Die Tuin

10 October, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Tuin

Genesis 1:29-2:1-14

God se skepping was volmaak. Wat is volmaak? Vir ons het die volmaakte dag in die natuur geword om iewers in ‘n wildtuin te kan sit en te sien hoedat ‘n leeu ‘n bokkie vang en opvreet. Om te sien hoedat die pragtige luiperd sy bloederige prooi in die boom ophys. Volmaak?

Jesaja 11 beskryf die eindtyd, wanneer God ‘n nuwe hemel en nuwe aarde skep. Dan sal die wolf en die lam saam bly en die luiperd tussen die bokkies lê. Leeus sal gras eet en babatjies met slange speel. Dit is volmaak!

Maar was die oorspronklike skepping dan nie volmaak nie? O, dit was beslis! Oorspronklik het die leeus ook gras gevreet! In Genesis 1:29-30 lees ons dat God vir die eerste mense vrugte en sade gegee het om te eet. Ook die diere het slegs plante geëet.

Dit wil dan vir ons sê dat daar ‘n vrederyk op die aarde geheers het nét soos die vrederyk wat vir ons beskryf word na die wederkoms van Jesus. Dan maak die skrywer van Genesis die opmerking in vers 31: “Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed!”

Dan kom die verrassende. Dag ses is verby en dag sewe breek aan. Ons wil dink dat die skepping nou verby is. Maar dit is nie. Op dag sewe skep God nog een laaste ding. Hierdie slag is dit egter nie ‘n konkrete iets wat ons kan sien nie, maar Hy skep ‘n rusdag. Daarmee begin God ‘n siklus van arbeid en rus, iets wat deur die eeue gevolg is en wat noodsaaklik is vir enige mens. Boonop verklaar God dit as ‘n heilige dag, ‘n dag wat anders moet wees as ander dae en vir God afgesonder moet wees. Dit was nooit bedoel as ‘n dag wat vir die mens ‘n las moes wees nie, maar dit moes heilsaam wees vir die mens.

Toe Genesis op skrif gestel is tydens die ballingskap, het hierdie rusdag vir Israel ‘n nuwe betekenis begin kry. Dit is gekoppel aan hulle verlossing uit Egipte destyds. Hulle het begin besef dat dit nie bloot maar ‘n dag is van rus en niksdoen nie, maar dat die dag aan God verbind is. Dit wil iets oor God sê. Eerstens wil dit verklaar dat God inderdaad die Skepper is en dat Hy steeds in beheer staan van alles, ten spyte van die feit dat hulle in ballingskap verkeer.

Hierdie rusdag moes ook dien as ‘n onderskeidingsteken. Hulle, God se volk, was anders as die ander volke. Om die dag heilig deur te bring en tot eer van die Skeppergod, moes hulle vir almal wys dat hulle God aanbid het. Dit moes ook vir hulle sê dat Hy ‘n verhouding met hulle het.

Die skepping was nou voltooi. Dit was ‘n lang proses wat begin het by niks en duisternis en chaos. Dit het geëindig by ‘n kosmos en volmaaktheid en lig. Daar was orde in God se skepping. Hy het die kroon van Sy skepping, die mens gemaak en iets van Homself in die mens geplant. Nou kon die interaksie tussen God en Sy baie spesiale skepsel begin.

Genesis 2 wil vir ons lyk na ‘n tweede skeppingsverhaal. Eintlik is dit gladnie die geval nie. Dit wil die skeppingsverhaal uit ‘n ander hoek beskou. In Genesis 1 word vir ons vertel van die Skepper en Sy werke. Genesis 2 vertel van die skepsel, die mens, en hoe hy op God se skepping reageer.

Ons eerste reaksie wanneer ons Genesis 2 begin lees, is dat dit beslis nie lyk soos die skepping waarvan ons in Genesis 1 lees nie. Alles is nou anders. Dit wil voorkom asof daar chaos is, droog en dor soos ‘n woestyn, en nou begin God van voor af.

Dit is egter nie die geval nie. Die skeppingsverhaal in Genesis 1 fokus op die skepping as ‘n geheel en dan spesifiek op die aarde. Nou word die fokus verskuif na een klein gedeelte iewers in die midde-ooste waar God die mens skep uit die stof van die aarde. Uit stof, inderdaad, want alhoewel hy die kroon van die skepping is, is hy steeds nietig en verganklik en van die grond. Maar God het persoonlik die lewensasem in sy neus geblaas. Ja, hy is God se verteenwoordiger en hy het God se asem in sy liggaam, maar hy is steeds deel van die aarde. Nogtans heg God groot waarde aan hierdie nietige skepsel.

God gee hierdie besonderse skepsel van Hom net die beste. Hy skep ‘n paradys-tuin waar alles perfek en ongeskonde is spesiaal vir die mens om in te woon. Alles was daar in oorvloed, oorgenoeg heerlike vrugte om van te eet, asemrowende skoonheid van die natuur en oorgenoeg kristalhelder vars water. Daar was ‘n groot verskeidenheid pragtige bome. Maar twee van hulle word baie pertinent genoem: Die boom van lewe en die boom van kennis.

In hierdie asemrowende tuin het ‘n rivier sy oorsprong. Die rivier verdeel om vier groot riviere te vorm wat deur verskeie landstreke vloei. Daar word so terloops genoem van goud en edelstene in een van die riviere. Hierdie tuin se invloed is dus nie beperk tot die gedeelte waar die mens woon nie, maar sy invloed strek oor baie landstreke en bring selfs rykdom.

Die tuin is dus die simbool van absolute geluksaligheid, oorvloed en vreugde en dít wat daaruit voortvloei gee vrugbaarheid en voorspoed. Dit pols van lewe!

Die vreugde en geluk wat uit God se teenwoordigheid voortspruit, vloei oor na ander plekke. Wanneer jy die dag vir God ontmoet, word jy self ‘n bron van lewe!

Gebed:

Here, dankie dat U ook die bron van lewe vir my gegee het.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026