Die Tempelreiniging

17 August, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Tempelreiniging

Matteus 21:12-17

Besigheid was baie goed daardie dag! Mense het in hulle hordes na die tempel gestroom, want dit sou binnekort Paasfees wees. Dit was inderdaad die moeite werd om ‘n “handelspos” hier in die tempel te begin, want die rompslomp wat die Fariseërs en Skrifgeleerdes veroorsaak het, het dit feitlik onmoontlik begin maak vir die gewone man om in die tempel te kom aanbid. Dit was veral diegene wat pelgrims van ver af was, wat hard geraak was. n Klompie sakemanne het hier ‘n nis gesien wat uitgebuit kon word. Het ’n paar priesterhoofde en Fariseërs nie dalk ’n aandeel gehad in hierdie florerende saak nie? Mens wonder maar net.....

Die Jode het mos geglo dat daar geen afbeelding van enige persoon op ‘n munt mag wees nie, want dan is dit afgodery. Sulke munte durf nie in die tempel gebruik word nie. Hierdie gedagte is natuurlik deur die jare op hulle afgedwing deur die kerkleiers. Romeinse munte het die gesig van die Keiser op gehad, dus moes dit eers verruil word vir munte wat nie sulke afbeeldings op het nie, soos byvoorbeeld die geld wat in Tirus gemunt is. Natuurlik het die geldwisselaars hier ‘n vet profyt gemaak.

Boonop het baie mense wat kom offer het lang afstande moes aflê om by die tempel te kom, en dit was nie prakties om diere saam te bring nie. Slegs die beste gehalte diere mag geoffer word, en as jy vir ’n week lank ’n dier aangekarwei het, begin hy al baie vaal lyk. Die priesters sou so ‘n verlepte skaap nooit as offerdier aanvaar nie. Dus was hier ook ‘n goeie mark om diere te voorsien om geoffer te word, natúúrlik teen ‘n prys!

Waar sou jy dan nou ook ’n beter plek kon kry om ’n stalletjie op te sit om hierdie handelsware te verkoop as reg in die Tempel se voorhof? Dan hoef die moeë reisiger mos nie eers te gaan rondsoek elders vir ’n offerding nie. Lammers en duiwe wat as offerdiere moes dien, het dus ’n gereelde gesig geword in die tempel. Mense is liederlik uitgebuit, en dit nogal in die tempel se voorhowe. In plaas daarvan dat die tempel die plek is waar God aanbid word, het dit in ‘n rowersnes verander! Dit dui presies aan hoedanig die Jode se gesindheid geword het, en natuurlik het die kerkleiers hierdie dinge goedgekeur. Dalk het hulle sélf ook ‘n vet kommissie hieruit gekry?

Wil ek hiermee probeer sê dat ‘n kerkgebou ‘n heilige plek is waar dit te alle tye doodstil en stemmig moet wees? Inderdaad Nee! Kyk maar wat Jesus hier gedoen het: Nadat Hy hierdie spul handelaars uitgesmyt het, het Hy nie op ‘n hopie gaan sit en peins nie, maar Hy het begin om siekes gesond te maak. Veral blindes en kreupeles het na Hom toe gestroom. Daar het ‘n lang tradisie ontstaan uit Dawid se tyd, dat gebreklike persone soos kreupeles en blindes nie in die tempel mag inkom nie. Daarvan lees ons in 2 Sam. 5:8. Hierdie arme mense is met ander woorde alle reg om in die tempel te mag aanbid ontneem. Met Jesus se aksie maak hy nie alleen hierdie mense gesond nie, maar Hy gee hulle ook die geleentheid om vir die eerste keer weer te kan aanbid in die tempel.

Ons moet onthou dat die tempel in Jerusalem die simbool was van God se teenwoordigheid in Israel. Om ‘n rowersnes daarvan te gaan maak is ‘n klap in God se gesig. ‘n Kerkgebou het uiteraard vandag nie meer dieselfde betekenis nie. Die gebou as sulks is nie heilig nie, want dit is bloot ‘n dooie gebou. Dit behoort egter ‘n “werkswinkel” te wees waar kinders van God opgelei word om ‘n sinvolle dankbaarheidslewe te leef. Dit moet ook vir die wêreld daar buite ‘n simbool wees van God se liefde, want die mense wat uit hierdie gebou stap moet Sy liefde op ‘n sigbare en praktiese manier gaan uitleef deur om te gee vir almal waarmee hulle in aanraking kom.

Jesus se handeling daardie oggend in die tempel het die kerkleiers hulle wenkbroue laat lig. Binne in hulle het dit gekook! Maar toe kom die kersie op die koek: ‘n horde kinders, wat waarskynlik vroegdag al gesien het hoe die grootmense op pad na Jerusalem Jesus se lof toesing, sien nou hierdie wonderwerke voor hulle oë afspeel. “Prys die Seun van Dawid!” jubel hulle dit nou kliphard uit, totdat die soet klanke van kinderstemmetjies weergalm deur die tempelgange. Die kerkleiers is geskok tot in hulle klipharde fondamente! “En dan laat Hy die kinders nog toe om dit te doen! Hoe kan Hy……” brom hulle onder mekaar. “Hoor Jy wat hulle sê?Hulle is bitter verontwaardig!

Inderdaad het Jesus gehoor wat die kinders sing. Uit die pragtige loflied, Psalm 8, haal Jesus dan ook vir hierdie beswaarde manne aan dat God daarvoor gesorg het dat kinders en suigelinge Sy lof besing. As die kerkleiers dit dan nie wil doen nie, sal diegene wat verwerp is en wat as niks gereken word, Jesus verheerlik vir Wie Hy waarlik is.

Ek en jy is die “kinders” wat die soet klanke van God se lof uit ons kerkgeboue moet laat weergalm oor die wêreld. Nie alleen met ons stemme nie, maar met praktiese liefde wat menseharte oorrompel.

Gebed:

Here, gee my asseblief vandag die ywer en insig om U liefde prakties uit te leef en uit te jubel sodat ek die soet geur van U groot genade kan versprei.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026