1 Timoteus 3:14-16
Toe ek in standerd 9 (graad 11) was het my ouers na Durban verhuis. Ek moes agterbly op Waterval Boven om eers matriek klaar te maak. Skoolvakansies het ek met die trein gery na Durban om vir my ouers te gaan kuier.
Die trein het net na donker in die aand uit Waterval Boven vertrek en dan gery tot op Machadodorp, sowat 15 kilometer verder waar die wa afgehaak is om oor te staan vir die nag. Die volgende oggend vyfuur het die trein na Piet Retief daar verbygekom, dan is my wa daar aangehaak. Dit was gewoonlik maar ’n bitter koue nag op daardie vervelige eendonkiedorpie!
Dis presies vyfuur as die skril fluitjie van die kondukteur dáár agter van die kondukteurswa af my ore laat tuit: “Prrrrrt!” Met ’n blikkerige stem skree hy: “Aaaall aboard!” ’n Spierwit pluim stoom pyl die lug in as die drywer die fluit se toutjie trek. Rookpaddastoele borrel die koue Hoëveldlug in terwyl die kragtige lokomotief sis en wit bolle stoom by die silinders uitblaas. Stadig en statig, gly-gly, al krakende en kreunende op die gladde spoor waar die ryp spierwit lê kom die swart kolos in beweging. Die swetende stoker gooi grawevol steenkool in die honger, vurige keelgat van die lokomotief in, terwyl die drywer halflyf by die “venster” uithang om mooi te kan sien verby die lang, blink-swart stoomketel.
Stadig kronkel die reuse duisendpoot om die draai, die ysige Hoëveld se grasvelde in. Carolina is die eerste stasie waar daar aangedoen word. Maar voor Carolina in sig is, word daar ‘n honderd keer stilgehou by elke klein sylyn, dikwels net om ‘n paar roomkanne op te laai. “Die Melktrein,” so het hulle hierdie trein gedoop omdat hy letterlik vir elke emmer melk langs die pad stop. Dit voel soos ‘n ewigheid voor ons Carolina binnestoom. Dan kom Breyten en Ermelo met ‘n duisend en een klein stasietjies tussenin. Piet Retief kom eers die volgende oggend en daar staan jy ’n volle halwe dag! Drie vervelige dae lank ry-stop-ry-stop die trein om by Durban uit te kom. Drie dae van die tyd omwens en by die venster uitstaar en luister na die klik-klak van treinwiele oor die spoorlaste.
In ‘n sekere sin is ‘n gemeente ook soos ‘n trein. Daar is die personeel - die drywer, stoker, kondukteur en die kelners wat soos miere in die eetwa rondhardloop terwyl die kok voor gloeiende potte sweet. Die res ry saam, eet saam en doen verder niks. Hoe anders kan dit nie wees nie! Sê nou net die “passasiers” besluit om ook deel te wees van die span. Op die moderne treinsafari's neem elke reisgenoot aktief deel, want vir hulle gaan dit nie net om by die bestemming te kom nie, maar die hele reis is ‘n belewenis waarvan hulle elke oomblik wil indrink en geniet!
Kerk kan ook ‘n bitter vervelige aangeleentheid wees. Die “personeel” sorg vir alles: die dominee preek, die koster hou die kerk in stand, die musiekspan sorg dat ons sing, die tegniese ouens versorg die klank en die kerkraad organiseer die hele spul. Ek gaan maar net kerktoe en steur my nie veel aan wat agter die skerms aangaan nie.
Maar sê nou net ons sou almal sélf inspring en begin saamwerk, dan kom jy agter dat dit gladnie so vervelig is as wat jy gedink het nie! Dan kan dit lekker raak!
Paulus noem die gemeente “die huisgesin van God” (v.15). In ‘n huisgesin is dit nie net Pa wat werk vir geld en Ma wat die spul kos gee nie. ‘n Suksesvolle en gelukkige huisgesin is een waar elke lid saamwerk om die ratte geolie te hou.
In ‘n lewende gemeente is daar drie elemente wat belangrik is: Die eerste is die leier wat sy span moet motiveer. Gewoonlik is dit die leraar. Die tweede is die ander leiers met spesifieke take. Een van hulle belangrikste take is om die res van die gemeente te inspireer om saam te werk. As leiers alleen ‘n taak moet uitvoer, sit jy baie gou met ‘n uitgebrande leierskorps. Dit is daarom van uiterste belang dat gemeentelede aktief deelneem om die “trein” aan die stoom te hou. ‘n Suksesvolle “gemeentetrein” word al hoe langer en langer, want mense sien dat daar iets positief aan die gebeur is en hulle wil deel word daarvan. Dit lyk lekker!
So hoor ek mense wat kla dat hulle geestelike lewe so vervelig is of ‘n laagtepunt bereik het. As jy slegs ‘n passasier is, sal dit inderdaad jou lot wees! As jy egter die besluit neem om deel te wees van die “personeel”, begin jy agterkom hoe opwindend daardie “treinrit” kan word. Vir my is kerk ‘n groot avontuur en ek raak opgewonde oor baie dinge in die gemeente. En omdat ek sélf aktief deelneem, sien ek ook die probleme wat ander leiers ondervind in totaal ‘n ander lig. Nou kritiseer ek nie as die dominee “laks” is nie, maar probeer hom eerder help om deur sy werklas te kom. Ek sien die wonderlike doel aan die einde en ek weet opgewonde dat die deeltjie wat ek doen, help om by daardie eindbestemming uit te kom.
Maar terselfdertyd gaan dit nie net om die eindbestemming nie. Die ganse rit is vir my een groot avontuur!
Gebed:
Dankie Here, vir die wonderlike voorreg om deel te kan wees van die opwindende span van U Koninkrykstrein!