Die Stem uit die Woestyn

27 July, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Stem uit die Woestyn

Markus 1:1-8

VIDEO * OUDIO

Iewers uit die woestyn het hierdie vreemde man net eendag opgedaag. Almal het hom grootoog aangestaar en met fluisterstemme oor hom gegis!

“Het julle hom gesien? Sy klere - ek gril my dood as ek sulke rowwe goed moet dra!”

“Hulle sê hy is glo ‘n regte, egte profeet!”

“Aag dis sommer bog man! Israel het in honderde jare nog nooit ‘n profeet gehad nie. Hulle is almal lankal dood! Hoekom sal hier dan nou skielik uit die niet ‘n profeet verskyn?”

“Nee rêrag! Hierdie ou lýk nie net soos ‘n profeet nie, maar hy klínk ook so!”

“Hy verdwyn glo elke aand weer in die woestyn in. Niemand weet waar hy bly nie. Dalk is hy ‘n kluisenaar!”

“Hy’s beslis baie vreemd! Iemand vertel my dat hy met sy eie twee oë gesien het dat die man sprinkane eet, en dan doop hy dit nogal in wilde heuning! Jiggie! Ek gril my dood! Hoe kan enige mens so leef?”

“Van wie praat julle?” Andreas het so pas die kringetjie betree, en nou is hy baie nuuskierig.

“Daardie wilde kêrel met die woeste hare en die lang baard daar onder by die Jordaanrivier. Sy naam is glo Johannes.”

“Ja, hy’s glo nes ‘n krokodil - sleep almal water toe!”

“Om wat te maak?”

“Hy dóóp hulle! Bid jou aan, ‘n dopende profeet!”

“Dáái spektakel wil ek vir myself sien. Kom, kom ons gaan kyk!”

Al skertsende stap die groepie af na die Jordaan. Van ver af sien hulle al hoe die mense saamdrom - daar is letterlik honderde mense wat saamkoek om iemand.

“Bekeer julle!” klink ‘n groot stem iewers uit die skare op. “Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe!”

Andreas besluit dat as hy hierdie Johannes-profeet te siene wil kry, dan sal hulle gou moet maak, want van oral af stroom daar nog mense daarheen, en die skare groei aan teen ‘n ontstellende tempo.

“Kom kêrels, ons moet gou maak!”

Andreas wurm hom tussen die mense deur - hy móét net eenvoudig hierdie man te siene kry.

“Wag vir jou beurt!”

Andreas hou hom doof, en hy druk deur. Op die wal van die Jordaan staan die wilde man skielik voor hom. Andreas skrik hom yskoud as die “profeet” hom reguit in die oë kyk. ‘n Profeet is hy beslis! Hierdie man is presies nés Pa altyd vertel het van profete, rof en verwilderd. En dan dáárdie leergordel om sy heupe wat so pertinent uitstaan. Is hierdie nie dalk die Messias waarvan almal so praat nie?

Dit is asof Johannes sy gedagtes lees. Dit voel vir Andreas asof die man regdeur hom kyk as hy met ‘n growwe stem uitroep: “Ná my kom Hy wat sterker as ek is. Ek is nie eers werd om te buk en die riempies van sy sandale los te maak nie. Ek het julle met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.”

“Van wie praat die man?” wonder Andreas. “Gaan daar dan nóg ‘n groter profeet as hierdie een kom?”

Johannes kyk Andreas reguit in die oë – nou is sy growwe stem sag en vol deernis: “My seun, wil jy jou laat doop?”

Andreas voel bitter ongemaklik. Hy stotter amper onhoorbaar: “Ek… ek w-weet nie…..”

“Kom my seun, bekeer jou. Laat los al jou sondes. Die profeet Jesaja het gesê: Al was julle sondes soos skarlaken, dit sal word soos sneeu. En al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.”

Andreas wil omdraai en weghardloop, maar hierdie man se blik hou hom vasgevang. “Laat los jou sonde, en laat jou doop!” Die man se woorde eggo deur sy hele wese.

Dan neem hy die besluit: “Ja, ja goed…...”

Andreas sweef op ‘n wolk. Hy kan nie glo dat hierdie ding met hom gebeur het nie. Hy, ‘n geharde visserman, het hom laat ompraat om gedoop te word! “Wat gaan ouboet Simon hiervan sê? Hy gaan ontplof as hy hoor wat ek aangevang het!”

“Ek het julle met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.” Die profeet se woorde maal deur Johannes se gedagtes. “Wie is hierdie Persoon tog waarvan Johannes praat?”

Vir die Jode was die woestyn nie alleen ‘n onherbergsame woesteny nie, maar ook ‘n plek van voorbereiding, waar God mense toerus vir ‘n groot taak. Johannes het inderdáád ‘n reuse taak op hande gehad. Maar sy kleredrag moes die mense ook herinner aan die profeet Elia. Die Jode het verwag dat die Messias se koms voorafgegaan sou word deur ‘n profeet soos Elia. Nou was alles gereed, die “profeet Elia” het gekom, en nou kon die langverwagte Messias maar na vore tree......

Vandag sê Markus vir my en jou dat Jesus se koms die héél grootste gebeurtenis in die geskiedenis was. Die verbond met Adam, Noag en Abraham was wél groot hoogtepunte. Hulle was egter almal klein in vergelyking met die koms van die Messias, wat alreeds voorspel en beplan was tydens die sondeval in die paradys. Vandag is daardie gebeurtenis 2000 jaar gelede ook die hoogtepunt in elke gelowige se lewe. Kan jy ook só opgewonde raak daaroor soos wat Johannes daardie tyd was?

Gebed:

Here, dankie dat U ook vir my ingesluit het in U groot raadsplan - dat daardie gebeurtenis 2000 jaar gelede ook vandag vir my vars en nuut en aktueel, en die grootste gebeurtenis in my lewe is.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026