2 Tessalonisense Inleiding
Dit is Septembermaand 2008. Die droogte in die Laeveld is hartverskeurend. Waar ek op my stoep sit en skryf, is die toneel voor my ‘n digte doringveld, deurspek met rooibos, knoppiesdoring, blinkblaar wag-’n-bietjie, rosyntjiebos, sekelbos en maroela. Gewoonlik kan jy nie veel verder as dertig of veertig meter sien nie, want tussen hierdie byna ondeurdringbare bos staan die gras, bossies en veldblommetjies geil. Nou kyk ek egter deur ‘n woud van kaal stamme en bome sonder blare, en jy kan elke beweginkie in die veld sien tot daar ver in die verskiet. Kaal, sonverskroeide grond vervang die eens-wuiwende grasveld.
Maar ten spyte van die knellende droogte is die veld steeds jubelend. En die voordeel is, dat jy elke siel op twee of vier pote kan sien. Die ses- en agtpotiges is minder sigbaar. As ek my oë so oor die veld laat gaan, sien ek in byna elke oop kolletjie ‘n tarentaal. Die veld lewe letterlik van hulle. Het jy al mooi gekyk na hierdie veervolkies? Hulle lyk vir my nes waardige ou tantes met kuis, lang rokke wat toegeknoop is tot onder die ken. En hulle dra sulke koddige blou hoedjies en swart sykouse. ‘n Troppie van die opstêrs tannies skrop-skrop ’n entjie van die huis af. Ek gooi ‘n handvol mieliepitte voor die stoep. Hulle loop eers baie skugter ‘n wye draai, maar een van die kolletjieshoenders besluit dat honger swaarder weeg as gevaarlike mense, en sy hardloop reguit mielies toe. As haar maters sien dat hulle dalk gaan uitmis op hierdie feesgeleentheid, storm hulle soos een man (vrou?) op die maaltyd af, natuurlik baie luidrugtig, want hierdie nasie hóú van gesels. Die kakofonie wat losbars rondom die etenstafel, is 'n bostelegraaf, en oral uit die bos slaan stofstrepies op van nóg ongenooide feesgangers. Voordat jy kan sê: "Mieliepit!" wriemel dit van veertig tarentale voor my stoep. Ek kraai van pure lekkerkry.
Ja, ek wil gerieflikheidshalwe nie weet van die swaarkry van die diere nie, en die karkasse wat reeds oral lê nie. Ek wil net die mooi en die lekker raaksien. Ongelukkig moet ‘n mens soms ook die swaarkry sien en waardeer waardeur hulle gaan.
Die slim mense sê dat ‘n leraar een van die mees stresvolle beroepe het. Maar dit lyk dan so 'n rustige ou werkie! Hy werk net Sondae, en die res van die week sit hy basies en niksdoen....... Die feit is egter dat ons dalk nie wil weet wat sy beroep werklik behels nie. As ons byvoorbeeld gaan kyk na Paulus se lewe, dan sien ons iemand wie se toewyding aan sy roeping en taak as getuie van Jesus Christus aangrypend en besielend is, al is hy ook dikwels deur mense, veral mede-Christene, diep teleurgestel. Jy sien egter ook dat om die blye boodskap van Christus se verlossing te verkondig en te leef, hoë eise stel aan elkeen wat dit doen. Ek dink elke leraar sal hiervan kan getuig, want Sondag se preek is die “lekker” deel van sy bediening. Min mense sien raak wat agter die skerms gebeur. Die talle probleme wat hy moet probeer oplos kan aan hom vreet. Donker geheime wat mense dikwels met hom deel, mag hy met niemand anders bespreek nie, en dikwels dra hy swaarder aan daardie mens se laste as wat die gemeentelid self dra. Dit is dikwels ‘n bitter eensame lewe wat hy lei, want hy moet die front opsit van iemand wat stralend gelukkig en sonder sorge is, terwyl hy ander mense se geheime wat so verskriklik swaar op sy hart lê, met niemand mag deel nie. Dan is daar dikwels ook die talle beskuldigings wat na sy kant toe geslinger word, dikwels uit onkunde, want mense sien nie wat sy dagtaak behels nie. Maar dan, daardie wonderlike “hoog” wat hy beleef wanneer ‘n verlore siel vir Jesus as Verlosser vind. Dan is al daardie swaarkry vergete!
Inderdaad is dit nie alleen leraars wat met sulke probleme te kampe het nie. Elke gelowige wat sy Christenskap uitleef sal met hierdie dinge te doene kry. As ons die boek 2 Korintiërs lees, word ons as moderne, voortsnellende mense herinner om meelewend en sensitief te wees met mekaar se omstandighede. Iemand anders se nood en behoefte moet nie net teoreties bejeën word nie maar prakties so ver moontlik opgelos word. Inderdaad het Christen-gelowiges se omgee vir mekaar ook finansiële implikasies. Christene moet elke dag se take en pligte nakom volgens die eise van die Evangelie van verlossing. Gelowiges moet leef wat hulle in Christus geword het en doen wat hulle bely. Dit vra dissipline, toewyding en lojaliteit en beslis nie onderkruipery, magsmisbruik of om mekaar te beskinder vir eie gewin nie. 'n Evangeliese lewenspraktyk vind sy drakrag in ’n toegewyde geloofsverhouding met die lewende Here. Maar gelukkig is 'n Christen se lewe nie net swaarkry nie, want die mooi wat daarmee saamgaan, en die inspirerende dinge en die wonderlike beloftes wat die Woord ons bied, en die troos van die Heilige Gees en gemeenskap met ons Verlosser, Jesus maak op vir al die swaarkry.
Ek nooi jou uit om saam met my hierdie inspirerende boek van Paulus te beleef en die heerlike geloofswaarhede hierin te ontdek.
Gebed:
Here, leer my asseblief om met groot deernis en empatie na my mede-gelowige te kyk.