Romeine 1-3
Dit is maar bitter koud in Korinte, en Paulus gaan net buitentoe as dit nie anders kan nie. Om aan die lewe te bly, bedryf hy sy tentmakery. En tussendeur leef hy sy jarelange droom uit om met die mense van Rome te praat. As hy hulle dan nie kan besoek nie, kan hy ten minste vir hulle skryf. Paulus het die onskatbare waarde van hierdie wonderlike medium van briewe ontdek toe hy sy eerste brief aan die gemeentes in Galasië geskryf het, en hy sal nooit weer terug kyk nie.
Paulus is baie dankbaar oor hierdie gemeente in Rome: “Heel eerste dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal, omdat julle geloof oor die hele wêreld verkondig word.” (v8). Dat daardie gelowiges staande kan bly ten spyte van die haglike omstandighede waarin hulle bly, gaan 'n mens se verstand te bowe. Alleen die Heilige Gees kan jou daardie krag gee! “Dit is my hartsbegeerte om ook aan julle in Rome die evangelie te verkondig,” sug Paulus. (v15)
Paulus besef maar ál te goed wat die omstandighede in Rome is. Na sy danksegging wil hy eers die walglike dinge waarvan hy gehoor het wat in Rome aangaan van sy hart af kry. Die stad leef in 'n rioolput van sonde en Goddeloosheid. En die mense kan nie sê dat hulle nie geweet het dat dit verkeerd is nie. God se werke is duidelik sigbaar vir elkeen om te kan sien!
Maar wat doen hulle? In plaas daarvan om die onverganklike God te dien, maak hulle beelde van verganklike dinge soos diere en slange en aanbid hulle. En dan gee hulle hulleself oor aan hulle onsedelike drange. Hulle verruil die waarheid vir die leuen. Perversiteit is die norm en allerhande skandelikhede is deel van die lewe. Ongeregtigheid, slegtheid, hebsug, gemeenheid, jaloesie, moord, twis, bedrog, skinder, kwaadpraat, liefdeloosheid en alles wat vuil en sleg is, is deel van elkeen se lewe. En hulle verlekker hulleself daarin.
Paulus wy die grootste deel van hoofstuk 1 aan hierdie morsige saak. Paulus begin hoofstuk 2 met 'n ernstige waarskuwing aan die gelowiges: Moenie oordeel nie! Dan verduidelik hy: “Met die oordeel wat jy oor die ander persoon uitspreek, veroordeel jy immers jouself, omdat jy wat oordeel, dieselfde doen.” (v1). Maar dan die troos: “Ons weet dat God se oordeel na waarheid oor mense kom wat sulke dinge doen.” (v2).
Ja, wie is ek en jy om énigsins te oordeel? Ons het ook maar ons sondes, en daar is nie 'n verskil tussen groot sondes en klein sondetjies nie - sonde is sonde! In vers 4 skryf Paulus egter dat God ryk is in Sy goedheid, verdraagsaamheid en geduld!
Volgende pak Paulus die wet en hy wil dit baie duidelik stel dat die wet niemand kan red nie! Dan praat hy spesifiek met die Jode wat hulle só beroem daarop dat hulle onder die wet van Moses is, en dus in die voorste sitplekke sit. “Jy noem jouself tog 'n Jood, jy maak staat op die wet en jy beroem jou op God.” (v17). Paulus is nou goed op dreef, en hy vertel die Jode kaalkop die waarheid, dat hulle dink dat hulle 'n gids vir die blindes is, maar dat hulle nie hulle eie foute raaksien nie. Hulle preek vir ander, maar dan doen hulle presies wat hulle vir die ander sê om NIE te doen nie. Hy waarsku hulle in vers 24: “Want die Naam van God word deur julle toedoen onder die heidene belaster!” Dis ernstig!
En dan moet ek en jy vandag ook hierdie woorde nét so ernstig opvat en baie mooi dink of ons nie dalk die oorsaak is dat ander mense God laster nie. Ek het al dikwels agter op 'n motor 'n plakker gesien wat dit uitbasuin dat hierdie bestuurder 'n kind van God is. Maar dan is sy optrede op die pad allesbehalwe mooi. Dan is dit maklik vir 'n ongelowige om te sê: “As dit is hoe 'n Christen doen, dan wil ek nie een wees nie!”
Maar Paulus is nog gladnie klaar met die Jode nie en hy sê dat hulle besnydenis waardeloos is as hulle enigsins die wet oortree. Hy gaan aan met hulle in hoofstuk 3 en hy vra of daar dan ooit enige voordeel is om ‘n Jood te wees? In vers 9 vra hy: “Wat dan? Is ons (die Jode) beter daaraan toe? Hoegenaamd nie! Want ons het alreeds tevore Jode sowel as Grieke daarvan aangekla dat almal onder die sonde is!” Dan haal Paulus aan uit verskeie dele van die Skrif om sy stelling te staaf: “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie!” (Pred. 7:20); “Almal het afgedwaal; saam het hulle ontaard.” (Ps. 14:2); “Verwoesting en ellende is op hulle paaie, en 'n pad van vrede ken hulle nie.” (Jes. 59:8).
Uiteindelik sug Paulus in vers 23: “Almal het trouens gesondig, en die eer aan God ontbreek by hulle.” Maar dan kom die wonderlike woorde soos 'n vars briesie: “en tog word hulle goedgunstig op grond van sy genade vrygespreek deur die bevryding in Christus Jesus.”
Is dit nie die wonderlikste nuus wat enige mens óóit kan kry nie? Dit is nie deur die wet te onderhou of om 'n Jood te wees of enigiets wat ek doen wat ek die verlossing kan kry nie, maar enkel alleen deur God se onbegryplike en onbeskryflike genade!
En dan vra Paulus die vraag wat baie mense vra, of die wet dan nou totaal wegval? Hef hierdie genade die wet op? Is dit sonder waarde? Dan antwoord hy in vers 31: “Hoegenaamd nie! Trouens, ons bevestig die wet.” Die wet kry dus nou 'n totaal nuwe betekenis!
Gebed:
Ek loof U, Here, vir U wonderlike genade, want uit my eie sou ek nooit die vryspraak kon smaak nie. Leer my om U wet te onderhou uit dankbaarheid vir wat U vir my gedoen het!