Lukas 8:22-25
Dit vat aan 'n man om dag na dag skares van duisende-der-duisende mense te beheer en te luister na al hulle kranklikhede. As die Meester dan vir jou vra of daar 'n kansie is dat julle oor die see kan gaan vaar, dan gryp jy dit met albei hande aan! Simon is mos nie verniet 'n visserman nie en hy ken mos nie verniet hierdie see van Galilea soos die palm van sy hand nie!
“Meester, wanneer gaan ons?” Simon is sommer dadelik opgewonde.
“Sommer vanoggend nog.”
Simon los alles nét so en hardloop af strand toe om sy boot gereed te kry vir die tog. Hy is nou wel nie baie opgewonde oor hulle bestemming nie want Jesus het gesê dat hulle na die anderkant van die see gaan na die land van die Geraseners, 'n land van heidene. Hy voel nou nie juis lus vir die klomp heidene nie!
Wanneer Simon die skuit gereed het, kom klim Jesus en die ander elf manne in. Die Meester is uitgeput en Hy gaan lê dadelik op een van die bankies. Sommer gou is Hy aan die slaap. Simon glimlag: “Ja, ek het dalk hard gewerk die afgelope tyd, maar my Meester het tienkeer so hard gewerk! Ek gun Hom hierdie welkome slapie.”
Die see is so glad soos 'n spieël wanneer hulle die strand verlaat. Weldra seil hulle rustig voort in die diepsee en Simon begin sommer terugverlang na sy ou vissersdae. Ja, dit was lekker tye, maar daar is nou soveel meer arbeidsvreugde. Elke dag sien hy hoedat sy werk 'n verskil maak in mense se lewens. Eintlik doen Jesus al die werk, maar sonder hulle manne sou Jesus se hande letterlik afgekap gewees het.
Skielik klap die boot se seil soos 'n rukwind daaraan pluk. Verskrik kyk Simon op, hierdie see is verskriklik onvoorspelbaar! Die een oomblik is dit nog die kalmte vanself en binne minute verander dit in 'n kookpot. Hy hoop nie hulle gaan vandag moeilikheid optel nie!
Wanneer die seil 'n tweede keer klap, dan wéét Simon dat hier gróót moeilikheid kom. Daar is nie nou meer omdraaikans nie, hulle is al net te vêr die see in. Nou sal hulle maar moet vasbyt. Die ander vissermanne in hulle groep kyk vraend na Simon: “Dink jy......?”
Simon knik sy kop: “Ek voel dit aan my bas, vandag gaan ons harde klippe kou!”
“Kêrels, nou moet almal saamwerk,” blaf Simon as harde rukwinde die bootjie begin rondskommel. “Al die los goed moet vasgemaak word. En pasop dat julle nie die Meester wakker maak nie!”
Binne minute verander die kalm see in 'n malende kookpot met reuse branders wat dwarsoor die boot slaan. Sommige van die manne skree van angs, want hulle is nie sulke storms op see gewoond nie. Simon en Andreas en die ander vissermanne bly kalm, want hulle was al tallemale hierdeur. Maar tot sy ontsteltenis sien Simon dat hierdie storm net erger en erger raak totdat dit uiteindelik so erg word soos wat hy dit nog nooit beleef het nie. Die manne klou om lewe en dood aan die mas vas en kort-kort word een losgeruk deur die geweld van die storm.
Reuse branders wat lyk asof hulle hoër as die boot se mas is, storm op hulle af en wanneer dit oor hulle breek, voel dit asof hulle wil versuip.
Selfs die onverskrokke Simon is doodbang. Hy sien al hoedat hulle vandag almal hier versuip! En deur dit alles slaap Jesus soos 'n baba......
Dan strompel hy oor na Jesus toe en hy gaan skud hom wakker: “Meester, Meester ons is gedoem, ons vergaan!”
Kalm staan Jesus op. Hy strek sy arm uit oor die see en sê eenvoudig: “See, wind, bedaar!”
Oombliklik gaan lê die wind en die golwe word kalm.
Simon se mond val onbeskaamd oop. Hy kan nie glo wat hy sien nie. Hier klou hy nog krampagtig vas aan die mas, maar daar is géén wind en géén golwe nie.
Jesus draai om na die windverwaaide, stomgeslane druipnat manne: “Waar is julle geloof dan?” lag Hy.
Die manne kyk vraend na mekaar: “Wie is Hy tog werklik?” Tot nou toe het hulle nog maar “gewone” wonderwerke gesien. Maar hierdie een gaan alle verstand te bowe! “Géén mens kan dit doen nie! Om die wind en die water te beveel en hulle gehoorsaam..... wie ís hierdie Meester van ons?”
Die res van die reis tot by die land van die Garaseners verloop in doodse stilte en sonder enige voorval. Elkeen is verstrengel in sy eie gedagtes. “Wie is hierdie Jesus éintlik?”
Vandag vra ek en jy ook soms die vraag: “Wie is hierdie Jesus éintlik?”
En dan is die enigste antwoord wat ons daarop kan gee: “Hy is die Messias, die Eniggebore Seun van God. Hy is die Skepper. Hy is die Almagtige God!”
Dit is totaal onverstaanbaar dat daar nog mense kan wees wat dit kan betwyfel. En nét so onverstaanbaar dat daar mense is wat Jesus beskou as 'n “Speelmaatjie”. Dit is Godslasterlik. Kom ons eer Hom vir Wie Hy werklik is.
Gebed:
Here Jesus, ek aanbid U want U is die enigste ware God!