Die Visioen

15 May, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Visioen

Openbaring 1:9-20

Jy kan nou na verskeie dagstukkie reekse se klankopnames luister.

Klik op die skakel hier bo.

Vervolging van Christen-gelowiges was nog altyd met ons. In ons moderne, verligte tye is daar steeds lande waar jy wreedaardig vervolg word bloot omdat jy in Jesus glo. ‘n Paar jaar gelede is ‘n Suid Afrikaanse vrou byvoorbeeld vir ‘n lang tyd in die tronk opgesluit, bloot omdat sy daarvan verdink was dat sy Christelike lektuur uitgegee het. Christen-gelowiges word in lande soos Noord Korea van alle regte ontneem, selfs die reg om kos te mag kry en die reg om te leef. Alle inwoners word daar gedwing om te buig in aanbidding voor die standbeeld van die leier, soos in die tyd van Daniël. Christene wat weier word in die openbaar tereggestel. Ja, vervolging van Christene is dalk nou erger as ooit!

So was Johannes ook genadeloos vervolg, nie eers omdat hy die regering van sy tyd gekritiseer het nie, maar bloot omdat hy die wonderlike Evangelie van Jesus Christus verkondig het. Hy was nie die enigste nie: Johannes was maar een van derduisende gelowiges wat wreed vervolg is oor hulle geloof, veral in Rome deur die wreedaard Nero. Uiteindelik is hy verban na ‘n klein eilandjie genaamd Patmos, 96 km suidwes van Efese in die Egeïse see. Daar sou hy “veilig” wees, want daar kon hy mos nie die volk “opsweep” met sy “radikale teologie” nie. Maar die regering het nie rekening gehou met God nie, en hulle het skoon vergeet dat Johannes met ‘n pen en papier die Woord van God nét so effektief, indien nie dalk baie beter nie, kon uitdra as wat hy kon doen as hy vir ‘n gemeente sou preek.

Hoe ironies, dat Zimbabwe se opposisieleier destyds juis die ganse wêreld se aandag gekry het toe hy deur Mugabe se soldate papgeslaan is, maar voor daardie gebeurtenis wou niemand na hom luister nie.

Terwyl Johannes vir sy gemeente gepreek het, het hy slegs ‘n klein groepie mense rondom hom bereik. Toe hy egter verban word, gaan ‘n hele nuwe wêreld vir hom oop, en hy skryf die mees omstrede boek in die Bybel. Dit wys jou net weereens dat ‘n mens nie moet sit en kerm as die “ongeluk” jou tref nie, maar dat jy moet jubel in die Here, selfs in haglike omstandighede, want dikwels is dit júís uit sulke situasies waar die Here jou op ‘n wonderlike manier gebruik.

Toe die inperkings ons tref as gevolg van die Kovid 19 virus, wou ek ook in sak en as gaan sit. Die kerk is immers gesluit! Maar toe maak die Here splinternuwe deure oop, en met preke wat op YouTube geplaas word, bereik ons skielik báie meer mense as voorheen. Skielik versprei die Woord nou vinniger as die virus! Ek kry ook talle nuwe intekenaars vir die dagstukkies. Die swaarkry maak mense honger vir die Woord. En dit is ‘n algemene tendens by al die kerke.

En daar sit Johannes eensaam op die eilandjie op ‘n Sondag (die dag van die Here). Skielik kry hy hierdie wonderlike visioen van Iemand wat met ‘n groot stem agter hom praat. Die stem beveel hom om van sy Geestesvervoering aan die sewe gemeentes te skryf. Hy moes hulle vertel wat die Here hom wys.

Wanneer hy omdraai om te sien waarvandaan die harde stem kom, sien hy die wonderlikste gesig: Tussen sewe goue staanlampe staan “Iemand soos die Seun van die mens”. Die sewe staanlampe is ‘n voorstelling van die sewe gemeentes aan wie hy moes skryf, en die Persoon wat daar staan is natuurlik die verhoogde en verheerlikte Jesus Christus, nét soos wat Hy ook geskilder word in Daniël se visioen. (Lees gerus Daniël 7:13-14). Die klere wat Johannes beskryf, het ook simboliese waarde: Die lang kleed is dié van ‘n Hoëpriester of hoogwaardigheidsbekleër. Die goue band is nie om Sy heupe nie, maar om Sy bors, wat aandui dat Hy sy werk afgehandel het. Die wit hare straal wysheid en heerlikheid uit, en die vlammende oë dui op geestelike insig. Die geelkopervoete simboliseer standvastigheid, en die “stem soos die gedruis van ‘n groot watermassa” getuig dat Hy groot gesag het. Die sewe sterre in sy regterhand verbeeld die leraars van die sewe gemeentes. Die swaard is die onweerstaanbare Goddelike woorde, en veral dan ook die oordeel wat Hy uitspreek.

Wanneer Johannes hierdie wonderlike gesig sien, is hy gevul met groot ontsag. Hy val voor Jesus se voete neer in aanbidding en afhanklikheid. Dan raak Jesus gerusstellend aan hom: “Moenie bang wees nie, dit is Ek!” Hierdie wonderlike woorde is soos balsem op Johannes se gemoed. En dan kry hy die opdrag om te skryf.

Johannes was gehoorsaam aan Jesus se opdrag, en sy pennevrug was reeds vir baie miljoene mense oor die afgelope 2000 jaar soos ‘n koel, verfrissende waterstroom van hoop.

Gebed:

Here Jesus, ons loof en prys U wonderlike Naam, vir die aangrypende visioen wat U so lank gelede vir Johannes gegee het. Dankie vir die wonderlike boodskap wat dit vandag ook vir my inhou.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026