Die Trein

4 April, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Trein

1 Timoteus 3:14-16

Toe ek in standerd 9 was het my ouers na Durban verhuis. Ek moes agterbly op Waterval Boven om eers matriek klaar te maak. Dit was groot opgewondenheid wanneer skoolvakansies aanbreek, want dan het dit beteken dat ek op Umhlanga kon gaan vakansie hou waar Pa-hulle in ’n karavaan gebly het. Die vakansies was vet pret, maar die reis daarheen - dit was ’n gans ander saak!

Die trein het net na donker in die aand uit Waterval Boven vertrek, en dan gery tot op Machadodorp - sowat 15 kilometer verder. Daar is die wa afgehaak en het dit oorgestaan tot die volgende oggend vyfuur, waar dit aan die Piet Retief trein gekoppel is. Dit was gewoonlik maar ’n bitter koue nag op daardie vervelige eendonkiedorpie. Maar as vyfuur aanbreek, en die duisendpoot met sy vuurspuwende kop sy eerste rookwolke die lug inblaas, begin my hart sommer vinniger klop.

Prrrt!” blaas die kondukteur uiteindelik dáár agter van die kondukteurswa af op sy fluitjie, en met ’n blikkerige stem skree hy: “All aboard!”. ’n Spierwit pluim stoom pyl die lug in as die drywer die fluit se tou trek. Rookpaddastoele borrel die koue Hoëveldlug in terwyl die kragtige lokomotief sis en wit bolle stoom by die silinders uitblaas. Stadig en statig, gly-gly, al krakende en kreunende op die gladde, natgedoude spoor, kom die swart kolos in beweging. Die swetende stoker gooi grawevol steenkool in die honger, vurige keelgat van die lokomotief in, terwyl die drywer halflyf by die “venster” uithang om mooi te kan sien verby die lang, blink-swart stoomketel.

Stadig kronkel die reuse duisendpoot om die draai, die ysige Hoëveld se grasvelde in. Carolina is die eerste stasie waar daar aangedoen word. Maar voor Carolina in sig is, word daar ‘n honderd keer stilgehou by elke klein sylyn, dikwels net om ‘n paar roomkanne op te laai. “Die Melktrein,” so het hulle hierdie trein gedoop omdat hy letterlik vir elke emmer melk langs die pad stop. Dit voel soos ‘n ewigheid voor ons Carolina binnestoom. Dan kom Breyten en Ermelo, met ‘n duisend en een klein stasietjies tussenin. Piet Retief kom eers die volgende oggend, en daar staan jy ’n volle halwe dag! Drie vervelige dae lank ry-stop-ry-stop die trein om by Durban uit te kom. Drie dae van die tyd omwens en by die venster uitstaar en luister na die klik-klak van treinwiele oor die spoorlaste.

In ‘n sekere sin is ‘n gemeente ook soos ‘n trein. Daar is die personeel, dis nou die drywer, stoker, kondukteur en die kelners wat soos miere in die eetwa rondhardloop terwyl die kok voor gloeiende potte sweet. Die res ry saam, eet saam en doen verder niks. Hoe anders kan dit nie wees nie! Sê nou net die “passasiers” besluit om ook deel te wees van die span. Op die moderne treinsafari's neem elke reisgenoot aktief deel, want vir hulle gaan dit nie net om by die bestemming te kom nie, maar die hele reis is ‘n belewenis waarvan hulle elke oomblik wil indrink en geniet.

Kerk kan ook ‘n bitter vervelige aangeleentheid wees. Daar is die dominee wat preek, die koster wat bontstaan en die kerkraad wat dinge organiseer. En om my gewete te sus, kom ek af en toe in die kerk. Die res van die tyd steur ek my nie juis veel aan wat daar aangaan nie. Maar as ons nou sélf sou inspring en begin saamwerk, sien jy dat dit gladnie so vervelig is as wat jy gedink het nie. Paulus noem die gemeente “die huisgesin van God” (v.15). In ‘n huisgesin is dit nie net Pa wat werk vir geld en Ma wat die spul kosgee nie. ‘n Suksesvolle en gelukkige huisgesin is een waar elke lid saamwerk om die ratte geolie te hou.

In ‘n lewende gemeente is daar drie elemente wat belangrik is: Die eerste is die leier wat sy span moet motiveer. Gewoonlik is dit die leraar. Die tweede is die ander leiers met spesifieke take. Een van hulle belangrikste take is om die res van die gemeente te inspireer om saam te werk. As leiers alleen ‘n taak moet uitvoer, sit jy baie gou met ‘n uitgebrande leierskorps. Dit is daarom van uiterste belang dat gemeentelede aktief deelneem om die “trein” aan die stoom te hou. ‘n Suksesvolle “gemeentetrein” word al hoe langer en langer, want mense sien dat daar iets positief aan die gang is, en hulle wil deel word daarvan. Dit lyk lekker!

So dikwels kry ek briewe van mense wat kla dat hulle geestelike lewe so vervelig is of ‘n laagtepunt bereik het. Ja, as jy net ‘n passasier is, dan sal dit jou lot wees. As jy egter die besluit neem om deel te wees van die “personeel”, begin jy agterkom hoe opwindend daardie “treinrit” kan word. Vir my is kerk ‘n groot avontuur, en ek raak opgewonde oor baie dinge in die gemeente. En omdat ek sélf aktief deelneem, sien ek ook die probleme wat ander leiers ondervind in totaal ‘n ander lig. Nou kritiseer ek nie as die dominee “laks” is nie, maar probeer hom eerder help om deur sy werklas te kom. Ek sien die wonderlike doel aan die einde, en ek weet opgewonde dat die deeltjie wat ek doen, help om by daardie eindbestemming uit te kom.

Maar terselfdertyd gaan dit nie net om die eindbestemming nie. Die ganse rit is vir my een groot avontuur!

Gebed:

Dankie Here, vir die wonderlike voorreg om deel te kan wees van die opwindende span van U Koninkrykstrein.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026