle gedien word, in mooi motors ry, in paleise woon en onbeperkte mag hê. Hulle wil stringe veiligheidswagte hê wat hulle veiligheid verseker.

In God se Koninkryk werk dit baie anders: daar word jy nie gedien nie, maar jou hoogste taak is eintlik om diensbaar te wees. Jesus het hierin telkemale die voorbeeld gestel, waar Hy die minste was om sy leerlinge se vuil voete te was, iets wat slegs ‘n slaaf sou doen. Hy het weggeskram van alle eerbetoon, en telkemale as Hy iemand gesond gemaak het, het Hy die persoon beveel om stil te bly daaroor. Jesus se dag van glorie, die dag toe Hy die vyand finaal verslaan het, was nie ‘n reuse jubelfees nie, maar uit ‘n wêreldse oogpunt ‘n uiters tragiese dag. Daardie dag het Hy, die Koning, die Oorwinnaar immers aan ‘n vloekhout gehang en is Hy bespot en geslaan. Jesus verwag nie van enigeen van ons om óóit so ver te gaan nie. Sy boodskap is egter dat die hoogste eer wat jou kan tref is dat jy die geleentheid kan kry om te dien. En dan, dat jy daardie geleentheid met albei hande sal aangryp.

Ek het dit al dikwels beleef dat mense wat die hoogste posisies beklee in die kerk, juis die mense is wat bereid is om die skottelgoed te was en die laagste werkies te doen. Ek het dit byvoorbeeld beleef van 'n vorige Moderator van die NG Kerk, en sy nederigheid het 'n baie groot indruk op my lewe gemaak.

As gelowiges moet ons strewe wees om diensbaar te wees, nie alleen teenoor God nie, maar ook teenoor elkeen wat ons paadjie kruis. Saam met diensbaarheid kom natuurlik ook nederigheid en die bereidheid om die minste te wees. Dit is baie beslis nie maklik nie! Dit verg baie moed om van daardie troontjie af te klim! En nog meer so, as jy moet toesien dat die persoon wat jou plek inneem beslis nie waardig is om daar te sit nie. My gebed vanoggend vir jou is dan ook dat hierdie ‘n kenmerk van jou lewe sal wees.

Gebed:

Here, help my om diensbaar te wees in U Koninkryk maar ook nederig. Stuur vandag asseblief geleenthede oor my pad waar ek kan dien, en maak my gewillig om die minste te wees.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026