Handelinge 27:13-44
Het jy al ooit ‘n groot taak aangepak sonder om die nodige navorsing te doen of te luister na goeie raad? Wanneer dit klaar te laat is, kom jy gewoonlik eers agter dat dit ‘n reuse fout was! Dit het al menige maal met my gebeur! En dan wil ek myself skop omdat ek nie geluister het toe iemand my gewaarsku het nie. Dan kan ek skreeu omdat ek nie vooraf my huiswerk gedoen het, en al die gevolge behoorlik geweeg het nie.
Na hulle nagmerrie-vaart om Kreta, word Paulus een oggend in Mooihawens se hawetjie wakker met ‘n ligte suidewindjie in sy hare. Paulus waarsku die kaptein dat hulle hier moet bly, anders vaar hulle ‘n ramp tegemoet! Maar nou is die briesie so mooi, en die kaptein besluit om Paulus se waarskuwings te ignoreer en tóg maar langs die kus van Kreta af te vaar. Hy weet van ‘n ander, beter hawe aan die westekant van Kreta, ’n plek met die naam Feniks. Alles gaan voor die wind, maar dan begin die wind noordoos draai. Kort voor lank word hulle ergste nagmerrie waar toe die gevreesde Noordoos hulle skippie soos ‘n kurkproppie die diepsee begin inwaai.
Totaal buite beheer word hulle rondgeslinger totdat hulle genadiglik agter die eilandjie Kauda ingesmyt word. Hier kon hulle darem vir ‘n kort rukkie asem skep in die beskutting van die eiland. Hulle het daar darem genoeg tyd gekry om weer op 'n manier vir die storm voor te berei. Die reddingsbootjie wat agter die skip aangesleep het, word ingetrek en leeggeskep. Hulle span ook toue onder om die skip se buik om te keer dat hulle skip uitmekaar geruk word. ‘n Dryfanker word uitgegooi om die verbysterende vaart waarmee die storm hulle voortgedryf het ‘n bietjie te probeer versag. Maar dan is hulle tyd op! Die beskutting van die eiland is verby en hulle gee hulle hulleself maar oor aan die genade van die storm!
Daar was 276 mense aan boord van hierdie vragskip, 276 bitter bang mense! Hulle kon al sien hoe hulle “skuitjie” deur die geweld van die storm uitmekaar geruk word. Die skeepsvrag word oorboord gegooi om hulle darem so ‘n buitekansie te gee, en later ook al die oorbodige takelwerk en apparaat. Die dag word nag, ‘n nag sonder sterre. Daar is geen manier waarop hulle die nodige navigasie kon doen nie (onthou, hulle het nie ‘n GPS gehad nie!) En toe die son die volgende oggend moes opkom, was daar net swaar, swart wolke, en steeds die angswekkende storm. ‘n Week later is daar steeds geen einde aan die verskrikking nie, en die manne verloor alle hoop om ooit weer gered te word. Die einde is in sig! Hulle kos is op, en wie kan in elkgeval eet as jy so woes rondgeskommel word! Die week word twee weke. Twee bitter lang weke van nagmerrie op rondgeskommelde nagmerrie.
Een oggend roep Paulus die bedremmelde seevaarders bymekaar. Eers tik hy hulle oor die vingers oor hulle nie na sy waarskuwings wou luister nie, maar nét daarna bemoedig hy hulle weer. Hy verseker hulle dat nie een van hulle sou omkom in hierdie storm nie! Ja, die skip sou wel vergaan, maar elke siel op die skip sou gered word. Paulus sê dat ‘n engel hom daardie nag ‘n boodskap kom bring het, en hom hierdie goeie nuus meegedeel het. Paulus moes nog eers voor die keiser verskyn! Sy aardse taak was nog nie afgehandel nie, en dus word sy lewe gespaar, en so ook almal saam met hom.
In die donkerste uur is dit dikwels die gelowige se taak om ‘n liggie te wees vir die mense rondom hom wat sonder hoop is. Ek en jy kan ‘n verskil maak met ‘n helder, positiewe uitkyk op die lewe in ‘n tyd van krisis. Ons moet aktief soek vir die positiewe in ‘n negatiewe situasie en ons daarin verbly. Sodoende kan ons almal rondom ons positief beïnvloed.
Om vir twee weke lank hulpeloos in ‘n storm rond te dobber op die Adriatiese see, iewers tussen Balkan en Italië, is géén grap nie. Maar uiteindelik is daar land in sig. Die diepte van die see word getoets, en inderhaas word ankers uitgegooi om te keer dat die skip nie op die rotse loop nie. Paulus vat ‘n stuk brood, dank God daarvoor en eet dit. Dan moedig hy die ander aan om ook iets te eet - daar lê vir hulle ‘n harde tyd voor! Die koringvrag word oorboord gegooi om hulle darem ‘n buitekans te gee om die strand te bereik, en toe word die ankertoue afgekap sodat die skip na die eiland toe kon dryf.
Die skip tref egter ‘n sandbank, en word uitmekaar geslaan deur die golwe. Die soldate wou al die gevangenes, Paulus inkluis, doodmaak, sodat niemand sou ontsnap nie. Die bevelvoerder red hulle egter uit dankbaarheid vir wat Paulus gedoen het. Desperaat spring almal oorboord en swem vir die land. Party moes aan stukke plank vashou om nie te versuip nie, maar uiteindelik kom elke siel wat aan boord was veilig aan land, meer as ‘n duisend kilometer van waar hulle vir die eerste keer deur die storm getref is. Paulus se voorspelling het waar geword. En weereens het die Here hom gered van ‘n gewisse dood, want Paulus se taak was nog lank nie afgehandel nie.
Gebed:
Dankie Here, dat U vir my as gelowige hoop gee, selfs in bitter swaar tye. Help my asseblief om daardie hoop sprankelend oor te dra na almal met wie ek in aanraking kom, om sodoende U wonderbare lig uit te dra.